Wittenberg is ’n plek van historiese hoogtepunte.
Op 31 Oktober 1517 kap Martin Luther hier sy 95 stellinge vas teen die deur van die kasteelkerk. Hy het dit veral teen die pous se gewaande gesag en sy misbruik van mag en die wyse waarop die kerk God se genade vir alle mense aantas.
En op 5 Julie 2017, in Wittenberg, hou die wêreldkerk as ’t ware asem op wanneer vier van die grootste kerklike strominge ’n ooreenkoms teken waarin hulle saam bely dat God se genade die enigste grond vir ons verlossing is.
Die dramatiese gebeurtenis van 5 Julie 2017 is ingelui deur die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (met 129 lidkerke wat 80 miljoen lidmate verteenwoordig) en die Lutherse Wêreldbond wat ’n ooreenkoms teken wat sê dat daar nou geen substantiewe teologiese verskille meer is wat die twee teologiese strominge uitmekaar behoort te hou nie. Die twee strome behoort ineen te vloei en een beweging te word.
Tydens die reformasie het die paaie van die volgelinge van Martin Luther, die leier van die Duitse reformasie en Ulrich Zwingli, die leier van die Switserse reformasie, natuurlik geskei. Hulle meningsverskil het gehandel oor die wyse waarop Christus in die nagmaal teenwoordig is.
Daar was ook later groot meningsverskille oor Luther se sogenaamde twee-ryke leer, die ryk van God en die ryk van die wêreld. Johannes Calvyn en sy ondersteuners daarteenoor het onwrikbaar geglo daar is net een ryk – die ryk van God. Elke vierkante sentimeter behoort aan die Here.
Calvyn se leer van God se voorsienigheid het ook baie Lutherane se wenkbroue laat lig. Die oortuiging dat goed en swaar, vreugde en pyn, uit die hand van die Here kom, was vir sommige net te moeilik om te aanvaar.
Biblioteke vol boeke is sedert die 16de eeu geskryf oor die teologiese verskille tussen Lutherane en Calviniste. Uiteindelik, op 5 Julie 2017, kondig die twee strominge aan dat hulle hulle groot geskille bygelê het. Ons staan op dieselfde teologiese grond. Dit is ’n buitengewone moment in die geskiedenis van die protestantisme.
Maar, asof die ondertekening van hierdie ooreenkoms nie genoeg is nie, kom die internasionale kerk in dieselfde erediens weer ’n slag tot stilstand. Dis amper te veel om te verteer. Die Lutherane en Gereformeerdes, die Metodiste en die Katolieke Kerk teken op dieselfde dag ’n dokument oor die leer van regverdiging.
Vyfhonderd jaar tevore was die wyse waarop mense die ewige lewe bekom, die oorsaak van ’n revolusie. Duisende lewens is opgeoffer. Die waarheid van die evangelie was op die spel. Martin Luther se lees van Romeine 1:17 het ’n aardskuddende omwenteling ingelei. ’n Mens word sonder verdienste gered op grond van God se genade, en jy ontvang die vryspraak alleen deur geloof. Alleen genade en alleen geloof red.
Die ondertekening van ’n gesamentlike verklaring van hierdie kerklike strominge oor die leer van regverdiging is dus van groot teologiese en kerklike belang. Die handtekeninge getuig natuurlik van diepgaande voorbereidende gesprekke en werk wat gedoen is. Dit getuig van eerlike worsteling en diepe selfondersoek. Dit getuig van ’n groeiende besef dat gelowiges mekaar nodig het. Dit getuig van die wêreldkerk se erns met sy getuienis. Eenheid en getuienis het immers alles met mekaar te doen.
Elke erediensganger in Wittenberg wat die omvang van die gebeure verstaan het, het asem opgehou toe die Katolieke biskop naderstaan om te teken … so onder die wakende oë van die 1 000 afgevaardigdes van die gereformeerde kerke van oor die wêreld.
En om alles te kroon is die Mennoniete en verteenwoordigers van Episkopaalse Kerke ook daar om in hulle gelukwensinge hulle behoefte te betuig om deel te wees van die proses tot groter eenheid.
En toe lees die Roomse biskop ’n skitterende brief van versoening van Pous Franciskus. En selfs meer betekenisvol as die inhoud van sy brief is die slot daarvan: “From the Vatican, Francis.” Niks van die “Pontif” of “Pope”, of “Hoof” of wat ook al nie. Hy skryf vir die Gereformeerdes en Lutherane en Metodiste sommer net sy naam. Want hy verstaan waarskynlik hulle verset teen enige pous en hoof, anders as Christus, die Hoof.
En op ’n manier verklank dit sy eie lewenstyl van dienskneg-wees van die armes en verstotenes, dié titelloosheid. En hy begin dalk selfs iets verklank van die ander solas van die reformasie, sola Scriptura en solus Christus.
Die vraag is natuurlik nou wat die implikasies van hierdie reuse-Wittenberg-gebeurtenis is vir die eenheid van die kerk in Suid-Afrika. As die wêreldkerk soveel brûe kan bou, kan gereformeerdes en hervormers en presbiteriane en kongregasionaliste en wie ook al wat oor sovele sake eenders bely, nog elkeen in hul eie orde en strukture kerk wees?
En die susterskerke, en die drie Afrikaanse kerke en die Lutherse Kerk? As die wêreldkerk diepgaande teologiese verskille kan oorkom, kan ons seker ook ons sake uitsorteer, ter wille van ons getuienis oor die veranderende krag van die Heilige Gees wat aan die kerk sy lewe gee.
Ons land roep vir ’n nuwe beliggaamde getuienis vanuit die kerk. Die grond is voorberei.
▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.