Kerk en hof: só lyk die situasie nou

Gerugte van ’n moontlike hofsaak deur ’n aantal lidmate teen die NG Kerk doen reeds maande lank die rondte. Op 15 Junie het dit waar geword toe dokumente by die kantoor van die Algemene Sinode afgelewer is waardeur die lidmate die Hooggeregshof in Pretoria nader met die versoek om die besluite van die Algemene Sinode van 2016 ter syde te stel. Hier is ’n oorsig oor die situasie waarin die kerk haarself nou bevind.


Die aanloop

In Oktober 2015 neem die Algemene Sinode van die NG Kerk ’n aantal besluite oor selfdegeslagverhoudinge wat ’n nuwe koers vir die kerk aandui.

Dit sluit in dat die kerk burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag erken, dat predikante wat daartoe bereid is, sulke verbintenisse mag bevestig, en dat predikante in sulke verbintenisse predikante van die NG Kerk mag wees.

Die besluite laat ook die ruimte vir kerkrade, ringe en sinodes om hulle eie stand­punte hieroor te formuleer.

Dié besluite het onmiddellik ’n storm van protes uit dele van die kerk ontlok. Be­sware op teologiese en prosedurele gronde, onder meer in die vorm van appèlle, is na die Algemene Sinode se kantoor gestuur.

Die Algemene Sinodale Moderamen, op advies van die Algemene Taakspan Regte en regsadvies wat deur die ATR voorgelê is, reël toe in November 2015 dat die appèlle die uitvoering van die besluite opskort.

Dit ontlok weer dadelik protes van die ander kant af, onder meer in ’n brief van 65 lidmate, onder wie talle teologiedosente van die kerk, aan die ASM.

Van vroeg af word aangevoer dat die appèlproses as sodanig ongeldig is omdat die Kerkorde bepaal daar moet na ’n meerdere vergadering geappelleer word, en daar nie ’n meerdere vergadering tot die Algemene Sinode is nie.

Daar is daarop gewys dat daar reglemente is wat ’n prosedure vir appèlle teen besluite van die Algemene Sinode uitspel, maar beswaardes het aangevoer dat dié reglemente ongeldig is, omdat dit in stryd met die Kerkorde self is.

Deur die loop van 2016 het verskeie regsopinies van senior advokate op die kerk se tafel beland. Dr André Bartlett en dr Carin van Schalkwyk het ’n regs­opinie na die ASM gebring wat meen die appèlproses is ongeldig. Daarby het ’n groep van 11 lidmate ’n regsadvies gestuur met dieselfde gevolgtrekking. Die ATR het hul eie regsopinie gekry van ’n advokaat wat gesê het die appèlproses is ’n “nulliteit”, dit wil sê dis regtens ongeldig.

Na aanleiding daarvan het die ASM in September 2016 die opskorting van die besluite van 2015 herroep en ’n buitengewone Algemene Sinode byeen ge­roep. Lidmate wat appèlle ingedien het, is gevra om dit om te skakel na beswaarskrifte, maar die appèlproses self is nie herroep nie.

Die groep van 11 het later nog ’n regsadvies na die Algemene Sinode se kantoor gestuur, ook met die strekking dat die appèlproses ongeldig is.

In die week voor die buitengewone Algemene Sinode het ds Nelis Janse van Rensburg en lede van die ATR ’n advokaat gespreek wat ook aangedui het dat die appèlproses ongeldig was.

Die oggend voor die Buitengewone Algemene Sinode begin het, het Janse van Rensburg egter gehoor dat die ATR besluit het om nié dié advies te volg nie, maar die appèlproses tog as geldig te aanvaar.

Intussen het die appèlliggaam van sewe lede, wat deur die ATR saamgestel is uit mense wat nie by die 2015-sinode was nie, die appèlle in camera gehanteer en ’n appèl gehandhaaf. Dit het meegebring dat die besluite van 2015 nietig verklaar is.

Janse van Rensburg het dié beslissing as bindend beskou. Hy het dit as ’n gegewe aan die Buitengewone Algemene Sinode voorgehou en geen debat oor die geldigheid van die appèlproses toegelaat nie.

Die Buitengewone Algemene Sinode het daarna nuwe besluite geneem wat geen ruimte laat vir burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag nie, en daarmee ook nie vir gay predikante in sulke verhoudings nie.

Die ATR het later verduidelik dat hulle oortuig is dat hulle die regte besluit geneem het. Howe respekteer kerke se interne reëls en hulle is oortuig dat die saak volgens die kerkreg regmatig verloop het.

Die partye

Die aanvoorwerk vir die saak is gedoen deur ’n groep van 11 lidmate. Hulle is proponente Laurie Gaum, Judith Kotzé, Michelle Boonzaaier, dr Frits Gaum, ds Pieter Oberholzer, prop Hennie Pienaar, Lulani Vermeulen, adv Leon Wessels, dr Murray Coetzee, prof Hendrik Bosman, dr Chris Jones en dr Nadia Marais.

Om “logistieke redes” word die aansoek gebring deur vier van hulle: Laurie en Frits Gaum, Judith Kotzé en Michelle Boonzaaier. Hulle word pro bono verteenwoordig deur advokate Jeremy Gauntlett, Frank Pelser en Mirinda Gaum.

As respondente word genoem ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, dr Dewyk Ungerer, aktuarius van die Algemene Sinode, dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, ds Thijs van der Merwe, voorsitter van die appèlliggaam, die Algemene Sinode van die NG Kerk en die NG Kerk self.

Wat word versoek?

Die aansoekers wil hê dat die besluite van die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 ter syde gestel word sodat die besluite van die Algemene Sinode van 2015 weer die geldende besluite van die NG Kerk sal wees.

Hulle bring die aansoek op twee stelle gronde.

Aan die een kant voer hulle aan dat die proses waardeur die besluite geneem is, onreëlmatig is, onder meer omdat die Kerkorde van die NG Kerk, volgens hulle interpretasie, nie appèlle teen besluite van die Algemene Sinode toelaat nie. Dit kom daarop neer dat hulle die hof vra om te verklaar dat die NG Kerk nie sy eie interne reëls gevolg het toe hy die besluite geneem het nie, en dat die besluite wat wel geneem is, daarom ongeldig is.

Aan die ander kant voer hulle aan dat die besluite van die Buitengewone Algemene Sinode van 2016 ongeldig verklaar moet word in die lig van die Grondwet. Dié besluite, word aangevoer, skend die regte tot gelykheid, waardigheid, privaatheid en vryheid van godsdiens, geloof en oortuiging, van assosiasie en van deelname in kulturele en geloofsgemeenskappe.

Die proses

Die aansoekers se hofstukke is by die Algemene Sinode se kantoor afgelewer. Die ATR en die Moderatuur van die Algemene Sinode het die situasie bespreek en besluit dat die NG Kerk die aansoek gaan teenstaan.

Wat nou moet gebeur is dat die NG Kerk stukke moet opstel om te antwoord op die aansoek wat teen die kerk ingebring word. Normaalweg is daar dan korrespondensie tussen die twee stelle regsverteenwoordigers totdat hulle gereed is om finale stukke by die hof in te dien.

Teoreties is dit moontlik dat twee partye kan skik voordat die saak in die hof beland, maar hoe dit in hierdie geval kan gebeur, is moeilik om te voorsien.

Na verwagting sal die saak nie voor volgende jaar in die hof afgehandel kan word nie.

Wat kan ’n mens verwag?

Prof Helena van Coller van die Rhodes-Universiteit se regsfakulteit het aan Kerkbode ’n skrywe gestuur waarin sy onder meer sê as die aansoekers hulle saak voer op grond van prosedurele onreëlmatighede, dan meen sy hulle het ’n sterk saak.

As hulle egter die saak gaan voer op grond van diskriminasie, voorsien sy ’n baie moeiliker geveg.

Sy wys ook daarop dat Suid-Afrikaanse howe ’n reg erken om anders te wees. Dit geld individue, maar op grond van die reg tot godsdiensvryheid en die reg van vryheid van assosiasie ook instellings soos godsdienstige organisasies.

Volgens Van Coller moet ’n balans gehandhaaf word tussen respek vir en besker­ming van godsdienstige opvattings en praktyke aan die een kant en die beskerming van menswaardigheid aan die ander kant.

Van Coller se volledige stuk is hier beskikbaar.

Dis belangrik om te verstaan dat as die hof ’n uitspraak in hierdie saak gaan maak, dit ’n regsuitspraak sal wees en nie ’n teologiese uitspraak nie. Na afloop van die uitspraak behoort dit duidelik te wees watter interpretasie van die Kerkorde korrek is en watter besluite dan sal geld.

’n Hofuitspraak, maak nie saak in wie se guns dit gaan wees nie, sal egter nie die teologiese verskille in die NG Kerk ophef nie. Daaroor sal die gesprek in die kerk moet voortgaan totdat daar ’n konsensus of ’n werkswyse vorentoe gevind kan word.