‘Ons is Christene – ons kan saam vorentoe’

Daar was kinders wat nog nooit langs iemand van ’n ander ras gestaan en worship het nie.

So gesels ds Yolandi Kok van die NG gemeente Culembeeck aan die Wes-Rand oor die re-imagine-byeenkoms wat hulle op Jeugdag by die NG gemeente Rant-en-Dal-Prisma gehou het.

Yolandi sê sy het vroeër vanjaar die #imagine-saamtrek op Bothaville bygewoon en die gedagte dat jongmense gehelp word om vir hul­le­self ’n nuwe wêreld, ’n nuwe toekoms voor te stel, het haar aangegryp.

Sy het geweet daar is arm kinders wat nie by so ’n groot #imagine-saamtrek kon uitkom nie, en nadat sy met ander daaroor gesels het, het die idee gekom om ’n re-imagine-saamtrek aan die Wes-Rand te hou.

Toe sy met ds Wimpie Wasserman van Rant-en-Dal-Prisma gesels, was hy ook vuur en vlam.

Uiteindelik het hulle sowat 60 jongmense bymekaar gekry op die dag. Van hulle was sowat helfte wit en helfte swart of bruin – en hulle het met wyd uiteenlopende verwysingsraamwerke gekom.

Daar was wit kinders wat gevoel het hulle identiteit word bedreig, wat min van ’n toekomsverwagting gehad het. Hierteenoor het die sentimente gestaan van Black Lives Matter en swart identiteit. Jong Suid-Afrikaners wat mekaar nie verstaan nie.

En deur die loop van die dag het hulle saam ge­kuier, saam gesing en gebid, mekaar ’n bietjie leer ken en baie spontaan begin verhoudings bou.

Hande wat mekaar vashou. Vingers wat met mekaar verstrengel is. Hoop vir die toekoms.

Die sprekers het oor identiteit gepraat. Die boodskap was dat ’n mens okay kan wees tussen ander iden­ti­teite. Die jongmense het besef: “Ons is Christene – ons kan saam vorentoe.” Die Christelike identiteit wat hul­le saambind, is sterker as die wit of swart identiteite.

En op ’n manier het dié boodskap oorgekom juis in die gesamentlike lofprysing en aanbidding.

Wimpie vertel dat hy op een punt gevra het of daar iemand is wat vir hulle ’n paar verse uit die Bybel kan voorlees. Een meisie het opgestaan en gesê sy sal lees, maar sy het net ’n Xhosa-Bybel.

Hy het haar laat lees en vir die eerste keer het ’n klomp wit kinders gehoor hoe word daar in ’n Afri­kataal uit die Bybel gelees. En hoewel hulle nie die Xhosa kon verstaan nie, het die simboliek van die oomblik baie duidelik gepraat.

Dit het brûe gebou, sê Wimpie.

Hy self het met die kinders gepraat oor die moontlikheid om ’n nuwe toekoms saam te bou. ’n Plakkaat met die landsvlag het die boodskap “#BrightFuture” uitgedra.

Agterna het van die kinders gesê hulle het met dié byeenkoms niks verloor nie. Hulle het net bygekry: begrip vir ander, ’n wêreld wat verbreed het, die gedagte dat ’n nuwe toekoms moontlik is.

Daar was jongmense wat gesê het dat die bymekaar wees met ander hulle lewe verander het.

Nou is die uitdaging om die byeenkoms op te volg, om die jongmense weer bymekaar te bring om verhoudinge te verdiep, en om vir hulle leierskapsvaardighede te gee.

By dit alles was daar ’n mooi storie oor die kos. Daar is vooraf gereël met iemand wat vir etes sou sorg, maar die Maandag voor die Vrydag van die byeenkoms laat weet dié persoon hy is siek. Hy kan nie meer help nie.

Dit is toe dat Wimpie Spur se hoofkantoor kontak. Spur wat in die nuus was en onder ’n verbruikersboi­kot deurgeloop het na ’n onsmaaklike rassevoorval in een van hulle restaurante.

En sonder om te huiwer en sonder fanfare borg Spur toe die middagete vir dié byeenkoms waarop versoening die hoofdis was.