As ongelowiges tog ook na dié fliek wou gaan kyk

THE CASE FOR CHRIST
’n Pure Flix-fliek deur Jon Gunn
Met Mike Vogel, Erika Christensen, Faye Dunaway en Robert Forster

Resensie deur Frits Gaum


Ek is baie bly dat Christelike flieks soos hierdie een van tyd tot tyd op die Sterkinekor-kringloop gesien kan word. Hierdie is sonder twyfel ’n belangrike fliek met ’n goeie draaiboek en knap akteurs. Dit is die rolprentverwerking van ’n boek met dieselfde titel deur Lee Strobel wat wêreldwyd versprei is en gebaseer is op ’n ware verhaal.

Dit gaan oor ’n bekroonde joernalis op soek na die waarheid wat vir hom gelyk is aan bewysbare feite. Hy is ’n ateïs, sy vrou ook, en as sy vrou ná ’n traumatiese gebeurtenis toe hulle dogtertjie ternouernood aan die dood ontkom het, tog wel oor God en Jesus begin wonder, is hy onthuts, later selfs woedend.

Hy besluit om met vers en kapittel te bewys dat die verhaal oor Jesus en sy opstanding geen feitelike basis het nie. In die proses besoek hy wetenskap­likes, medici, sielkun­di­ges, Bybelkundiges. Dié mense maak hom net al hoe meer kwaad en verward – veral omdat hulle nie vir hom sê wat hy graag wil hoor nie. Daar kom groot ver­wydering tussen hom en sy vrou wat haar op die ou end laat doop en ’n gereelde kerk­ganger word.

Gelyklopend met sy soektog na Jesus, is die joernalis ook op soek na die “ware” feite oor ’n rooftog … en hy slaan die bal so mis dat die verkeerde man deur sy toedoen in die tronk beland. Algaande kom hy tot die besef dat hy ook in die geval van Jesus in sy obsessie oor “feite”, eintlik besig is om die waarheid mis te kyk.

Ek en die selferkende joernalis-ateïs, George Claassen, was ’n paar jaar gelede mederedakteurs van ’n boek, God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. In die boek het hy met ’n aantal nie-gelowiges gesprek gevoer oor die redes vir hulle gebrek aan geloof, en ek met ’n tiental gelowi­ges oor die redes waarom hulle glo.

Dit was ’n verrykende dog ook ontstellende ondervinding. Verrykend omdat dit vir ons as gelowiges kans gegee het om bestek op te neem van waarom en waarin ons glo. Verrykend omdat ons in die proses ook kon kennis neem van gans ander idees as ons vertroude opvattings en kon nadink oor hoe ons dit moet hanteer. Maar ontstellend omdat ’n mens die indruk gekry het dat dit vir mense wat die geloof agter hulle gelaat het, baie, baie moeilik is om op daardie spoor terug te draai. Dis nie dat hulle nie kan glo nie. Dis baie keer dat hulle nie wil glo nie.

So is dit ook met die ondersoekende joernalis in The case for Christ. Dis op die ou end sy eie eer wat op die spel is – hy wil onder geen omstandighede glo nie. Maar vir hom kom daar ’n draaipunt. Uiteindelik sien hy in dat die waarheid méér is as ’n stel feite, selfs al is hulle ook hoe goed nagevors.

The case for Christ is ’n fliek wat ’n mens laat nadink. Die jammerte is dat daar seker min ongelowiges is wat die moeite sal doen om dit te gaan kyk.