10 vrae aan Kobus Anthonissen

Dr Kobus Anthonissen se nuwe boek Dansend met die lewe: In die jeug van veroudering het onlangs by Naledi verskyn. FRITS GAUM het met hom gesels oor ouderdom, depressie en die Springbokke se kanse.


1. Wie is Kobus Anthonissen?

Ek is ’n kind van die Hantam. Die helder sterrenagte, groot droogtes, bitterkoue wintersoggende, blommeprag, stiltes en goeie mense … woon vir altyd binne-in my. Dit deurtrek my doen, late en manier van skryf. Binne my ouerhuis het twee oseane beweeg: ’n boereseun uit die omgewing wat sakeman, politikus en burgemeester geword het, was my pa, en ’n Ierse vrou my ma.

2. Jy is die skrywer van ’n hele paar boeke waarvan Luister na die Lig op die kortlys vir die Andrew Murrayprys was. Jou jongste boek handel oor die ouderdom. Waarom juis daaroor, Kobus?

My spreekkamer het tot die vorming van ’n psigoanalitiese term gelei: “Geïmplanteerde geloof”. Dit is ’n godsdienstige geloof wat soos ’n kunstand is: dit is nie lewend nie, maar net daar vir die vertoon. Dit berus op uiterlike dinge: belydenisskrifte, ideologieë wat jy in die kerk, Sondagskool en skool geleer het, op fundamentalisme met letterlike Skrifverstaan, met min innerlike energie en vreugde. Hiermee veroordeel en dood jy mense. Soos met die onlangse sinodebesluit oor gay en lesbiese mense. My boek is ’n soeke na die alternatief: ’n wedergebore lewe wat innerlike energie bied en lewensruimte aan ander verskaf. Hiervoor het ek die fase van die ouerwording gekies.

3. Oudword en ouderdom is nie vir sissies nie, of hoe?

Dit is ’n halwe waarheid. Ouderdom is Siamees. Dit is die tyd van verlies: liggaamlike en verstandelike agteruitgang, die verloor van geliefdes, aftrede, gedwonge verhuising, naderende dood en ten diepste die verlies aan ’n betekenis om te leef. My boek wil die ander waarheid vertel: Ouderdom is óók ’n tydperk van wins, dit kan ’n besonder betekenisvolle tyd word. Onthou, ons word eers wys op 60! Dat jy kan leer hoe om jonger te word, die kind in jouself kan ontdek. Die samelewing het wyse mense nodig en nie slimmes nie. Wysheid ontdek jy eers in die ouerwordende jare.

4. Wat is die boodskap wat jy met jou boek wil oordra?

Dit is ’n boek nie net vir ouerwordendes nie, maar vir alle ou­derdomsgroepe. Die belangrikste is: innerlike geluk. Die boek vertel wat innerlike geluk is. ’n Mens wat dans met die lewe. Dit kan gebeur in die ouerwordende jare. Maar dis ’n voorreg vir enige leeftydsgroep.

5. Jy het self ’n slegte tyd met depressie agter die rug. Is depressie ver­al ’n siekte van die ouderdom of kan dit ’n mens enige tyd beetpak?

Dit kan toeslaan in enige lewensfase – ook skoolkinders kan daaraan ly. In die ouerwordende jare kan dit ’n tyd van “hibernation” (winterslaap) word waar dit innerlike rus vra van ’n oorspanne program. Predikante wat in depressie verval, kan gerus hieroor nadink. Dit is ’n beroep wat aan werksdruk en aan erge skuldgevoelens onderworpe is.

6. Hoe het jy uit die greep van depressie ontsnap?

Mediese hulp het gedeeltelik misluk. Vir ses jaar was ek by vyf psigiaters met 10 minute-lange konsultasies en medikasie. Die diagnose was Alzheimer en ek is tydens sesmaandelikse besoeke geëvalueer. Hoewel dié besoeke maar bolangs was, is die regte medisyne vir depressie voorgeskryf. Uiteindelik het ek by ’n psigiater beland wat na my lewenstorie geluister het, weekliks, 50 minute lank. Geleidelik het ek uit die “slaap” ontwaak. Tans ervaar ek energie wat ek nooit voorheen gehad het nie. En die rol van my vrou – wat ses jaar lank getrou aan my gebly het met geen vooruitsig op herstel nie – kan ek nooit oorskat nie!

7. Jy is ’n (pastorale?) sielkundige. Met watter probleme het jy veral in jou praktyk te doen?

Die term “pastorale sielkundige” is uitgedien en word nie meer erken nie. Ek noem myself ’n “psigoanalitiese pastor”. My hoofprobleem in my praktyk is nie die probleme self nie, maar die probleem agter die proble­me: vir mense om innerlike insig in hulle lewenspro­ble­me te ontwikkel. Selfinsig is van die grootste be­lang!

8. Het jy vanweë die huidige situasie in die land met meer stresverwante toestande te doen as in die verlede?

Die hoofprobleem is finansies. Mense het nie geld om berading te bekostig nie.

9. Werk jy aan ’n nuwe boek?

Ja …

10. Jy was in jou studentedae ’n goeie rugbyspeler en is steeds ’n groot sportentoesias. Hoe dink jy: gaan die Springbokke die All Blacks vanjaar klop?

Uiteindelik het ons die regte kaptein, die regte spelers en ’n goeie afrigtingsopset. Ek dink veral aan Rassie Erasmus se aanstelling. Maar nes die huidige Britse en Ierse Leeus, moet ons geduld gebruik. Sukses gaan kom, maar nie onmiddellik nie.