God maak jou deel van ’n heilige “Ons”

Ek het amper vier-en-’n-half jaar lank in Suid-Korea gewoon. Alles wat ek in Korea teëgekom het, was buite my verwysingsraamwerk. Hulle het anders gelyk, gepraat, geëet en selfs anders geruik. Hulle was egter die meerderheid, die norm. Eintlik was ek “anders”.

Stelselmatig het ek die taal en kultuur leer verstaan. Een van die dinge wat my gefassineer het, is hoe min die persoonlike voornaamwoord “my” in Koreaans gebruik word. As jou ma siek is sal hulle ook nie vra: hoe gaan dit met “jou” ma nie, maar hoe gaan dit met “ons” ma.

Teen die tyd dat my Koreaans goed genoeg was om die verskynsel raak te hoor, was die kollektiewe iden­ti­teit (teenoor my Westerse, individualistiese identiteit) vir my ekstra mooi, want ek het deel van daardie “ons” ge­word. Met hulle taal en oorvloedige gasvryheid het hulle vir my, ’n “ander”, as deel van hulle “ons” inge­sluit.

Ons “ons” in Suid-Afrika is heelwat kleiner as die “ons” in Suid-Korea. In Suid-Afrika is “ons” nie homogeen nie en “ons” praat nie almal dieselfde taal nie. Daar is soveel goed wat ander anders maak dat ons baie selektief ander by ons “ons” insluit.

Die kerk is egter ’n alternatiewe gemeenskap wat teen die kultuurgode opstaan. In ’n wêreldwye tydsgees waarin “ons” maklik laer trek teen “hulle”, eis die evangelie dat die kerk ’n “ons” sal wees wat andere insluit. In ’n narsistiese selfie-era waarin tegnologie inbraak maak op kwaliteit ons-verbintenisse, eis die evan­gelie radikale gasvryheid en egte ons-belewenisse.

Francis Chan, ’n populêre Amerikaanse predikant, het onlangs op Facebook gepraat oor die redes waarom hy sy makrogemeente verlaat het. Een van die stories wat hy vertel het, was toe hy ’n oud-bendelid gedoop het, en dié was teleurgesteld om te ontdek dat die bende beter daarin was om vir hom ’n familie te wees as die kerk. Chan vertel ook dat in die makro-gemeentemodel, die gemeentelede nie hul gawes beoefen het nie maar eerder elke Sondag kom kyk het hoe hy sy gawe beoefen het.

Hierdie getuienis resoneer met my oortuiging dat die goeie nuus van Jesus vir ons tyd, dit insluit dat in Hom, ons betekenisvolle en gesonde verhoudings kan regkry. Ons gemeentes is meer as organisasies wat net goeie kwaliteit godsdienstige produkte produseer en verbruik. Ons kan die moeilike werk van mekaar liefhê regkry.

Jesus is deel van ’n “ons”. My gunsteling woord om die drie-enige “Ons” te beskryf, is die Griekse woord wat die kerkvaders gemunt het: “perichoresis“, “die dansende drie”. Die danspassies is oorvloedige weder­kerige liefde, bemoediging, sorg, kreatiwiteit en ’n verlustiging in mekaar.

In Jesus word ons deel van daardie vloei van ewige goedheid. Enige iemand wat ingetrek word in daardie kragtige beweging van die drie-enige God, kan getuig dat dit jou transformeer, dat dit jou nuutmaak. God maak jou deel van ’n Heilige “Ons”. Die beweging is ’n sirkeldans wat net groter en groter word.

Om ander aan jouself en daardie Heilige “Ons” te verbind, is deel van ’n groter beweging veroorsaak deur die oorvloedige genade en liefde van die drie-enige God.

In Korea het ek begin beleef hoe ek onlosmaakbaar deel van ander is. Dit is egter ons gemeente vandag, wat vir my, as iemand wat te anders vir kerk gevoel het, weer in hulle midde in liefgekry het. Die perichoresis-dans het my weer van “ons” laat praat in plaas van net van “my”.

Iemand het eendag vir Trevor Hudson gevra waar sy kerk is, en hy het geantwoord: “Dis moeilik om te sê, party is by die werk, ander by die skool, ander by die winkels.”

My kerk is gebroke. Hulle is totaal anders as ek. Ons verskil oor klein en groot goed. Ons irriteer mekaar soms. Ons maak mekaar soms seer. Maar hulle deel hulle lewe met my en ek myne met hulle. Dis morsig maar eg.

Wanneer ek in die oggend vroeg na die kerkgebou toe ry en ek sien hoeveel motors ry uit die buurt uit, verby die vele kerkgeboue in die buurt, wonder ek hoekom hulle nie net ín die buurt saamkom om te aanbid nie. Party mense in daardie karre is swart mense en die kerke in die buurt is almal Afrikaans. Dalk keer taal hulle.

Al sou ek eerder wou hê almal moes tuis voel om sommer in een kerk in die buurt saam te aanbid, behoort hulle tog ook aan ons. Ek word voortdurend verras oor die mense aan wie ek verbind word deur Christus se liefde vir ons.

Ds Yolandi Kok is predikant van die NG gemeente Culembeeck in die Goudland Sinode.