Verwondering

Lied 464 ( O Heer, my God …) verwoord die verwonde­ring wat ons ervaar as ons iets in die skepping as God se handewerk herken. “Die son en maan, die aarde, sterre wolke …” sing die eerste strofe. “Ek sien die veld – die bosse, berge, vlaktes …” begin die tweede.

So besing Psalm 104 ook die Here aan die hand van die skoonheid van die natuur. Job ervaar iets daarvan as God hom op ’n toer deur die skepping neem en vrae vra soos: “Het die reën ’n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?”

Die digter van Psalm 8 verwonder hom as hy opkyk na die hemel, na die maan en die sterre wat hy herken as die werk van God se vingers.

Maar dan gaan Psalm 8 verder en praat oor die mens. Nogmaals verwonder die digter hom: dat die mens ener­syds so klein is, maar andersyds so ’n belangrike plek in God se skepping inneem.

Uit ’n geloofshoek kan daar hierop voortborduur word: ’n mens staan verwonderd dat mense so kwesbaar is, so broos en soms so stukkend, maar tog ook so krag­tig kan help heelmaak as hulle kanale van God se liefde word; dat mense soveel hartseer kan beleef, maar tog ook soveel vreugde kan bring as hulle God se liefde versprei; dat mense so eensaam, geïsoleerd en bang kan wees, maar tog ook soveel rykdom in mekaar kan ont­dek as hulle vreemdelinge deur God se warmte as vrien­de verwelkom en omhels.

Dit is ’n grootse ervaring om iets van God se grootheid te beleef as ’n mens na die sterrehemel kyk, maar dit is net so ’n oorweldigende ervaring om God se liefde te herken waar God se mense dit in dade van omgee na mekaar toe uitleef.

Daaroor kan ’n mens verwonderd staan.