Pharos het Derek se baken van lig geword

Die NG gemeente Lux Mundi in Pretoria se Pharosbediening word geïnspireer deur die woorde van Paulus in Galasiërs 5:6. “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.” ISABEL BALLOT het daar besoek afgelê en vertel ’n verhaal waarin dié dade van liefde ’n groot verskil gemaak het.


“Pharos is die openbare arm van Lux Mundi,” verduidelik dr Johan Taute, een van die leraars van Lux Mundi-gemeente.

“Pharos” is uit die Grieks geneem. Die woord beteken “vuurtoring”. ’n Gepaste naam: Dié organisasie is ’n baken van lig, heling en hoop vir die plaaslike gemeenskap.

Diens word aan die gemeenskap ge­lewer deur gespesialiseerde maatskapli­ke, beradings- en ander ondersteunings­dienste aan te bied aan mense wat nood ervaar. Pharos help behoeftiges om ’n selfstandige en menswaardige bestaan te voer. Hulle stel diegene wat hulp wil verleen in staat om effektief betrokke te raak by die nood in hulle eie gemeenskap.

En hulle bou netwerke met ander gemeenskapsorganisasies soos Solidariteit Helpende Hand en Moeggesukkel om saam ’n beter toekoms te skep.

*Derek, ’n aangename en intelligente mens, ondervind hierdie ondersteuning van Pharos.

“Ek het verskeie diagnoses gehad voor­dat ek uiteindelik as bipolêr skiso-affektief gediagnoseer is,” sê hy. Hierdie toestand gaan gepaard met psigotiese simptome soos delusies of hallusinasies en ’n gemoedsversteuring wat bipolêr van aard kan wees. Met behulp van me­dikasie is die toestand nou stabiel.

Derek vertel verder. “Op ’n jeugdige ouderdom is daar gevind dat ek aan ’n tipe depressie met gepaardgaande ob­ses­sief-kompulsiewe gedrag lei. Dit het gemanifesteer in ’n obsessie met higiëne wat vir diegene rondom my baie frustre­rend was omdat hulle nie begrip daarvoor gehad het nie.”

Dit het meer dikwels as nie sleg ge­gaan met Derek. Derek het ook las gehad van psigotiese episodes. Een van die hallusinasies wat hy die beste onthou is dié van ’n hadida wat hy vir die doods­engel aangesien het. Derek was onder in­tensiewe sorg van ’n psigiatriese span.

Die selfdood van Derek se broer en die dood van sy suster en haar gesin in ’n ongeluk in ’n ligte vliegtuig het Derek erg getraumatiseerd gelaat.

In ’n stadium het dinge vir hom beter gegaan. Derek ontmoet vir *Desiré met wie hy lank uitgegaan het. Die verhou­ding was aanvanklik baie goed, maar dit het later vir haar baie moeilik geraak om die gemoedskommelinge te hanteer. Span­ning het opgebou en die huwelik het op ’n egskeiding uitgeloop. Die eg­skei­ding was vir almal betrokke baie traumaties. ’n Dogtertjie is uit die huwelik gebore.

Uit desperaatheid het Derek alkohol begin misbruik as ’n vorm van selfmedikasie.

’n Familielid het hom na Pharos verwys. In Maart 2015 het hy ’n ver ent van sy huis in die ooste tot by Pharos se gemeenskapsentrum in Jacquelinestraat 777, Garsfontein gestap. Marlene Coetzee by Ontvangs het gesien dat hy op breekpunt is. Hy het letterlik net genoeg geld gehad om kos te koop.

“Ek dink nie jy kan my help nie,” het hy vir Marlene gesê. Hy was verkeerd. Pharos kón hom help.

Die logo van Lux Mundi se Pharos-bedie­ning.

Hy het met sy storie in Annalie Taute, maatskaplike werker en vrou van dr Johan Taute, se kantoor beland. Sy het geduldig geluister. Derek kon sy verbitterdheid teenoor God teenoor haar uitstort.

Nou nog het hy soms bitterheid teen­oor God en bestook hy Hom met vrae: al die waarom-vrae oor die trauma wat hy beleef het, asook die waaroms oor sy eie toestand. Maar hy besef ook nou dat hy in God se hande is.

Annalie het hom onder meer gehelp om die probleem van alkoholmisbruik te takel.

Sy het dit ook reggekry om vir hom ’n ongeskiktheidstoelaag te reël. Hy sien haar nou een keer per week. Johan Taute het hom aangemoedig om kerk toe te gaan en Annalie gee hom takies in en om Pharos om te doen. Dit was ook belangrik dat hy weer in die gemeenskap geïntegreer moes word.

Derek dink met dankbaarheid aan Sue Heymans wat hom met vervoer gehelp het, Jan Conradie van die kosbedie­ning, en Marlene Coetzee by Ontvangs. En natuurlik Annalie en Johan Taute.

Derek dink nie dat depressie nood­wendig ’n geloofkwessie is nie. “Soos die hart en lewer siek word kan die brein ook siek word. Drink jou medikasie, al sê wie ook wat,” is Derek se raad. Die samelewing verstaan dit nie altyd so nie.

Hy sê verder: “Maar jy moet steeds jou Skepper in alle sake ken.”

Depressie het ’n genetiese komponent. In Derek se geval het beide sy ouers tekens van depressie getoon. Annalie Taute glo nie dat die kerk meer etikette rondom mense met psigiatriese siektes hang nie, hoewel dit dalk in die verlede so was.

God se liefde sluit alle mense in: ook diegene met geestesongesteldhede wat dalk op die kerk se pad kom.

– Vir meer inligting oor Pharos gaan na www.pharos.org.za of stuur na info@pharos.org.za ’n e-pos.

* Derek en Desiré is skuilname.