Dis tyd om nuut te dink oor die amp

In meer en meer gemeentes word ouderlinge en dia­kens vervang met gemeenteleiers. In die Hand­leiding vir die erediens is daar selfs ’n formulier vir die indiensstelling van gemeenteleiers. Kerkrade word saamgestel uit gemeenteleiers sonder ouderlinge en dia­kens wat beteken dat hulle geen kerkregtelike lo­cus standi het nie.

Dit het dringend tyd geword dat daar nuut gedink word oor die amp.

Die hervormers het tydens die Reformasie nie net die liturgie en teologie van die kerk hervorm nie. Die kerk­regeringstelsel is ook grondig hervorm.

Die herontdekking van die amp van die gelowige as die belangrikste amp in die kerk was krities belangrik vir die ontwikkeling van die amp binne die Gereformeerde tradisie. Dit is juis hierdie verbreding van die amp wat verder gevoer kan word omdat alle gelowiges gawes ontvang het met die oog op dienswerk in en buite die gemeente.

Calvyn se besinning en verstaan van die ampte as dienste bied ’n belangrike raamwerk waarbinne ’n nu­we verstaan van die ampte in missionale gemeentes be­dink kan word. Die feit dat hy melding maak van “die­naars in die konsistorie” in die Discipline Ecclesiastique (1559, Parys) dui daarop dat hy die ampte as ver­skillende dienste – almal op dieselfde vlak – tot ­diens van die gemeente en die wêreld verstaan het.

Hy het vier ampte geïdentifiseer, naamlik leraars, ouderlinge, diakens en doktore. Laasgenoemde omdat dit deur die “noodsaaklikheid van sy eie tyd” nodig was.

In ’n wêreld van ongeletterde mense moes die kerk onderrig en daarvoor was ’n spesifieke amp nodig. Dit is hierdie siening van Calvyn wat ons help om te verstaan dat die nood van die tyd waarin die kerk leef, nuwe ampte of ander ampte moontlik maak – maar altyd met behulp van grondige interpretasie van die Bybel.

Die “noodsaaklikheid van ons eie tyd” daag ons uit tot ’n nuwe verstaan van die amp. Dit is eg gereformeerd!

Miskien help dit ons nie net om nuwe ampte vir ons tyd en konteks te ontdek nie, maar ook die bestaande ampte opnuut tot hulle reg te laat kom.

Diakens kan mos in die tyd waarin ons leef intens betrokke wees by die bestryding van armoede en die versorging van armes soos wat hulle taak in die Bybel beskryf word.

Ouderlinge kan en moet toesig hou oor wat in gemeentes gebeur en nuwe ampte – wel hulle kan die dienswerk waartoe die tyd ons uitdaag verrig.

Dan sal dit nie nodig wees om die spreekwoordelike baba met die badwater uit te gooi en van ouderlinge en diakens ’n bedreigde spesie te maak nie.

▶ Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.