FA Venter se Bybelroman van toe praat ook nou

DIE KONING SE WINGERD
Deur FA Venter
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017 (Derde uitgawe, tiende druk)


Die Bybelroman behoort tot ’n spesiale genre wat ­goeie kennis van die Bybel, Bybelse tye en gebruike, en ook besondere skryfvernuf verg sodat ’n ou bekende verhaal nuut en “aktueel” kan word. Daar is ’n Bybelroman wat al die Nobelprys vir Letterkunde gewen het: die Sweed Par Lagerkvist se “Barabbas” – die verhaal van die man wat in Jesus se plek vrygelaat is; in Lagerkvist se boek “’n gelowige sonder geloof”.

In Afrikaans het FA Venter se Man van Cirene – oor Jesus se kruisdraer – beroemd geword. Hoewel Venter nie die grootste Afrikaanse literêre toe­kenning, die Hertzogprys, daarvoor ontvang het nie (hy het dit wel vir Swart Pelgrim en Geknelde Land gekry), het Man van Cirene ’n klassieke Afri­kaanse Bybelroman geword wat ook in verskeie ander tale vertaal is toe dit nog iets ongewoons vir Afrikaanse boeke was. Venter het kort voor sy dood in 1997 die Andrew Murrayprys ontvang vir sy relaas oor ou­derdom en lyding, Die keer toe ek my naam vergeet het.

In ’n nuwe waardering vir Venter se werk is heruitgawes van verskeie van sy boeke onlangs gepubliseer: sowel Man van Cirene as Geknelde land en nou ook Die koning se win­gerd. Dit is die tiende druk van hierdie boek waarin Venter die verhaal van Nabot, Elia, Agab en Isebel in stilisties voortreflike Afrikaans lewe laat kry.

Dis ’n roman en nie ’n historiese werk nie en daarom is dit ook nie in alle opsigte “Bybelgetrou” nie. Die skrywer skep nuwe karakters, sluit hier aan by wat die Bybel sê en wyk daar weer af van presiese Bybelgegewens … maar hy skryf ’n roman wat enduit boei. ’n Ou wêreld waarvan ons eintlik baie min weet, en die mense wat toe geleef het, kry hier plek en tyd en vleis en bloed en asem, ons deel in hulle liefde en haat, hulle angs, hulle soms amper wanhopige soeke na God en God se wil.

Venter gee noukeurige aandag aan die Bybelse wêreld, maar aktualiseer dit om ook vir ’n ander tyd iets te sê. Nabot se stryd om sy gesin en sy volk (Israel) op God se spoor te help hou, die maer man, Elia, se doemwoorde, die oorwel­digende aandrang van “binne” en “buite” om die bestaande orde tot iets totaal anders te transformeer, die korrupte, mags­beluste Agab en Isebel … dit alles herinner op ’n manier aan 1984 se Suid-Afrika, toe die boek die eerste keer verskyn het, én aan 2017 se strompelende Suid-Afrika. Mense bly men­se bly mense.