’n Stryd met kerse en gebede

By die onlangse vergadering van die Wêreld­gemeenskap van Gereformeerde Kerke is daar ’n merkwaardige getuienis gelewer van die krag van weerloosheid, van ’n stryd om geregtigheid wat gevoer is met kerse en ge­bede – en dit teen ’n verdrukkende regime. ARNAU VAN WYNGAARD vertel.


Dit is 30 Junie 2017. Ek sit saam met my vrou op die galery in die Nikolaikirche in Leipzig. Die kerkgebou is volgepak. Onder, in die heel voorste bank, sit die president van Duitsland, Frank-Walter Steinmeier. Daar heers ’n gevoel van afwagting onder diegene wat daar teenwoordig is.

En dan begin ’n klankopname oor die luidsprekers speel. Die klankgehalte is nie baie goed nie. Maar tog is die woorde van ’n groot groep mense wat saam ’n kreet uitskree, duidelik: Wir sind das Volk! Wir sind das Volk! ’n Dame onder in die kerk begin onbedaarlik ruk terwyl sy huil. Eers later sou ons uitvind dat sy een van ongeveer 70 000 mense was wat op 9 Oktober 1989 daardie einste kreet uitgeskree het.

Ek was onlangs, as afgevaardigde van die Swaziland Reformed Church, in Leipzig (in die voormalige Oos-Duitsland) om die algemene vergadering van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Ker­ke by te woon. Terwyl ek daar was, het ek na die ver­tellings geluister van mense wat teenwoordig was toe die Berlynse muur geval het.

Kort na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, is die Sosialistiese Eenheidsparty van Duitsland ge­stig. Op 13 Augustus 1961 is daar begin om ’n muur van 168 km te bou wat Oos-Duitsland van Wes-Duits­land sou skei. Die muur het ook die stad Berlyn verdeel.

Die doel van die muur was om inwoners van Oos-Duitsland wat ’n beter heenkome in die Weste ge­soek het, te verhoed om die grens oor te steek. Voor die oprig van die muur het miljoene mense reeds na Wes-Duitsland gevlug. Opdrag is aan soldate gegee om voortaan enige voornemende vlug­te­ling te skiet.

Christian Führer was sedert 1980 die leraar van die Nikolaikirche in Leipzig, ’n tyd waarin Oos-Duit­se burgers toenemend ontnugter geraak het daar­mee dat hulle nie vryelik na Wes-Duitsland kon reis nie.

’n Plakkaat uit die 1980’s wat mense uitnooi na die gebedsbyeenkoms by die Nikolaikirche met die slagspreuk uit Miga 4:3: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee”.

In 1982 het Führer begin om elke Maandagaand om 17:00 gebedsbyeenkomste te hou in sy gemeente, met Miga 4:3 as slagspreuk: “Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee”. Aan­vanklik was dit slegs ’n handjievol mense wat hierdie ge­bedsgeleenthede bygewoon het, maar stelselmatig het die getalle gegroei.

Hierdie gebedsaksie het verdere momentum ge­kry toe die leraar ’n bordjie met die woorde “Ni­ko­laikirche – offen für Alle” (oop vir almal), by die ingang van die gebou aangebring het. Die kerkgebou het die één plek geword waar mense openlik kon praat oor hulle misnoeë met die politieke situasie in die land. Daar is ernstig gebid dat God sal ingryp.

Namate die inwoners van Leipzig bewus geraak het van die “Friedensgebete” (vredesgebede) wat hier plaasvind, het jongmense, ouer mense en selfs ateïste begin om hierdie weeklikse gebedsbyeenkomste by te woon.

Intussen het die omstandighede in die wêreldpolitiek ook verander, onder andere met die verkie­sing van Mikhail Gorbachev as sekretaris van die Kom­munistiese Party in Rusland en die daaropvol­gen­de beleid van “Perestroika” (herstrukturering) en “Glasnost” (openheid).

Terwyl al hierdie veranderinge aan die gang was, het die mense van Leipzig voortgegaan om te bid.

Op 8 Mei 1989 het die polisie in Leipzig die strate wat na die kerk toe lei gesluit, in die hoop dat dit men­se sou ontmoedig om te gaan bid. Die teenoor­ge­stelde het egter gebeur: Die getalle het toegeneem. Op 4 September 1989 het die mense uit die kerkgebou beweeg na die Karl Marxplein (vandag bekend as die Augustusplatz) waar hulle begin het met ’n nie­gewelddadige optog. Elke Maandag daarna is die ge­bedsbyeenkoms opgevolg met ’n vreedsame optog.

En toe, op 9 Oktober 1989, het die 8 000 mense wat die kerkgebou volgepak het, begin groei terwyl hulle na buite beweeg, elkeen met ’n brandende kers in die hand.

Vooraf het Christian Führer die mense gemaan om geen geweld te gebruik nie. Naderhand was daar 70 000 mense wat aan die optog deelgeneem het terwyl hulle uitroep: “Wir sind das Volk! Wir sind das Volk!”(Ons is die volk!)

Ten spyte van ’n groot polisieteenwoordigheid, is daar nie ’n enkele skoot afgevuur nie. Hulle het ge­wag vir ’n opdrag van hulle bevelvoerders om die pro­tesaksie met geweld te beëindig, maar die opdrag het nooit gekom nie.

’n Week later het 120 000 mense aan die optog deelgeneem. Die volgende week was daar 300 000. Voortdurend het hulle mekaar egter gemaan met die woorde: “Keine Gewalt!” (Geen geweld!) En toe, op 9 November 1989, het die skare voortbeweeg, ver­by die soldate, en die hekke is oopgemaak sodat hulle kon deurbeweeg na Wes-Duitsland. Een van die militêre bevelvoerders het opgemerk: “Ons was voorbereid op alles, behalwe die kerse en gebede.”

Christian Führer het agterna gesê dat dit hom altyd sal bybly hoedat hierdie massa mense met twee woorde gestalte gegee het aan een van die kernboodskappe van Jesus Christus: Geen geweld!

Terwyl ek na hierdie verhaal luister wat deur ’n in­woner van Leipzig aan ons vertel word, wonder ek: Bid ons regtig genoeg vir ons eie land? Het ons dalk iets te leer uit die geskiedenis van die kerk se rol in die val van die Berlynse muur?