Raak ons nog opgewonde?

Ek het tydens ons besoek aan Japan in April vanjaar, nie ’n enkele ding uit plek gesien nie. Nie ’n klip of onkruid of ’n stukkie vuilgoed nie; nie ’n verkeerslig wat nie werk of informele behuising waar mense bly nie. Die geheelindruk is ’n land waar dinge werk. Dit lyk nie of mense swaarkry nie. Hulle het alles en in die gemeentes is hulle op­ge­ruimd. Jy kan sien hulle is bly om ’n Christen te wees.

Twee maande later is ek deel van ’n uitreik Caprivi toe. Andermaal verstom die armoede my, die siektes, die swaar en die vodde wat veral die kinders dra. Ek mis die gesigte van mense wat ek met die jare leer ken het. “He died last year.” “She passed away,” is die antwoord. Honger is een van die redes. En tog laat die mense se blymoedigheid my sprake­loos. Hulle blydskap om ons te sien, ja, maar elke byeenkoms in elke “village” word ’n blymoedige ge­leent­heid. Menslik gesproke het hulle niks, maar hulle is bly om ’n Christen te wees.

En toe lei ek die gesamentlike erediens van die drie gemeentes in ons dorp op die Sondag nadat ons terug is. ’n Goeie preek; goeie orreliste; mooi liedere; ’n goeie PowerPointaanbieding met 30 foto’s van die uitreik ingewerk – opgewonde om die krag van die evangelie en iets van die uitreik te deel.

En toe die teleurstelling. Nie 10% van die lidmate was in die erediens nie. Die meeste het nie bly gelyk om my te sien nie. Ek was op stadiums selfs ongemaklik en toe ek ’n paar minute duskant een uur klaarmaak, het ek die gevoel gekry dat party ’n sug van verligting slaak.

En toe wonder ek …

In Japan het die mense op die oog af alles wat nodig is. Die Christene is ’n klein minderheid in ’n op-die-oog-af welvarende land, maar hulle is bly. Baie ry meer as een uur per trein om ’n erediens by te woon. Hulle bring die grootste deel van die Son­dag met mekaar deur, want hulle is bly om mekaar te sien. Hulle weet waarvan hulle verlos is. Hulle verstaan die evangelie.

In die Caprivi het die mense niks. Hulle is arm mense in ’n arm streek. Hulle loop kilometers om saam met hulle broers en susters te wees en wanneer hulle saamgekom het, is hulle blydskap aansteeklik. Hulle weet waartoe hulle verlos is.

En toe kom ek tuis onder my eie mense. Daar is wonderlike, dierbare mense vir wie ek baie lief is en wat ek weet, vir my baie lief is, maar dit is nie die oorheersende indruk wat ek op die betrokke Son­dag onder die meerderheid ervaar het nie. Ek het nie ’n opgewektheid om verlos te wees, beleef nie.

En toe wonder ek …

Weet ons nog waarvan en waartoe ons verlos is?

En as ons weet, maak die wete ons nog bly?

Dr Pieter van Jaarsveld is verkies tot moderator van die onlangse Vrystaatse Sinode.