Vroue vra meer erns met gelyke deelname

Die kerk moet baie meer erns maak daarmee om die gelyke deelname van vroue en mans op alle vlakke van leierskap en binne die ampte moontlik te maak.

Dit was ʼn sterk boodskap van ʼn vergadering van vroue in verskillende vorms van bediening in die NG Kerk in die Wes-Kaap.

Die vergadering is die dag ná Vrouedag gehou en het gevolg op ʼn proses in die Wes-Kaapse sinode waarby vroue uit verskillende bedieninge betrek is, en nadat van die vroue ʼn vooraf-konferensie by die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke se vergadering in Leipzig oor die posisie van vroue bygewoon het.

Onder die vroue wat die Wes-Kaapse vergadering bygewoon het, was daar predikante, akademici, vrouelidmate in leierskapsposies, en vroue in nie-gelegitimeerde bedieninge soos jeugwerkers.

In  ʼn verklaring wat na afloop van die byeenkoms vrygestel is, sê die vroue hulle glo dat alle mense gelykwaardig na die beeld van God geskape is en dat God vroue en mans roep en toerus vir bedieninge.

Hulle is ook dankbaar oor die manier waarop vroue op verskeie kerklike terreine die leiding neem en goeie rolle speel.

Daar is egter twee sake waaroor die vroue weeklaag.

Die een is die afmetings wat geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika aanneem. Dr Elize Morkel, lid van die Wes-Kaapse moderatuur, sê dit sluit in fisiese, emosionele, finansiële en seksuele geweld. In die verklaring vra die vroue gemeentes om groter erns met hierdie probleem te maak.

Die tweede saak is die verhale van vroue in die bediening “wat getuig van ervarings van stemloosheid, diskriminasie en marginalisering”. Die vroue sê hulle “treur oor die talle vroue wie se gawes langs hierdie weg vir die kerk verlore gaan”.

Melanie Thirion, lid van die Wes-Kaapse moderatuur, het hieroor by die vergadering onder meer gesê: “In hierdie vertrek is daar van ons wat al moes hoor dat ons vroulike stemtoon nie geskik is vir prediking nie. Dat ons liewers langbroeke moet dra terwyl ons preek omdat ons bene mans se aandag aftrek. In hierdie vertrek is daar van ons wat moes aanhoor dat ons nie geskik is vir bediening nie omdat die wêreld se seer ons te emosioneel maak.”

Die uiteinde van sulke verhale is dikwels dat sulke vroue dan ander werk buite die kerk gaan soek.

In die verklaring sê die vroue: “Ons dring aan op strukturele veranderinge, die ondermyning van patriargale denke, praktyke en taal wat die gelyke deelname van vroue en mans op alle vlakke van leierskap en binne die ampte moontlik sal maak.”

Morkel sê hulle verwys hiermee onder meer na die gedagte dat mans en vroue verskillende rolle het. Sulke denke beperk mans en vroue.

Sy wys ook op die manier waarop die Bybel soms gebruik word wanneer mense die patriargale kultuur van die Bybelse tyd direk so op vandag van toepassing wil maak.

Die verklaring sal nou na die Wes-Kaapse moderamen geneem word om verder daaroor en oor ʼn weg vorentoe te besin.

Die volledige verklaring van die vroue lui:

Boodskap vanuit die Vroue in Bedieninge byeenkoms van die Wes-Kaapse Sinode

10 Augustus 2017

As vroue in bedieninge en leierskap van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk, verbind aan mekaar tot diens binne die liggaam van Christus, verklaar ons as volg:

Ons glo dat alle mense gelykwaardig na die beeld van God geskape is en daarom met gelyke respek en waardigheid behandel behoort te word (Gen1:27). Ons bely die eenheid van alle gedooptes (Gal 3:28). Ons getuig dat God beide vroue en mans roep na bedieninge van geestelike leierskap en dat God hulle seën met gawes om hierdie rolle te vervul. In 2017, waar ons 500 jaar sedert die aanvang van die Reformasie herdenk, herdenk ons die geskenk van die priesterskap van alle gelowiges – die reg van alle gedooptes om voor God vir mekaar te bid en God se genadige liefde en vergifnis te verkondig.

Ons dank God vir vroue wat in die amp van predikant en kerklike jeugwerker leiding neem. Ons dank God vir vroue wat die amp as ouderlinge en diakens opneem. Ons vier die manier waarop vroue binne die akademie leiding neem en waardevolle teologiese bydraes lewer. Ons kan getuig van vroue se toenemende aktiewe deelname in posisies van leierskap binne ons kerkstrukture. Ons is dankbaar vir die toewyding waarmee vroue mekaar binne gemeentes en ringe ondersteun en geestelik versorg om bydraes te maak en te floreer. Ons pluk met groot dankbaarheid die vrug van die pynlike pad wat vrouepioniers gekom het om die weg te baan na meer gelykheid en geregtigheid vir vroue binne ons kerk en samelewing. Die toewyding en doelgerigtheid waarmee vroue as aktiviste werk om onregte uit te wys, mense in siekte, geweld, armoede en diskriminasie by te staan en transformasie te bevorder, vul ons met verwondering en dankbaarheid.

Ons weeklaag oor die afmetings wat geslagsgebaseerde geweld in ons land aanneem. Die brutaliteit waarmee soveel vroue behandel word, reflekteer ‘n oortuiging dat vroue minderwaardig teenoor mans is, gebore is om mans te bedien en dat vroue nie respek en waardigheid verdien nie. Die lyding van vroue in ons land as gevolg van die wisselwerking tussen ras, armoede, siekte en geslag vul ons met diep kommer en pyn. Dit is vir ons pynlik om te luister na die stories van vroue in die bediening en leierskap van die kerk wat getuig van ervarings van stemloosheid, diskriminasie en marginalisering. Ons treur oor talle vroue wie se gawes langs hierdie weg vir die kerk verlore gaan.

Ons bely ons skuld aan diskriminasie, stereotipering, misbruik, onderdrukking en apatie wat bydra tot die lyding van vroue, ook binne ons eie kringe. Ons bely dat ons dikwels self ‘n teologie van onderdanigheid van vroue bevorder – idees dat vroue op grond van hul biologie ondergeskik aan mans is, dat vroue minder van God se beelddraers is, of dat vroue se plek en rol beperk is tot voortplanting en die huishouding wat hulle uitsluit van publieke verantwoordelikheid vir die skepping.

Ons pleit by die kerk en elke gemeente om groter erns te maak om standpunt in te neem teen geslagsgebaseerde geweld. Ons dring aan op strukturele veranderinge, die ondermyning van patriargale denke, praktyke en taal wat die gelyke deelname van vroue en mans op alle vlakke van leierskap en binne die ampte moontlik sal maak. Dit impliseer ook dat die kerk en elke gemeente sal besin oor strategië om deelname vir vroue veilig en gelykwaardig te maak. Ons versoek die kerk en elke gemeente om te besin oor die manier waarop met die Skrif omgegaan word sodat die gelykwaardigheid en eenheid van vroue en mans duidelik verkondig en geleef word.

Ons verbind ons tot

  • Voortgesette gesprek met mekaar binne al die groeperings van vroue in die kerk;
  • die insluiting van mans by die gesprek oor geslagsgelykheid;
  • die aanspreek van seksuele en geslagsgebaseerde geweld en
  • bereidheid om te dien waar God ons roep.

Ons diepste verbintenis is tot solidariteit binne ons geledere as vroue in diens van God tot bevordering van ‘n waardige en gelyke bestaan vir alle vroue in ons kerk en land.