Die God wat ons dien

Staan ’n mens onder in die Kedronvallei in Jerusalem, dan rys die berge rondom jou hoog op boontoe. Aan die een kant is die berg Moria waarop die tempelplatform vandag staan, met sy uitloper waarop die ou Da­widstad gebou is. Daaragter lê die berg Sion. Aan die ander kant staan die Olyfberg.

In die antieke wêreld het mense graag hulle gode bo-op sulke hoogtes vereer.

Daarom is dit te verstane dat Psalm 121 sing: “Ek slaan my oë op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?”

By watter van die talle gode wat so op die hoogtes vereer word, is die vraag, sal ek gaan aanklop vir hulp?

En dan is die antwoord dat dit nie een van die gode op die hoogtes is nie, maar die God wat die hemel en die aarde gemaak het. Nie ’n god wat ’n plekkie bo-op ’n heuwel gekry het om daar belang­rik te lyk nie, maar die God wat hierdie berge gemaak het.

Hierdie God is van ’n totaal ander orde as die gode wat so op die heuwels vereer is.

Dit is ’n perspektief wat vandag nog troos as gelo­wiges gekonfronteer word met magte en kragte wat verniel en aftakel. Dis ook ’n perspektief wat troos as ’n mens teleurgestel word deur allerlei beloftes of on­dernemings wat uiteindelik net valse hoop bied.

Dié God wat ons dien, is van ’n totaal ander orde as al daardie magte en kragte.

Dit is Hy wat hierdie wêreld in sy hand hou. Dis Hy wat gewone gelowiges roep tot sy medewerkers om op ons klein skaal in ons klein omgewings te help om gesond te maak, te dien, om sy liefde verder te dra.

En dit kan God se mense doen, omdat hulle weet op wie hulle vertrou.