Elna het oor berge en drumpels gereis

Afrika. Die Bybel. Vroue. “My verhaal is méér as mý perspek­tief daarop,” het prof Elna Mouton onlangs op Stellenbosch gesê waar sy oor haar reis as vrou deur “die bediening” gereflekteer het. ANNALISE WIID vertel.


“Ek sit ‘bediening’ met opset in aanhalings­tekens,” sê prof Mouton. Ons het die woord verskraal, meen sy. Ons moet die veelkantigheid daarvan met groter gesag en bevesti­ging erken.

Sy praat met ’n stuk of 30 vroue, elkeen in een of ander vorm van bediening en leierskap van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk: predikante, jeugwer­kers, kerkraadslede, akademici en vroue in ander, “on­ge­legitimeerde” bedieninge.

Die vroue sit in ’n halfmaan. O die vrolike … se ju­bel-klanke vul die saal. Vul die vroue. “Luister hierna,” nooi Elna, “luister na die vreugde, die viering van Jesus se geboorte – God wat mens word. En haak vir ’n oom­blik jou eie geboorte daarby aan. Vier weer jou eie lewe, die volle collage van wat jy verteenwoordig, as geskenk; jou unieke hier-wees, nóú.”

O, die vrolike, o die salige … ’n Jubeling met mineur ondertone.

Elna Mouton het in Ceres grootgeword. Sagte vrugte, ruwe berge. “Die vraag wat bly terg, is, hoekom is ek so erg oor ’n berg,” haal sy Carl Boplaas lag­gend aan. Ook maar goed, want berge moes sy dikwels oor. En wat blou lyk van ver, is soms erg skurf van naby. Steil en skerp. Maar Elna Mouton het die kuns bemeester om elke oënskynlike onoorkombaarheid te sien as ’n oorgang, ’n drumpel tot iets verruimend en goeds.

Haar biografie is van kleins af bepaal deur die interaksie tussen Bybel, Afrika, en vroue. “As dogtertjie het ek, hand aan hand, met my ma sendingkerk toe gestap. My ma het die Bybel gelees, bedink, en geleef. Sy was my eerste rolmodel in die teologie.” Ongekompliseerde kinderjare. Nietemin word ’n mens gekonfronteer met die ingewikkeldheid van ’n dikwels onple­sierige wêreld: Boksie-denke. Klasse- en gen­der­diskriminasie. As kind reeds vind Elna “preke met substansie” besielend. Word sy bewus van “die kuns om met die woorde van God om te gaan”.

1969. Matriek. Die aardbewing-jaar. Ceres se on­wan­kelbare berge sidder. Wat kies ’n meisie met ’n verlange om “met mense en oor grense te werk” in dié era as loopbaan? Dit was ’n volle 20 jaar voor die NG Kerk vroue tot die predikante-bediening sou toelaat. Dan maar BA op Stellenbosch met Bybelkunde en Xhosa. Dit gee haar ’n goeie breë basis. Daarna ver­werf sy ’n diploma in Christelike dienswerk aan die Hugenote Kollege.

1975. Canzibe, Transkei, noord-oos van Umtata aan die Wil­dekus. Elna meld aan as kerklik-maatskaplike werker, met die fokus op die jeug. Dít in ’n gemeente met 13 buiteposte. Sy vra raad by die moderator: Hoe sien hy haar rol as jong, wit vrou hier? “Doen wat jy gekom het om te doen, maar wees bereid om tweede viool te speel terwyl jy dit doen.”

“Ek het die heel belangrikste informele opvoeding van my lewe op Canzibe gekry. My identiteit, my verstaan van wie ek is, en wie s’n ek is, is daar finaal gestempel.” Sy bly vir 15 jaar lank in diens van die Oos-Kaap Sinode.

Ná Canzibe is sy Port Elizabeth toe. Hospitaal- en fabrieksbedie­ning. “Om eenvoudig by ’n indivi­du te gaan sit en te probeer inkom in die wêreld van ’n mens … Daar het ek die pastor in my ontdek.”

Sy volg later haar geesgenoot-mentor, Willemien Appel, as hoof- uitvoerende beampte van die Vrouediens op. Destyds rus sy predikantsvroue toe. Anders as nou, waar sy (vroue) predikante oplei. Sy verwerf haar doktorsgraad by die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK), doseer Nuwe Testament aan die Universiteit van Port Elizabeth (UPE).

In Julie 2000 skuif sy Stellenbosch toe. Daar word sy die Fakulteit Teologie se eerste voltydse vroulike dosent. Later ook dekaan. In drie opsigte is dit uniek: Sy is nie ’n man nie, nie gelegitimeer nie, en ongetroud.

“Dink na oor hierdie interseksie: Ek kom uit ’n ánder wêreld, uit ’n bediening en domein waar ek nie behoort aan die dinamika en struktuur van my kollegas nie. Ek het die wyse Oos-Kaapse moderator se raad onthou en gewoon gedoen wat my hand vind en my hart sê.”

Haar Godsbeeld is veranker in Deuteronomium 10:17-19 en Johannes 1:12-14 se beskrywings van krag in deernis en broosheid. Elna praat met groot waarde­ring van vroueteoloë uit Afrika se samewerking aan die boek, Living with dignity, wat in 2016 met die Andrew Murray/Desmond Tutu-prys bekroon is. En Net­ACT – ’n netwerk van Afrika-kweekskole, wat haar lewe en haar lees van Bybeltekste oneindig verryk.

“In die episentrum, waar die Bybel, Afrika en menswees bymekaarkom – dit is waar ek God ontmoet. In die ruimte van stilte én lament, verset én vertroue, nadenke en diepe sin. Ek voel my tuis op drumpels. Waar wêrelde bymekaarkom: wêrelde van etnisiteit, gender, klas, Bybel-interpretasie. Drumpels is dinamiese plekke van verwondering én ongemak, vryheid én risiko, dans én warrelwind. Ryk ruimtes; dog ook kompleks en geskakeerd. Waar niemand staties bly nie.” En tog kan ’n mens daar tuis kom.