’n Nuwe vuur in die NG Kerk

Ons almal het dit al in ons gemeentes beleef, hoe rampe en krisisse ons laat saamstaan. Dan sê ons dit met ’n klank van genoegdoe­ning: Ons lidmate staan darem bymekaar soos min wan­neer daar nood is. Daarop kan jy reken in hierdie ge­meente.

Maar die afgelope jare het dit waar geword van die hele kerk. Ons mense het bymekaar gestaan in tye van nood. Wat met die droogte gebeur het in die binneland en nou weer met die brande in Knysna en Plettenbergbaai, is eenvoudig merkwaardig.

Hulp het ingestroom van gemeentes en sinodes van oor die hele Suider-Afrika. Ek praat van massas hulp. Daar was droë en nat store, koue store en store met kom­berse en beddegoed in George. Die hulp is met vragmotors afgelaai. Ongelooflike verhale van welwillendheid en omgee het ontvou.

’n Fabriek in die Baai het byvoorbeeld 300 000 bokse geskenk om die noodvoorrade in te verpak. Toe raak die vragmotor se remme op pad na George on­klaar en die gloeiende remme steek die kartonne aan die brand. Die sleepwa en kartonne brand toe alles uit. Asof daar nie genoeg brande was nie. Toe skenk die fabriek nog 300 000 bokse. En binne enkele ure vind die sinodale kerkmense in die Baai ’n nuwe vragmotor om dit veilig in George af te laai. Merkwaardig!

Miljoene rande se finansiële bydraes is gemaak. Die Sinode van die Vrystaat het R1 000 000 geskenk. Die Sinode van Oos-Kaap het in hulle eie rampgebiede groot verligting help bring, maar boonop R300 000 aan die ringe in die Wes-Kaap waar dit gebrand het, gestuur. Uit Goudland Sinode en die Oostelike Sinode, ja, vanuit elke sinodale gebied het daar hulp gekom vir die mense van Knysna en Plettenbergbaai.

Die Wes-Kaapse Sinodale rampfonds het die dag nadat die brande begin verwoesting saai het, uit eie bronne begin oorbetalings doen aan die plaaslike ringe. Soos die bydraes van oor die land van sinodes, gemeentes en lidmate in die Wes-Kaapse fonds inbetaal is, is die geld aangewend om die nood van al die inwoners van die geteisterde omgewing te verlig. Die NG Kerk het ook met ander kerke saamgewerk en men­se vanuit die totale gemeenskap het bygedra.

En plaaslik het die kerkmense hulle stokflou gewerk. Kerksale en selfs pastorieë is as noodsentrums ingespan om brandweerpersoneel te help en ontredderde mense by te staan. Uiteindelik is daar selfs berading gereël vir diegene wat verliese gely het en met die verskriklike gevolge daarvan moes begin saamleef. Ons predikante het in die voorste linies van hulp en ondersteuning aan die lydendes gestaan.

Met die droogte in die binneland was dit nie anders nie. ’n Noodfonds is in die Kaap gestig en uitgebrei na die res van die kerk. Veevoer is van regoor die land na die droë gebiede versprei, vervoer is betaal, gras is in pilvorm beskikbaar gestel, finansiële skenkings kon die sink van boorgate moontlik maak, watertenks is by kerke aangebring en biddae is gehou.

Die NG Kerk het sy arms gevou om diegene wat ly. Mens en dier is versorg. Natuurlik het baie ander kerke, organisasies en mense ook gehelp. Maar binne die NG Kerk self was daar ’n wonderlike gesindheid van omgee, sorg en leierskap uit die boonste rakke.

Die waarheid van die evangelie is tog dat as een lid van die liggaam van Christus ly, ly almal saam. Die waarheid is ook dat ons verbondenheid aan mekaar oor veel meer gaan as eenstemmigheid rakende standpunte oor morele kwessies en vraagstukke. Ons ver­bon­­denheid en eenheid lê onpeilbaar dieper as wat ons meningsverskille soms verraai. Laat dit ’n les wees vir almal van ons wat so maklik praat oor skeuring en verdeeldheid. Ons is vir mekaar gegee en het mekaar ongelooflik nodig.

Die ekologiese krisis waarin die wêreld tans verkeer, gaan waarskynlik in die jare wat kom ons diepste gesindhede jeens mekaar soos selde vantevore blootlê. Die ware aard van ons eenheid en ons verantwoordelikheidsgevoel vir mekaar sal oral sigbaar wees. As die droogte van die afgelope twee jaar of die brande van die Tuinroete ’n voorskou is, gaan ons in die jare wat kom baie naby aan mekaar te staan kom – lotsverbonde, saamgevang in die greep van die aarde se stryd om oorlewing.

Die tien voorsitters van die samestellende sinodes van die Algemene Sinode en die lede van die modera­tuur het die afgelope week vir drie dae in Wildernis byeengekom, baie naby aan Knysna waar dit gebrand het. Daar het egter na afloop van ons byeenkoms ’n ander vuur in ons gebrand. Die vuur van die Heilige Gees het ons geïnspireer tot verbondenheid aan mekaar en tot nuwe verbeelding vir ons lande waarin God aan die werk is. Ons ontmoeting met God en met mekaar het ons diep bewus gemaak van ons broosheid, maar ook van ons heerlike roeping om in nood en vreugde deur ons eenheid te getuig van die nuwe lewe in Christus Jesus.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.