’n Spirituele begeleier help om oë vir God te open

Spirituele begeleiding is ’n geloofsgewoonte wat baie waardevol kan wees en wat besig is om veld te wen in die NG Kerk. NEELS JACKSON het met dr Willem Nicol en sy vrou, Joke Nicol, daaroor gesels.


Dr Willem Nicol nooi ’n persoon om te kom sit. Daar word ’n bietjie gesels, gehoor hoe dit gaan. Dan staan hy op, steek ’n kers aan. Dis ’n ritueel om ’n heilige ruimte te skep. Hy gaan sit en nooi die persoon om te ontspan: bene, skouers en nek, arms en oë, asemhaling. Dan laat hy tyd vir stilte, tot die persoon self reg is om te begin praat.

En as die mens wil begin, maar nie weet waar om te begin nie, vra hy ’n vraag soos: “Watter aartappel lê nou bo in jou sak?”

So begin nog ’n sessie van spirituele begeleiding.

Nicol was jare gelede ’n voorloper daarin om die kontemplatiewe spiritualiteit aan en in die NG Kerk be­kend te stel. Die spiritualiteit van stil word en om God se teenwoordigheid in jou lewe te beleef.

Nou is dit ’n gevestigde manier van doen in baie dele van die kerk, hoewel dit nie een is wat skares lok nie, en dit waarskynlik nooit sal wees nie.

Spirituele begeleiding, sê die Nicols, is nog so ’n skat uit die kerkgeskiedenis wat nou deur die Protestantse wêreld herontdek word. Dit is een van die geloofsgewoontes wat dateer van lank voor die Reformasie en wat met die groot kerkhervorming verlore gegaan het.

Dit gaan daaroor dat ’n gelowige iemand het, ’n spirituele begeleier, wat hy of sy vertrou en met wie hy of sy volgens ’n ooreengekome ritme (maandeliks werk goed) oor sy of haar lewe en geloof gesels.

Die begeleier dui nie koers aan nie, maar stap as ’t ware langs die gelowige. Die begeleier is ’n klankbord wat luister, maar wat die gelowige ook help om self te ontdek waarmee God in sy of haar lewe besig is.

Die veronderstelling is dat ’n mens nie net uit die Bybel en uit die natuur iets oor God leer nie, maar ook deur jou eie ervaring. Die Reformasie het ’n verstandsding geword, sê Willem. Spirituele begeleiding gooi die net wyer. Dit gaan oor die daaglikse lewe saam met God en dat jy God ook daar leer ken.

Daarom begin die gesprek met die vraag na die aartappel bo in jou sak, die ding waarmee jou gedagtes nou besig is, dit wat nou jou lewe oorheers. En dan help die begeleier ’n mens om te dink oor waar en hoe God by hierdie saak betrokke is.

Dis soos twee bokke wat langs mekaar loop en die een blaas die stof uit die ander se oë sodat hy beter kan sien, sê hy.

Dit help ’n mens om te sien dat jou geloof deel is van jou alledaagse lewe. Geloof gaan nie net oor kennis, oor vrae en antwoorde nie. God is nie ’n veraf wese wie se reëls jy net moet gehoorsaam nie. Dit is die lewende God saam met wie jy hier leef.

Spirituele begeleiding is anders as ’n sessie met ’n sielkundige. Dit werk nie so diep nie, maar dit gaan wyer, want dit gaan oor God se teenwoordigheid.

Dit is ook anders as pastoraat, want pastoraat het ’n element van leiding gee. Daar is ’n probleem wat gehanteer moet word. Spirituele begeleiding is nie daar om probleme te hanteer nie. As iemand ’n probleem het wat gehanteer moet word, verwys die spiritue­le begeleier die persoon na iemand anders.

Dit beteken die aartappel wat bo in die sak lê, hoef nie ’n vrot aartappel te wees nie. Dit kan ’n vreugdevolle saak wees waaroor ’n gelowige met die geestelike begeleier gesels. Die begeleier se rol is om die gelowige te help om voortdurend bewus te wees dat God hier teen­woordig is. God is nie ’n veraf abstraksie nie.

Maar die gesprekke gaan tog dikwels na plekke van pyn, want dit is die plekke wat groeipunte in ’n mens se geestelike lewe kan word.

Daarom is spirituele begeleiding ’n goeie geloofsgewoonte wat enige gelowige kan oorweeg. Mense wat gaan vir spirituele begeleiding, vind dit waardevol. Daar is mense wat al 10 jaar lank gereeld na Willem Nicol toe kom daarvoor.

In Pretoria, waar die Nicols werk, word die opleiding van spirituele begeleiers gedoen deur die Sentrum vir Spiritualiteit van die NG Kerk se ring van Suidoos-Pretoria. Dit geskied in samewerking met Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.

Sedert 2006 is daar reeds 113 spirituele begeleiers opgelei. Die sentrum ontvang nou aansoeke vir die volgende kursus wat in 2018 begin en oor 15 maande en sewe blokke strek. Meer inligting oor dié kursus is by www.sentrumvirspiritualiteit.co.za beskikbaar.

Mense wat die kursus deurloop het, sê dit het ook baie vir hulle eie geestelike lewe beteken. Ds Derick du Toit van die NG gemeente Villieria skryf byvoorbeeld dat hy al baie kursusse bygewoon het waarvan die impak op lewenstyl en bediening maar min was. “Ek wil graag getuig dat die wyse waarop die kursus aangebied word waarskynlik die mees blywende veranderings van al die kursusse veroorsaak het.”

– Vir meer oor spirituele begeleiding, lees Willem Nicol se boek Ingestel op die fluistering van God (Lux Verbi).