Om Jesus te volg, is waaghalsig

FOLLOWING JESUS IN A CULTURE OF FEAR
Deur Scott Bader-Saye
Uitgewer: Brazos Press, 2007


Dit lyk deesdae asof vrees mense oorweldig en verlam. Die ge­weld, droogte, korrupsie en ekonomiese afgrade­ring raak soms net te veel. Dis hoekom ek Following Jesus in a culture of fear so geniet het. Dit verbind stewige teologie aan die realiteit van ons konteks – met tussendeur stories van U2, Star Wars en TS Eliot. Hierdie is nie nog ’n boek wat jou gaan moeg maak nie. Dit lees maklik en bied ’n inspi­rerende alternatief op ons kultuur van vrees.

Bader-Saye verduidelik hoe vrees deur markte, media, politici en selfs die kerk misbruik word om ons te kry om geld te spandeer, te stem vir ’n spesifieke party of selfs om die Here te dien. Dit strook nie met dissi­pelskap nie, want om Jesus te volg, is waaghalsig. Om Jesus te volg, vra van ons om risiko’s te neem soos om vyande lief te hê, siekes te versorg, hongeres te voed en gevangenes te besoek.

’n Mens kan sien hoe vrees ons deurslaggewende moraliteit geword het. Hierdie “etiek van veiligheid” het drie waardes: suspisie (“moenie met vreemdelinge praat nie”), voorspring (“doen aan ander voordat hulle aan jou doen”) en akkumulasie (“bêre vir ’n reënerige dag”).

Tog is die idee nie dat ons sonder vrees moet wees nie. Vrees is goed. Ons is bang juis omdat ons lief het. Ons uitdaging is om die regte hoeveelheid vrees vir die regte dinge te hê – en om dan dapper te wees te midde van ons vrees.

Bader-Saye praat oor die rol van gemeenskappe wat ons help om dapper te wees, deurdat sulke gemeenskappe dapperheid modelleer, vrees verwoord en risiko’s en bronne deel.

Hy skryf aangrypend oor God se voorsienigheid as ’n storie waarvan ons deel is.

Uiteindelik noem hy die deugde wat ons nodig het in ’n kultuur van vrees. Hy noem hierdie deugde “risiko’s”: die risiko’s van gasvryheid, vrede maak en vry­gewigheid. Hy skryf lekker prakties oor elke deug, maar tog ook met ’n stewige teologiese en filosofiese onderbou.

Hierdie is die een boek wat jou kan help om mense binne ons kultuur van vrees te begelei en te inspireer. Ek wens ek kan al my gunsteling-aanhalings hier deel. Laat ek maar net sê: Lees die boek en “explore ways that we might live into the risky discipleship made possible when we cease to let fear determine our lives.”

▶ Ds Rethie van Niekerk is predikant van die gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.