Duitsers bring Jesus se liefde vir vlugtelinge

Dit lyk soos ’n reu­se-lug­bal­lon – en inderdaad word dié skuiling vir vlugtelinge in Berlyn in posisie gehou deur ’n pomp wat gedurig lug in­blaas.

Dié vlugtelingkamp, wat deur die Berlynse stadsen­ding bedryf word, is een van die plekke wat deur ’n deel van die afgevaardigdes na die onlangse byeenkoms van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde ker­ke in Leipzig, besoek is.

Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland, se “oop-deur”-beleid ten opsigte van vlugtelinge word sterk gekritiseer deur baie mense, onder wie pres Donald Trump van die VSA. Merkel is egter van mening dat haar beleid op die lange duur meer voordele as nadele vir Duitsland gaan inhou.

Haar regering het doelbewus besluit om evangeliese kerke deel te maak van hierdie projek, omdat hulle reeds bewys het dat hulle vertrou kan word om die werk goed te doen.

Die plakkaat wat deur Julia gemaak is om die kinders ’n vrolike Paasfees toe te wens.

Toegang tot die “gebou” word beheer met dubbeldeure om te verhoed dat die lug ontsnap. Wanneer ’n mens die struktuur binnegaan, is dit gou duidelik dat daar groot klem daarop gelê word om die vlugtelinge met waardigheid te behandel. Een voorbeeld hiervan is ’n plakkaat wat die Moslem-vlugtelinge verseker dat geen varkvleis aan hulle bedien word nie.

Die skuiling kan tot soveel as 300 mense op ’n slag huisves. Slaapgeriewe is skoon en netjies en ses persone deel ’n slaapvertrek. ’n Ontspanningslokaal met te­levisie, musiekinstrumente en gemaklike sitplekke bied geleentheid aan die vlugtelinge om vir ’n tydjie te vergeet van die haglike omstandighede waaronder hulle uit hulle land van herkoms moes vlug.

Een van die Siriese vlugtelinge vertel: “Dit is won­der­lik hier. Die mense is vriendelik en behandel ons met respek. Hulle is volkome eerlik met ons en help ons net waar hulle kan.”

’n Kinderhoekie waar dosyne prente van die vlug­te­lingkinders uitgestal word, vertel ook ’n verhaal van die behoefte van ’n kind om veilig te kan voel. In die meeste gevalle word die vlugtelinge vanaf hierdie skui­ling oorgeplaas na ’n meer permanente woonplek, maar die 1 300 vrywilligers van die kerk wat hierdie vlug­telinge bedien, doen hulle bes om almal onmiddellik te laat tuis voel.

Die primêre doel is nie om die Moslems tot die Christendom te bekeer nie, maar wel om vir hulle op ’n tasbare wyse iets van Jesus se liefde te laat ervaar.

Teen ’n net in die kinderhoekie, is ’n handgetekende plakkaat, klaarblyklik deur ’n Sondagskoolonderwy­ser geteken: “Vrolike Paasfees. Ek is lief vir julle. Vir Salma, Yousef, Adam, David, Parisa, Feirishde, Aida en al die ander. Van julle Julia.”

Miskien is Julia vir hierdie kinders die verpersoonliking van Jesus se liefde.