Karoo Druppels bring hoop op Britstown

Reën is skaars in die Karoo. Skaars soos werk. Skaars soos kos. Skaars soos hoop. Daarom dat die naam Karoo Druppels vir Britstown se nu­we sentrum vir vroeëkindontwikkeling soveel byval ge­vind het.

Dié sentrum het op 14 Augustus sy deure geopen met 20 kinders. In ’n gemeenskap waar daar baie wanhoop, ellende en armoede is, bring hierdie sentrum hoop soos wat reën altyd ’n bietjie hoop bring.

Die storie van die sentrum begin sowat twee jaar ge­lede toe die skoolkoshuis in Britstown afgebrand het. Dit het ’n katalisator geword vir hulpverlening wat uiteindelik gelei het tot die stigting van die sentrum vir vroeëkindontwikkeling.

Eers was daar ’n verslag oor die brand op RSG. Dit het ’n groot reaksie van die publiek uitgelok. Insamelings is gehou. Donasies is aangestuur. Dit het te veel geraak. Ds Hanri Joubert, predikant van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Brits­town, het later begin wonder of die geld nie maar ge­bruik kan word vir ’n sentrum nie.

Daar was toe reeds twee sulke sentrums in Britstown, maar van die sowat 800 kinders in die gemeenskap het net sowat 60 hierby inge­ska­kel. In ’n dorp waar motivering maar min was, het Hanri besluit hier is ’n geleentheid om ’n verskil te maak.

Hy het die 70 kilometer afgelê Strydenburg toe om te gaan kyk na Blommeland, die sentrum vir vroeë­kindontwikkeling wat daar deur die kerk op die been gebring is. Hy het gaan idees kry.

Die volgende keer het Griet Oli­fant besluit sy gaan saam Blommeland toe om te gaan kyk. Griet het ’n hart van goud. ’n Hart vir kinders. Sy het Hanri se visie gesien en verstaan.

Die woord het versprei en die plaaslike VLV het ook besluit hulle ry saam Strydenburg toe. Hulle wou ook sien en betrokke raak. So het mense uit die NG gemeente en die VGK-gemeente aan boord gekom.

Die Britstown Opvoedkundige Trust het betrokke geraak en so ook die gemeenskap.

Die Blömerus-gesin het besluit om hulle huis onder die markwaarde aan die NG Kerk beskikbaar te stel en so het die wiele aan die rol gekom.

’n Samewerkingsooreenkoms is geteken met Caritas Gemeenskapsfokus, ’n selfstandige organisasie wat deur die NG Kerk in die Noord-Kaap op die been gebring is om gemeentes te help om hulle deernisbe­die­nings te ontwikkel. Caritas, wat alreeds 14 ander sen­trums vir vroeëkindontwikkeling in die Noord-Kaap en Noordwes op die been gebring het, het gehelp met die opstel van besigheidsplanne, opleiding verskaf en raad gegee.

Van oral in die gemeenskap het mense bymekaar gekom. Trekkers is ingebring. Gruis is gegooi. Vertrekke is geverf. Tassies is gekoop. Gordyne is gehang. En die visie van ’n sentrum wat nuwe moontlikhede oopmaak vir Britstown se kleuters, het ’n werklikheid geword.

Britstown het nou nie net in Karoo Druppels ’n mooi nuwe tuiste vir kleuters met skapies en muise, trekkers en windpompe teen die mure nie, maar ook ’n gemeenskap wat deur dié projek nader aan mekaar gekom het.