Maak seker almal is aan boord

“Ein Schiff, das sich Gemeinde nennt, fährt durch das Meer der Zeit …” So begin ’n Duitse kerklied.

In Afrikaans vertaal, lui dit: “’n Skip wat ‘gemeente’ genoem word, vaar deur die see van die tyd.”

Deesdae word ek baie aan hierdie lied herinner. Nie omdat almal nou begin om hulle Desember-seevakansie te beplan nie. Nee, ek word deesdae daaraan herinner dat hierdie skip nie ’n vinnige motorboot is nie, maar ’n ou skip, wat gemaklik deur die tye beweeg – en nie sommer net so draai nie.

Prosesse in kerke, gemeentes, met mense, verg verskriklik baie tyd. Of dit nou is om uiteindelik interkultureel of interkerklik ’n bietjie meer saam te werk, en of dit daaroor gaan dat vroue nog steeds meer sukkel as mans om gehoor te word in die leierskap van gemeentes en in ons kerk. Of dalk gaan dit oor watter musiek in die gemeentes gesing moet word – ons het maar in die kerk ’n spoedperk wat maak dat ons nie eens ’n wedloop teen skilpaaie kan wen nie.

Soms daag dit my uit, soms maak dit my baie ongeduldig – maar ek dink tog dit is nodig. Ons moenie vergeet dat ons ou kerkskip nie net vir ’n enkele paar lede is nie, maar dat ons opdrag is om almal saam te vat.

Vir ons almal om met dieselfde spoed te kan beweeg, vra van dié wat graag vinniger wil wees, om in liefde geduldig te wag. En vir dié wat graag nog stadiger wil beweeg, om ’n bietjie hulle gemak terug te laat en spoed op te tel.

Dit is nie maklik nie aangesien daar deesdae in ons gemeentes en in ons gemeenskappe mense is wat die gevoel het dat hulle oral agtergelaat word. En aan die ander kant is daar mense wat al jare op nodige veranderinge wag.

So moet ons by elke mylpaal wat ons bereik en wat ons miskien baie opgewonde maak, seker maak dat almal nog aan boord is en ons nog steeds in die regte rigting beweeg.

My gebed vir die NG Kerk is dat ons nooit vergeet waarheen ons op pad is nie: die koninkryk van God.

Niemand het ’n kaart nie, die see raak partykeer rof en die medereisigers maak ons miskien mal – en daarom moet ons net vir Jesus Christus as kaptein aanvaar. Hy gee vir ons die krag en die selfbeheersing om ’n bietjie stadiger te gaan en te wag. Hy bemoedig dié wat bang is om vinniger te wees, om nuuskierig te wees vir dit wat voorlê.

So het ons dit deur 2 000 jaar gemaak, uit ons foute geleer, en so het ons miskien nog ’n miljoen jaar nodig om seker te maak: Almal kom saam.

Antje du Plessis is ’n beroepbare proponent en lidmaat van die NG gemeente Hartbeespoort.