Patronaatskap was ’n bekende verskynsel

Daar word deesdae dikwels na die korrupte optrede van invloedryke individue in die samelewing as ’n vorm van patronaatskap verwys. Die onderliggende gedagte is dat korrupte persone hul posisie en invloed misbruik om hulleself te verryk ten koste van ander.

Die voorkoms van patronaatskap met weldoeners aan die stuur daarvan is nie ’n nuwe verskynsel nie. In die antieke wêreld was patronaatskap trouens ’n algemeen aanvaarde verskynsel. Dit het egter ietwat anders gewerk as vandag en kan daarom nie as ’n sinoniem vir korrupsie in die antieke wêreld verstaan word nie.

Daar is naamlik van weldoeners verwag om hul eie fondse aan te wend tot voordeel van hul stede se inwoners. Só sou weldoeners byvoorbeeld graan aan­koop en dit dan teen ’n laer prys aan armes verkoop, of hulle sou strate plavei of teaters oprig.

In ruil vir hulle weldoenerskap sou hulle deur die owerhede en inwoners van hul stede in die openbaar geprys word.

Moontlik verwys Paulus na die verskynsel van weldoenerskap wanneer hy die Christene in Rome oproep om “goed te doen” sodat hulle deur die owerheid geprys sal word (Rom 13:3). So verstaan, verwys hy nie na hul optrede in hul persoonlike ruimte nie, maar eerder hul optrede in die openbare sfeer.

1 Petrus 2:15 kan ook na dié gebruik verwys. Dit is selfs moontlik dat die stadstesourier, Erastus, van wie ons lees in Romeine 16:23, die persoon was wat deur ’n inskripsie aan plaveisel in Korinte verbind word.

Terwyl Christene aangemoedig is om steeds as weldoeners op te tree van die stede waar hulle gewoon het, waarsku Paulus egter teen ’n afhanklikheid van ander se weldoenerskap. 2 Tessalonisense 3:7-13 verwys naam­lik na die gewoonte van sommige in die gemeente in Tessalonika om op ander te teer, of ’n las op hulle te lê, asook na sommige in die gemeente wat leeglê.

Moontlik verwys hy hier na die gebruik van providentia wat daarop neergekom het dat persone, bekend as kliënte, volledig afhanklik van ryk weldoeners se gunste en gawes was. In ruil vir die hulp het hulle hul weldoener in die openbaar vereer.

Paulus veroordeel dié leefstyl van niks doen nie ten sterkste. Christene moes volgens hom tot voordeel van ander leef. Daarom kan verwag word dat hy die mo­derne verskynsel van patronaatskap, wat op die plunder van openbare fondse neerkom, ten sterkste sou veroordeel het.

Prof Marius Nel doseer Nuwe Testament aan die Universiteit Stellenbosch.