Dié moeder van ‘mamas’ lééf haar geloof

Prof Elain Vlok glo sy het nog báie werk op aarde om te doen. In haar persoonlike lewe, maar ook in Khayelitsha, Ashbury, Mdantsane, Tembisa, Montagu of waar ook al die Mama Afrika-projek haar lei. Want sy doen en dien met dankbaarheid. CONETTE LE ROUX vertel haar storie.


Prof Elain Vlok, ’n lidmaat van NG gemeente Randburg-Suid, onthou dikwels haar oorlede suster se woorde: “Lainie, jy het nog werk op die aarde om te doen”.

Sy het vroeg reeds haar ouers en later haar broer én twee susters aan kan­ker afgestaan. Ook haar man, Deon, is vyf en ’n half jaar gelede oorlede. En sy self veg ook teen die Groot K.

Maar die pas waarteen Elain, wat tans met haar derde doktorsgraad in korporatiewe kommunikasie besig is, doen én dien, het nog nie een dag verswak nie.

“Ek het nooit dat my persoonlike issues soos gesondheid of verlies aan my gesin my lewe beïnvloed nie – my familie sou dit ook nie wou hê nie. Ek is op hierdie aarde met ’n doel geplaas.”

Elain en mama Rosemary Machogo van Mangaung buite Bloemfontein rangskik blomme.

Sy is die bestuurder van Clover se korporatiewe dienste en die Mama Afrika-projek is haar breinkind. Dié projek, wat sy die afgelope 13 jaar reeds bestuur, be­mag­tig vroue om na mishandelde, verwaarloosde vigswesies en bejaardes om te sien.

Tot dusver is 43 “mamas” en 2 054 individue opgelei. Hulle statistiek bewys dat 15 500 kinders reeds positief deur hierdie vroue aangeraak is.

Vir Elain is hulle ook háár kinders: “Ek sê vir almal ek is nie ’n ma nie, maar ek het die voorreg om ma te wees vir die meer as 15 500 kinders na wie al my Mama Afrikas kyk!”

Die opleiding van die mamas behels die aanleer van talle vaardighede. “Ons gee hierdie vroue die nodige hulpmiddele, opleiding en vaardighede om aktiwiteite soos naaldwerk, broodbak, mosaïek, haarsalonne en selfs sweiswerk te leer doen waar­mee hulle ’n inkomste kan verdien vir hulle sentrums,” verduidelik Elain.

Dit is vir haar ook “ongelooflik lekker” omdat die vaardighede wat hulle vir die vroue aanleer, ’n verlengstuk van haar eie passies is. En dié lysie is lank.

Sy bak graag vrugtekoeke, doen professionele blommerangskikkings en is ’n gekwalifiseerde Bio-sculpture-naeltegnikus. En dan droom sy boonop van verpleegster-wees en om ’n haarkapperkursus te doen.

Vanjaar het sy verskeie vetkoekbak-, melktertbak- en vrugtekoekbakkursusse vir dié vroue aangebied. Vir mamas, hulle werknemers of nuwe werknemers nadat vorige werknemers besluit het om groener weivelde te soek, verduidelik Elain. Dít beteken haar taak hou nooit op nie.

Maar dit pas haar. “Jy kan nooit wegstap nie. Ek is soos ’n druppende kraan en hou die hele tyd kontak. Ons hou ook gereeld kompetisies waar die vroue groot pryse kan wen wat hulle aanmoedig.”

Sy het vanjaar ook reeds duisende kilometers afgelê om 26 van dié mamas te besoek. En sy besoek boonop elke mama drie keer per jaar.

Mamas op ’n sonskyn-missie

Soos mama Mirriam Makamu van Tembisa wie se broodbakbesigheid bykans vervierdubbel het. Haar permanente personeel het van 11 na 21 vermeerder en haar oorspronklike huisie is in ’n bakkery omskep. 

Haar bynaam is nie verniet “Elain-lekkerlag” nie.

Mama Nondumiso Mpitimpiti van Amalinda Forest net buite Oos-Londen het van uit die staanspoor hard gewerk en ’n groot prys ontvang om haar sentrum uit te bou met ’n teetuin. Elain sê haar bakkery doen ook baie goed. 

Selestien Moses (37) van Montagu doen reeds die afgelope 15 jaar werk in haar gemeenskap. Haar passie vir die gemeenskap is gebore uit haar eie seerkry, vertel sy. Nadat sy jare gelede twee keer haar babas verloor het, het sy vir die Here gevra wát die doel vir haar seer is.

Selestien sê die Here het vir haar ’n stuk in Nehemia gegee, waar die opdrag gegee word om vroue en weduwees te voed.

Elain kyk saam met mama Florence Nyakiso van Botshabelo, ’n informele nedersetting buite Bloemfontein, na haar groentetuin.

Sy is in 2007 aangewys as ’n mama en sedertdien bied sy naaldwerkklasse aan, bestuur sy ’n bakkery wat ook werk skep vir gemeenskapslede, doen spyseniering én help kinders met hulle huiswerk by haar nasorgsentrum.

Selestien sê: “Ek glo die Here het my uitgekies om sonskyn te wees daar waar dit donker is.”

Elain sê dis juis dié vroue, wat in hulleself begin glo en sodoende lig in hulle gemeenskappe bring, wat haar die brandstof gee om voort te gaan.

“Hulle belangrikste eienskap is hulle onselfsugtigheid, want hulle gee die bietjie wat hulle het en deel alles wat hulle het, met ander. Nie almal sal hulle huise vir vreemdelinge beskikbaarstel, kos, klere en liefde so mildelik gee soos ons Clover Mama Afrikas nie. Hulle kinders is ook wonderlik gedissiplineerd en menige ouer sal met verbasing toekyk hoe ordelik en ordentlik die kinders is wat by die mamas se sentrums is.

“Elkeen van hierdie vroue het ’n eie persoonlikheid en die wonder is hoe ek hulle gevind het, gesien verander het en hoe sterk elkeen is en vandag sonder skroom hul vrou kan staan en waarlik bemagtig is.”

Die engele op haar pad

Dit is nog ’n wonder dat Elain tyd kry vir alles wat sy met soveel passie doen.

“As jy iets gedoen wil hê, gee dit vir die besige mens,” lag Elain.

“Ek streef daarna om goed te doen, in my werk en in my persoonlike lewe, by die kerk … ek probeer oral net my beste gee en doen.”

Natalia Visagie, ’n predikant by Elain se gemeente waar sy ouderling is én in die kerkkoor sing, sê dit is vir haar merkwaardig in hoe baie mense Elain belê, wat weer op hulle beurt in ander belê.

“Ek is ook aangeraak deur die feit dat haar Christenskap in die werksplek uitge­leef word. Haar Christenskap word nie aan- en afgeskakel vir Sondag voor kerk nie, maar word juis aangevuur wanneer sy die erediens verlaat en haar wêreld binnegaan. Dis hoe dit hoort. Ek vermoed baie gelowiges leef nie noodwendig hul Christenskap elke dag uit nie omdat hulle nog nie die volle identiteit aangeneem het nie. Elain bring Christus vir mense deur die wyse waarop sy genade en liefde vir alle mense wys. 

“Sy is een van die min mense wat ek ken wat ’n hele feesmaal sal opkook om Kersfees vir die sekuriteitswagte by haar kompleks spesiaal te maak.”

Elain kuier by mama Sibongile Ndwandwa van Ubombo-kinderhuis in Zoeloeland.

Wanneer Elain oor haar ouerhuis en ma gesels, is dit baie duidelik waar háár inspirasie vandaan kom.

“Ek kom uit ’n huis waar ek aangemoedig is om dinge te ontdek, om te doen en ek dink dit het my veral gehelp. ’n Kind wat ’n goeie selfbeeld het, kry alreeds ’n wonderlike geskenk.”

Maar dis haar ma se voorbeeld en liefde wat haar vandag steeds staande hou.

“My oorlede ma was ’n ystervrou, ’n regte lady wat ongelooflik hard kon werk en vir alles ’n oplossing gehad het.  Sy het vir almal gegee en sy kon alles doen. Sy het in my geglo en ek sal haar nooit wil teleurstel nie. Ek hoor steeds haar stem as sy my aangemoedig het, ek voel haar liefde en aanraking en dit hou my staande. Sy het geglo en die beste geskenk wat sy my kon gee was my geloof in Hom en in myself.”

Elain sê sy sien bewustelik ook die engele op háár pad raak.

“Ek lewe ’n lewe van dankbaarheid, en is ongelooflik gelukkig en geseënd. Ek is alleen maar nooit eensaam nie, ek het so baie engele op my pad. My mamas, my vriende en oud-studente, my kollegas, my kerk, ag almal om my maak net my lewe een groot plesier en ek kom niks kort nie. 

“My Vader is voor my, langs my, oral met my en ek volg net – dit is maklik, want ek weet op wie ek kan vertrou. Ek is op ’n wonderlike plek in my lewe en ek hoop dat met die liefde en aandag wat ek aan ander gee, mense ietsie van sy groot liefde in my ook kan sien.”