Hier is saamwerk sterker as verskille

“Die Apostoliese Geloofsbelydenis is ons saambindende faktor.” Só sê ds Delmarie Viljoen, oor die gemeenskaps­kerke in Springfontein en Gariepdam wat uit verskeie denominasies bestaan. JANA MARX het met haar gesels.


Die dae van stampvol kerke in die platteland is verby – behal­we as al die gemeentes wat Jesus Christus aanbid, een word. Tentma­kerdominee Delmarie Viljoen staan al die afgelope vier jaar aan die stuur van ’n gemeenskapskerk wat oor twee dorpe, Springfontein en Gariepdam, en drie gemeenskappe strek.

“Springfontein het rondom die spoor­weg ontstaan,” vertel Viljoen. “Daar was verskeie gemeentes op die dorp, soos Katolieke, Anglikaanse, Metodiste-, Hervormde, Gerefor­meer­de, VGK- en AGS-gemeentes. Toe spoor­weg­poste opdroog en die dorp se inwoners begin stede toe trek, het die by­wo­ning in hierdie gemeentes drasties af­geneem – soveel só dat hulle hul deu­re sou moes sluit as ons nie ’n plan kon maak nie,” sê sy.

Viljoen sê die Katolieke en Angli­kaanse gemeentes het saam begin kerk hou, omdat hulle uit dieselfde tradisie kom. “Hierdie gemeente het kort daarna met die Metodiste saamgesmelt. Die NG Kerk word toe deel van die gekombineerde kerk, met ’n paar lidmate van die VGK wat kort op hul hakke volg. Daarna het ons ook ’n klompie lidmate van die Hervormde en AGS-gemeentes gekry,” vertel sy. Daar is egter steeds ’n AGS-, VGK- en Gereformeerde gemeente op die dorp.

Die Gariepdam-gemeente het uit soortgelyke om­standighede ontstaan. Die NG gemeente Fauna-en-Florapark, die Anglikane en Katolieke, die Church of England, die dinamiese VGK Hydropark en ander aanbid nou almal saam.

“Die een gemeenskapskerk het dus drie bedie­ningspunte: een by die NG kerkgebou in Springfontein, een by NG Fauna-en-Florapark op Gariepdam en een by VGK Hydropark, ook op Gariepdam,” vertel sy. “Elke gemeente, al bestaan hulle uit verskillen­de denominasies, het ’n eie identiteit.”

Viljoen het ’n wilde roetine. “Die eerste deel van die week doen ek huisbesoek in Springfontein. Daarna werk ek op Gariepdam,” vertel Viljoen, wat saam met haar man, Vernon, en eenjarige seuntjie, Stephan, op Trompsburg woon.

“Sondagoggende begin met ’n erediens op Springfontein. Daarna ry ek Gariepdam toe om betyds te wees vir die volgende diens om 10:30 wat óf by Fauna-en-Florapark óf by Hydropark plaasvind. Ons maak beurte om die diens by die verskillende kerkgeboue te hou.”

Sy vertel dat haar bedieningstyl by elk van die drie bedieningspunte verskil: “In Springfontein, preek ek in Afrikaans en Engels om ook ons Engelse lidmate tegemoet te kom. Dit is ’n meer informele ­diens. Die diens by Fauna- en Florapark is gewoonlik ’n formele, Afrikaanse diens, terwyl die diens by Hydropark in ’n meer informele VGK-styl is.”

Sy vertel hoe sy die oggend voor ’n diens by die gemeente instap en hulle opsom. Dít bepaal dan haar styl van aanbieding daardie dag. “As daar meer Engelse lidmate by Springfontein opdaag, sal ek my preek aan die einde in Engels saamvat. By Hydropark is daar dikwels meer kinders, so preke word dan meer prakties,” sê sy.

Gemeentes wat brûe oor kleur- en taalverskille bou, hou hulle nie op met die debatte oor belydenisskrifte nie. “Die ge­meen­skapskerk bly in die gereformeerde tradisie en ek vind dat die Apostoliese Ge­loofsbelydenis ’n belydenis is wat almal ken en aanvaar. Dis ons saambindende faktor.”

Dis vir Viljoen baie besonders om op dié manier kerk te hou. “Gemeentelede kyk nie vas in konflik nie. Om kerk te wees, beteken hier om saam te werk. Hulle ignoreer die oppervlakkige dinge en raak baie ná aan mekaar,” sê sy.

Sy vertel van ’n onlangse voorval waar ’n blanke man van Gariepdam vermoor is. “Die bruin lidmate van Hydropark was baie lief vir hom. Toe hulle hoor die polisie het verdagtes in hegtenis geneem, het hierdie lidmate by die streekhof gaan betoog om hulle hartseer en woede te laat blyk.

“Die nagmaal het ons eers ’n bietjie laat kopkrap,” vertel Viljoen. “Die Katolieke, Anglikane en Metodiste is gewoond daar­aan om weekliks nagmaal te hou, maar ons doen dit mos ’n bietjie anders in die gereformeerde tradisie. Ons het eers elke maand nagmaal gehou, maar ek was bang dit word afgeplat. Ons hou nou eenmaal elke tweede maand nagmaal,” sê sy. “Die Her­­vormers kry die beker en die ander kry kelkies en broodjies.”

Dié gemeenskapskerk het dieselfde uitdagings wat kerke deur die bank in die platteland ervaar. Viljoen kry weekliks te doen met maatskaplike probleme soos siektes en werkloosheid. “Dis opmerklik hoe die gemeente raaksien wanneer die gemeenskap swaarkry. Op ’n stadium het die crèche in Mapodi, die swart gemeenskap by Springfontein, nie kos gehad nie, omdat die staat nie betyds die maatskaplike toelae betaal het nie. Die Springfontein-gemeente het uit hulle beperkte fondse vir hierdie kleuters gesorg totdat die staat hulle kant gebring het.”

Springfontein en Gariepdam is elke dag besig om brûe oor alle grense te bou. Is dit nie presies wat Jesus vir sy kerk in gedagte gehad het nie?