Stellenbosch-Welgelegen doleer oor 2016-besluite

Die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen treur nou amptelik. Die kerkraad het op 29 Augustus besluit om te doleer (treur) na aanleiding van die buitengewone Algemene Sinode van 2016 se besluite oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Die kerkraad sê in ʼn verklaring dolering “gee uitdrukking aan die gemoedstoestand van die gemeente en die belewenis van kerkwees wat die gemeente binne hierdie situasie beleef”. Die kerkraad het haar reeds vroeër van die 2016-besluit gedistansieer.

Die kerkraad se besluit sê onder meer:  “Die kerkraad treur ómdat sy oortuig is daarvan dat die goeie nuus van die evangelie vir alle mense beskore is. God se genade kan slégs ontvang word, aangesien dit nie op grond van ras, gender, of seksualiteit geskenk word nie. As begenadigdes treur ons ómdat die kerk in die naam van die evangelie genadeloos handel met mense.

“Die kerkraad treur óór die hantering van kerklike besluite en kerklike gesprekke oor selfdegeslagverhoudings en erken ons eie aandadigheid hieraan. As begenadigdes treur ons óór kerklik geregverdigde diskriminasie wat bykomende kriteria of voorwaardes aan gay lidmate stel vir insluiting by sekere ampte van die kerk.

“Die kerkraad treur sáám met gay lidmate, familielede en vriende van gay persone en alle mense wat pyn en geweld aangedoen is deur die ASM en AS se hantering van besluite oor selfdegeslagverhoudings. As begenadigdes treur ons sáám met mense wat deur die kerk pyn en geweld aangedoen ís en aangedoen word.”

Die kerkraad beklemtoon verder dat die dolering op kerklike wyse en in kerklike taal uitdrukking gee aan haar betreuring van kerklike sake. Die doel is nié afskeiding of afstigting nie. Dis nié skeurmakery nie. Die kerkraad koester eenheid en bly verbind tot die hereniging van die kerk.

Die kerkraad vra die Wes-Kaapse sinode om ʼn gravamen op te stel wat by die volgende algemene sinode beswaar maak teen die Algemene Sinodale Moderamen se hantering van die Algemene Sinode se besluit van 2015 oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Dit moet ook beswaar maak teen die regstegniese hantering van gravamina en appèlle teen die 2015-besluite by die sinode van 2016.

Verder vra die kerkraad die Wes-Kaapse sinode om ʼn alternatiewe besluit te neem teen enige vorm van diskriminasie teen mense op grond van hulle seksuele oriëntasie, en om dié besluit deur te stuur sodat die Algemene Sinode van 2016 se besluit oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag daardeur vervang kan word.

Stellenbosch-Welgelegen het ook ʼn Hervormingsdaggetuienis uitgereik wat sterk klem lê op die insluitende genade van God. Die volledige getuienis lui:

Hervormingsdaggetuienis

Vanjaar herdenk Protestantse kerke wêreldwyd die 16de eeuse Hervormingsbewegings, en dan spesifiek die feit dat dit 500 jaar gelede is dat Martin Luther volgens oorlewering sy 95 protes-stellinge teen die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg vasgespyker het.

Hierdie herdenking is vir ons as gemeente van Stellenbosch-Welgelegen ‘n geleentheid om in ‘n gees van dankbaarheid en verootmoediging ons Protestantse en gereformeerde nalatenskap te vier. Die fokus op die regverdiging deur die geloof uit genade alleen behoort tot die hart van dié erfenis.

As gemeente van Christus getuig ons graag aangaande die oorvloedige genade van God wat ons ryklik en vrylik in Christus ontvang het en deur die Gees deel aan het. Ons is inderdaad begenadig. Ons glo dat almal dié genade nodig het. Ons glo dat hierdie genade vir álmal is.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons as kerk nie altyd hierdie genade weerspieël nie. Baie mense assosieer die kerk daarom nie met genade nie, maar met uitsluiting en veroordeling. Ons treur oor die harde ongenaakbaarheid en liefdeloosheid wat dikwels op subtiele maniere, maar soms ook heel kras, in ons harte en in ons midde leef.

Ons glo egter dat daar in die lig van die ruimhartige genade van God geen ander kriteria of voorwaardes vir volledige aanvaarding, lidmaatskap, en deelname aan ál die ampte in die kerk kan wees as geloof in Christus nie – nie ras, klas, gender of seksuele oriëntasie nie. Christus alléén is die hoeksteen van die kerk.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om verwelkomend te wees teenoor alle mense en waarderend ten opsigte van mekaar se unieke gawes.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons dikwels leef asof God se genade net vir mense is wat op ‘n manier maar soos ons is en lyk; mense wat óns taal praat, óns kultuur deel, óns gewoontes het. Ons treur oor hoe hierdie houding ons verlede moreel verarm het en hoe die logika van geskeidenheid en rassisme in ons harte en praktyke ‘n tuiste gevind het.

In ‘n land en wêreld waar daar opnuut weer kragte aan die werk is wat ons wil laat terugtrek in nouer verbande van bloed en groep, glo ons wel dat die kerk – as die een liggaam van Christus – ‘n alternatief op hierdie verharding van grense en groeiende polarisasie moet en kan bied. Ons glo dat die kerk wat in Christus één is aan hierdie eenheid sigbare gestalte moet gee. In Christus het immers één nuwe mensheid tot stand gekom.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om die kragte teen te staan wat verdeel en vernietig, en om ons te beywer vir dit wat heelmaak en lewe gee.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd die materiële seëninge wat ons uit genade uit God se hand ontvang, genoegsaam raaksien of uitdeel nie. Ons treur oor die ekonomiese ongelykheid, sistemiese onreg, onmenslike uitbuiting en blatante korrupsie wat ons samelewing stempel, en erken dat ons eie voorspoed en teenspoed ten nouste hiermee verweef is.

Ons glo nogtans dat ons ‘n God aanbid wat die krete hoor van hulle wat uitroep te midde van hulle ervarings van nood, verontregting, pyn, en ontworteling. Die God wat ons in Christus en uit genade alleen regverdig verklaar is die God wat geregtigheid herstel.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om dit wat ons uit genade ontvang het vrymoedig met ander te deel, om te protesteer teen onreg en ontmensliking, en om mee te werk aan ‘n wêreld waar mense en die hele skepping floreer.

As begenadigdes treur ons oor die feit dat ons nie altyd weet hoe om die goeie nuus van God se genade uit te leef nie. Te midde van groeiende sekularisme, ook in ons eie harte, en skadelike vorme van godsdiensbeoefening, ook in ons eie kringe, is ons daarvan bewus dat ons dikwels faal om die evangelie op ‘n geloofwaardige wyse aan ons kinders, ons vriende, en aan vreemdelinge oor te dra.

Ons glo desnieteenstaande dat die evangeliewoord van genade, al lyk dit broos, en praktyke van genade soos die doop en nagmaal, al lyk dit vreemd, ‘n vernuwende en lewegewende krag besit.

Dáárom verbind ons onsself, hier en nou, om as geroepenes en gestuurdes gedurigdeur oop te bly dat die evangelie van genade ons verras en verander, en om voortdurend aangaande die hoop wat in ons leef, te getuig.

As gemeente van Stellenbosch-Welgelegen – as begenadigdes wat genadig wil leef – dank ons God, die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is, vir die standhoudende genade wat in Christus aan ons geskenk is.

Om aan Christus, ons Heer, te behoort, is nie net ons beste troos nie, maar ons énigste troos.

NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen
29 Augustus 2017