Glo en doen

’n Belangrike deel van ons gereformeerde erfenis is dat ons glo ons redding is ’n geskenk van God. Ons kry dit uit genade alleen. Ons hoef nie te werk om dit te verdien nie. Genadiglik! Want ons kan dit nie verdien nie. Ons ont­vang dit deur geloof alleen.

Hierdie insigte vier ons in die herdenking van die groot Kerkhervorming van 500 jaar gelede.

Tog word daar in die Skrif – en ons sê ook die Skrif alleen is ons rigsnoer – klem gelê daarop dat ons ons ge­loof in dade moet omsit. Jesus sê vir die ryk jongman hy moet sy goed gaan verkoop en die geld vir armes gee. Hy sê wanneer die oordeel kom, sal dit gaan oor of ons vir die geringstes gesorg het: die hongeres, dié wat dors is, dié sonder klere of heenkome, die siekes en die ge­vangenes.

Dit is ook waartoe die NG Kerk en ander denominasies hulle gemeentes en hulle lidmate aanmoedig: ’n doen­geloof. Dit, so word gesê, is waartoe God sy kerk roep en stuur. Dit is wat missionale kerkwees inhou.

Hoe bring ons die twee bymekaar uit? Hoe rym ons die gedagte dat dade ons nie kan red nie, met die klem wat op dade geplaas word?

Miskien lê dit in die volgorde. Dade kom nie eerste nie. Dade is nie die begin van ons geloof nie. Die ge­loof loop uit op dade. Daarom dat ons in Galasiërs 5:6 lees dat al wat van belang is, die geloof is wat in liefde tot da­de oorgaan.

Die dade is nie die rede vir ons redding nie, maar dit is die getuienis van ons redding. Dit is hoe ons konkreet van God se liefde getuig.

Die geloof móét oorgaan in dade. Dis onvermydelik. Sonder dade, lees ons in Jakobus, is die geloof son­der meer dood.