Gangsters is mense op soek na ’n familie

Jy is rustig in die kombuis besig met aandete. Skielik klap skote. Al weer. Naby. Binne ’n oogwink is jou buurt ’n oorlogsone: Mense gil, hardloop, hamer aan jou deur, roep jou naam: “Kom, kom, dis jou kind!” ANNA­LISE WIID het vir dr Llewellyn MacMaster gevra: Hoe is ’n mens kerk in gemeenskappe waar bendes koning kraai?


Bendes is ’n mak woord. Dit herinner aan skoolseuntjies en kattekwaad. Of, as dit wel beelde van straatbendes by jou oproep … In die ou dae was húlle ook makker, vertel Llewellyn. Daar was dagga- en Mandrax-misbruik. Messteek. Gang fights. Maar deesdae is dit anders. Erger. Meer buite beheer as ooit.

Die historiese wortels van bendebedrywighede loop baie diep. Tronkbendes het ook ’n langer geskie­de­nis as die straatbendes. Vroeër was dit so: Die ben­des in die woongebiede was rof en ongeskik. En, ja, hul­le het groot skade gedoen en by tye roekeloos ge­skiet. Maar die rêrige rowwe ouens, die heel ergstes, was in die tronke. In die “nommers”, soos die 26’s- en die 28’s-tronkbende, bekend staan.

As ’n gewone gangster vroeër jare tronk toe gestuur is, het die nommers hom gebruik, waarskynlik met hom gemors ook, maar as hy vrygelaat is, het hy terug­gegaan na sy eie gang. Die Born Free’s of die Cape Town Scorpions, of so.

Die voorblad van die pamflet oor bendes wat dr Llewellyn MacMaster geskryf het. Gemeentes kan dié pamflet by die Christelike Lektuurfonds bekom.

Nou het die grense vervaag. Selfs verdwyn. Die nom­mers is nou buite die tronk ook. En vir ’n man wat in die tronk deur vertrouensrituele deel van ’n bende geword het, word die straatbende ’n byna natuurlike tuiste. Alles dra by tot die huidige kompleksiteit van bendes en bendebedrywighede.

Llewellyn het sy doktorsgraad in Praktiese Teologie verwerf. Die tema van sy proefskrif was: “In search of a Family: The challenge of gangsterism to faith communities on the Cape Flats”. Sy bediening as predikant het in Bishop Lavis begin – ’n oorwegend werkersklaswoonbuurt op die Kaapse Vlakte, met hoë vlakke van werkloosheid. Bendes floreer daar. Llewellyn weet dus waarvan hy praat. Of hy weet ten minste baie meer as ek en jy. Maar, weet ’n buitestander ooit werklik hoe sinister draai die ratte in die geheime binnewerke van ’n gang?

Llewellyn het ook ’n meestersgraad in Kliniese Pastoraat. Hy het aanvanklik met ’n BSc-graad begin, tot bekering gekom, en toe twee jaar geneem om eers seker te maak: Wil hy, moet hy, werklik predikant word? Hy was, ná Bishop Lavis, studenteleraar by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en dosent, vise­rektor en waarnemende rektor by Hugenote Kollege. Ook studentedekaan by die Universiteit Stellenbosch waar hy in een jaar 14 stu­­dentesterftes moes hanteer. “Die goed vat so aan jou. Waar mense stukkend en broos is, maak kleur nie saak nie.”

Hy dink, tot baie mense se argwaan, die naaste wat ons aan begrip van bende-aktiwi­teite gaan kom, is om dit met sommige universiteite se ont­g­roe­ningspraktyke te vergelyk: die inlyf-rituele, tot geheimhouding sweer, rang­orde, magspel van die “menere”, dapperheidstoetse, ver­nedering en beheer van die mindere … Die alles­oorheersende dwang of smagting om “in” te wees, te behoort. In vergelyking met die gangs, weliswaar op veel kleiner skaal en nie doelbewus krimineel nie, maar dieselfde patrone. En dikwels ook maar net gewonde mense “in search of a family”.

Sedert 2009 is Llewellyn betrokke by die VGK Belhar Gestig, met spesiale opdrag: Lidmaattoerusting. En vanaf verlede jaar, toe sy kollega, ds Paulus de Wet, Springbok toe skuif, is hy, met groot “inner peace”, weer volledig en voltyds dominee van die gemeente.

Llewellyn het onlangs die pamflet Hoe gemaak met die gangs? geskryf vir die Christelike Lektuurfonds. Vir sy meestersgraad het hy, in ’n minitesis, gefokus op die trauma van geweldsmisdaad op geloofsgemeenskap­pe. Weereens: Hy weet waarvan hy praat.

Die stukkend is oral. Armoede. Werkloosheid. Af­we­sige pa’s. “Ons vind dikwels ’n soort progressie wat begin by skynbaar onskuldige ‘corner gangs’ waarin jong seuns wat betrokke is, rituele doen om hul bravade te toon of te bewys. Hierdie bendes begin later vir hulleself ’n gebied afbaken om te beheer teenoor ander mededingers”, skryf Llewellyn in die CLF-pamflet.

Dr Llewellyn MacMaster spreek die seën uit. Die foto is geneem op die dag dat sy eerste 30 jaar in die bediening gevier is.

In bruin gemeenskappe kom die gang-ding dikwels oor geslagte al aan. Oupa, pa, seun. Waar pa’s afwesig is, staan gangsters, wat groot mag en invloed het, dikwels as “vaderfigure” in. Neem jong seuns onder hulle vlerk, beskerm hulle, gee werk, status, kos op die tafel.

Die afgelope jare het groot skuiwe gebring. Dwelms het baie meer geword. Verander. Tik, wat voorheen nie eens bestaan het nie, voer nou ’n gewelddadige heer­skappy. Kokaïen, heroïen, harde dodelike goed. Llewellyn skryf: “Die aanbreek van die demokratiese era in Suid-Afrika het ons tradisioneel ‘veilige’ lands­grense oopgestel vir internasionale misdaadsindikate wat die kwesbaarheid van ons veiligheidsmagte uitge­buit het met hul uiters gesofistikeerde metodes. Hier­die sindikate (waaronder Russiese, Nigeriese en Chi­ne­se sindikate) het in plaaslike straatbendes uit­stekende vennote in misdaad gevind. Hulle voorsien die dwelms en die bendes verskaf die afsetgebiede. In Kaapstad word beraam dat ruweg 12% van jongmense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar dwelms gebruik, dws on­geveer 120 000. Die onwettige handel in dwelms is dus ’n uiters winsgewende bedryf waarby miljoene rande betrokke is. Die gewelddadige ver­de­di­ging van afsetgebiede word dus ’n by­na alledaagse verskynsel in woonbuur­te.”

Dit breek ons gemeenskappe af, sug hy. Korrupte polisielede en trae politici help ook nie. En die plaaslike drug lords en gang leaders het soveel geld gemaak! Hulle is gelig van Bishop Lavis se armoede tot Plattekloof-parvenu’s. Met onge­looflike mag. Wat mense help, maar net om beheer te kry. Hulle dreig: Ek sal jou help, maar onthou dan skuld jy my.

Of hulle koop die gemeenskap se lojaliteit, hou hulle afhanklik. “Soos die Staggies destyds. Hulle het deur die strate gery en links en regs R10’e vir die kinders uitgedeel. Ralph Stanfield, beweerde leier van die 28’s, is ’n man wat “Easter money” in die “community” kom uitdeel. Hy sê: Easter moet niemand sonder geld sit nie. Deel ook nie sommer voor die voet uit nie, hoor. Praat eers met die mense. Hoor wat hulle behoefte is. Gee daarvolgens. Hy doen wat die kerk graag sal wil doen, maar nie kan nie. Ons het mos nie daai soort geld nie.”

Wat doen die kerk dan om die gemeenskap te help heel? “Ons mense in die fletse (woonstelle), hulle leef in vrees. Nou die dag weer is ’n jong man en sy kleinnefie van vyf jaar gewond toe daar sommer uit die niet op mense geskiet is. Vroue hou die strate deur hulle vensters dop. Waarsku mekaar. Mens is bekommerd. Die laaities wat gangsters word, is al hoe jonger. En roekeloos. Hulle skiet indiscriminately.”

Llewellyn haal Don Pinnock aan, skrywer van Gang Town, die boek waarin die “Cape van Cape Town” doodgetrek en met die woord “Gang” vervang is: “Seuns wêreldwyd het ’n behoefte aan oorgangsrites.” Hy vra: “Het ons kategese te veel vergeestelik? Kan ons be­­­lydenisaflegging – wat in ons gemeenskappe iets groot is – verder bedink? Ont­­­wikkel? Iets meer signi­fi­cant daarvan maak vir die jongmanne?”

Wat die kerk doen is dalk die verkeerde vraag? Hoe is die kerk? “Consistency is nodig as ’n mens sistemiese faktore wil aanspreek. En samewerking van die rege­ring, skole, polisie, gemeenskapleiers, almal.” Llewellyn het self, as predikant, geworstel met die instuur van die weermag. Nog geweld? Nog bloed? Tog, dalk net as tydelike ingrype wat sal help?

Hy wens dit was so maklik soos vinnig ingryp en alles is reg. Maar moenie die krag van gebed onderskat nie. Die vrouediens het gevra dat hulle elke Saterdag­oggend vir ’n uur saam bid. “Die sistemiese goed kan jou dooddruk. Die oormag is soms so oorweldigend. ’n Mens wonder: Maak ons ’n dent as ons bid?” Ja. In die erediens staan mense op tydens intersessie. Hulle staan vir hulleself. En vir ander.

“Missionaal beteken gaan. Maar hoe gaan ons?” dink hy hardop. “In strate in waar outjies soms geskiet word omdat hulle nie aan die gangs wil behoort nie? Omdat hulle dapper en gelowig en beginselvas is? Dis real hier. En verlammend. Ons is ’n toeganklike kerk. Ons sê ‘kom’. Maar wat van gaan? Ons het die teologie, maar het ons die verstaan en die verhoudingsvaardighede? Dalk is die grootste rede vir ons onbetrokkenheid vrees om ‘buite die laer te ly’ – soos Christus.”

’n Koerantberig uit 1994, toe ’n jong ds Llewellyn MacMaster reeds deur die plaaslike polisiëringsforum in Bishop Lavis gemoeid was met die stryd teen bendegeweld.

Hoe word die kerk ’n skuiling in dié verskrikking waar ’n lidmaat in die ring vir ’n dominee sê: “My eie seun is ’n hit man”? Die kerk as sigbare teken. Teiken. Teenpool. “Ons vat hande in plaas van om te verdeel. Is gasvry en veilig vir mense in search of a family. Om dít in die oog te hou met gangsters is moeilik. Dis makliker om oogkontak te vermy. Soos met die robot-bedelaar: Wat ek nie sien nie, raak my nie. ’n Soort van selfbeskermende onverskilligheid. Ons skram weg: om my, maar nie aan my nie.”

Llewellyn fokus op wat positiewe energie gee. Hy onderskryf ’n teologie van die lewe. “Affirmation”. Ruim­te vir eg-wees.

“Ons verwondheid is nog nie genoegsaam aan­ge­spreek nie. Mense raak weer toe­nemend hard teenoor mekaar. Wat bepaal die waarde van lewe? Hoe sê jy dit vir men­se wie se le­wenswaardes be­paal word deur ‘waar hulle is’? In ’n criminal eco­nomy waar geld práát, waar mense so afhanklik leef van die gang lea­der se aalmoese dat ’n ma by sy verhoor voor die hof skreeu: ‘Wie gaan nou vir onse kinders sorg?’”

Het liefde tóg nog ’n rol te speel? “As jy kyk na Efesiërs 1 uit die wêreld se oë, kyk jy dit mis – die Gees se krag wat in ons werk, die resilience van ’n kerk wat aanhoudend die werk­lik­heid van geloof, liefde, vrede onder mekaar bevestig.” Wat nie mee­ge­sleur word nie. Staan­­de bly. Fa­milie bly. Ten spyte van. Te midde van.