Rassisme, almal se groot vyand in ons geliefde land

SAAM IN SUID-AFRIKA
Onder redaksie van Pieter van Niekerk en Chris Jones
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017


Af en toe verskyn daar ’n boek waarvan ’n mens kan sê dis tydig, dis ter sake, dit tref die kol. Saam in Suid-Afrika is so ’n boek. Pieter van Niekerk en Chris Jones het met hulle medewerkers ’n boek saamgestel wat vir hierdie tyd in Suid-Afrika broodnodig is.

Die redakteurs se eie bydrae handel oor post-apart­heid-Suid-Afrika en rassisme, ras en klas, ’n waar­degedrewe samelewing en remedies vir ons si­tua­sie. Daarmee saam het hulle ’n aantal interessante men­se saamgetrek om uit eie perspektief oor ons land en sy mense (en rassisme) te skryf. Winnie Nel en Stefaans Coetzee skryf oor wit gewete; Jesse Steyl en Danai Tembo oor skole, haarstyle en vreemde kyke; San­dile Ngobeni en Leslie van Rooi oor Stellenbosch se pyne; Shahieda Abrahams en Jean Oosthuizen oor belewenisse aan weerskante van die spoorlyn; Jan Grobbelaar en Karlien van Wyk oor ons wat rassiste is; Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman oor ouers wat by hulle seuntjie leer; Wouter Wessels oor sondebokke; Pieter van Niekerk oor ras, ’n pas, gasvryheid en dominee-wees; Desmond Tutu oor Suid-Afrika in die midde van apartheid, en Ivor Price oor ’n jammerlike Price-vakansie.

Net as ’n mens dink die aanbieding is alte eensydig – Sandile Ngobeni, PhD-student en EFF-lid, se sie­ning oor wat op Stellenbosch aan die gebeur is, maak ’n mens warm onder die boordjie – trek Wouter Wessels, LPW en onderleier van die VF Plus in die Vry­staat, die skaal na die ander kant toe. Sommige van die deelnemers se belewenisse laat jou skaamkry oor wat ons mekaar al in hierdie wye, droewe en wrede land aan­gedoen het. Alte dikwels was dit louter rassisme – die neerkyk op en minagting van “die ander” –  wat die botoon gevoer het.

Die redakteurs meen dat daar ’n toename in veral kru vorms van rassisme in Suid-Afrika te bespeur is en skryf dat die jaar 2016 by uitstek vir sy rassespanning onthou sal word. Volgens hulle stel geloofsgemeenskappe soos kerke en gemeentes grootliks teleur. “Hulle sukkel om die evangelie van inklusiwiteit sigbaar te realiseer en ’n alternatiewe gemeenskap van ‘een nuwe mensheid’ (Ef 2:11-22) te mobiliseer” (bl 14). Geïntegreerde, diverse geloofsgemeenskappe is uiters skaars en almal is in hulle eie hoekie besig om saam met hulle eie mense kerk te hou, skryf hulle. “Dit is hartseer. ’n Kerkgebou op Sondagoggende met net wit of slegs swart gesigte, kan tog nie volwaardig kerk wees nie.”

Dalk lê die skrywers te min klem op wat tog al wel die laaste twee dekades op kerklike gebied gedoen is om brûe te bou en na mekaar uit te reik. ’n Ideale si­tua­sie sal ons seker nooit in Suid-Afrika kry nie, maar die gewilligheid, juis ook by baie kerke en sommige kerkmense, om in die regte rigting te beweeg, moenie misgekyk word nie. Daarby moet gesê word dat die werklikheid van spirituele en kulturele verskille onder Suid-Afrikaners nie ontken mag word nie, maar ook nie as verskoning gebruik mag word om maar niks te doen nie.

 Verskeie “remedies” word aan die einde van die boek in die stryd teen rassisme aangebied:

  • Omhels verskille in kulture eerder as om dit te ignoreer.
  • Doen moeite om mekaar oor grense heen te leer ken.
  • Erken dat mense van enige kleur rassisties kan optree sodat ons alle vorme van rassisme kan bekamp.
  • Rassistiese aanmerkings rondom die braaivleisvure en elders moet met hand en tand beveg word.
  • Ons is álmal Suid-Afrikaners, ons “hoort” álmal hier.
  • Ons dra almal die beeld van God.