Dis tyd om sola scriptura te leef

Sola scriptura! – die Bybel alleen – is een van die hoekstene van die Reformasie. In ’n wêreld waar ge­lowiges moes luister na wat die priesters en bis­koppe oor die Bybel sê en waarin die gesag en die uit­sprake van die pous aan die gesag van die Bybel gelykgestel is, was die herfokus van die hervormers op die Bybel niks minder as ’n wonderwerk nie.

Van Luther se eerste vertaling van die Nuwe Testament is binne drie maande bykans 5 000 kopieë ver­koop. In die opvolgende jare is meer as 200 000 kopieë ver­koop. Hierdie syfers wys dat daar ’n onversadigbare honger na die Bybel was. Lidmate wou dit self lees!

Luther se ballingskap het hom in staat gestel om die hele Bybel te vertaal en teen 1534 was die Bybel in Duits in die hande van gewone gelowiges. Dit is daarom nie vreemd dat ’n bekende kerkhistorikus oordeel dat die vertaling van die Bybel in Duits, Luther se mees uitstaande werk was nie.

Met reg kan gesê word dat die Reformasie weer aan die Bybel sy regmatige plek in die kerk gegee het. Dit is gelees, gepreek en bestudeer. Luther self het op ’n keer opgemerk dat prediking sonder grondige eksegese van die teks nie die verkondiging van die evangelie is nie.

Waar laat dit ons 500 jaar later? Die vraag moet ge­vra word of ons regtig nog ernstig is oor die Bybel? Eint­lik hoort so ’n vraag nie in ’n gereformeerde kerk nie. Tog mag die antwoord op hierdie vraag ons dalk net op ’n plek bring waar die kerk was voor die Refor­ma­sie – ’n kerk waarin die Bybel wel plek het maar nie meer sentraal staan nie.

Die wyse waarop kansels – die simboliese fokus­pun­te van die Bybel wat sentraal is in gereformeerde ere­dienste – in al meer kerkgeboue afgebreek word, is dalk net ’n sigbare aanduiding van dit wat met die Bybel in lidmate se lewe gebeur het. Die skokkende swak Bybelkennis van baie jonger lidmate bevestig hier­d­ie feit.

As dit waar is dat ons nog ernstig is oor die Bybel, dan daag die 500-jarige herdenking van die Reformasie ons uit om opnuut seker te maak dat die Bybel sentraal is in die lewe van die kerk.

Dan moet ons prediking gebou wees op grondige diepgaande eksegese van die Woord. Ons moet lidma­te aanmoedig om hulle Bybel met nuwe ywer te lees en ons moet hulle opnuut uitdaag en geleenthede skep om die inhoud van die Bybel te leer.

Dalk het dit opnuut tyd geword om nie sola scriptura te sê nie, maar om dit te begin leef!

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.