Dis huiskos deur ’n bobaaskok

MATTHEW FOR EVERYONE (in 2 volumes)
Deur NT Wright
Uitgegee deur Westminister John Knox


Uiteet is lekker maar dit is nie vir elke dag nie. Daarvoor is daar huiskos: iets eenvoudiger wat gesond en smaaklik is.

Tom Wright se akademie­se boeke oor Jesus en die ko­ninkryk van God is baie bekend en eintlik verpligte leess­tof vir enige dominee wat met die nuwe insigte oor die Nuwe Testament wil werk. Maar dit is soos ’n ete by ’n puik restourant – jy doen dit nie in die ver­bygaan nie.

Vir huiskos het Wright ’n hele reeks boeke geskryf met die titel: New Testament for everyone. Dit is soos ’n kommentaar, maar vir almal. Hy begin elke keer met die teks, gevolg deur ’n storie en dan ’n verklaring van die gedeelte. Hy weef ook meestal die spesifieke teks se boodskap in die groot lyne en boodskap van die boek in.

Een van my gunstelinge uit die reeks (en daar is baie) is Matthew for everyone. Die rede hoekom ek dik­wels sommer ’n hoofstuk of drie lees al hoef ek nie daaruit te preek nie, is omdat Matteus se hoofboodskap en Tom Wright se passie: die aanbreek van God se koninkryk, hier so mooi bymekaarkom.

Ek dink hierdie insigte is super-belangrik as ons dink oor die kerk se roeping in Suider-Afrika. Ons moet in hierdie tyd ons roeping as medewerkers in God se ryk baie ernstig opneem. Dit vra dat ons baie deeglik verreken wat dit beteken dat Jesus God se koninkryk verkondig en dat Hy ons roep vir ’n lewe onder God se heerskappy. Dit is ook ’n sleutel om ons mis­sionale roeping te verstaan: Wat beteken dit vir gewone Christene om onder die heerskappy van God te leef? Wright help ons in eenvoudige taal om hierdie ingrypende boodskap vir vandag se mense te vertaal.

En dan is dit nog so lekker geskryf ook! As ’n do­minee teen Vrydag nog nie ’n preek het nie, kan jy ’n hoofstuk uit hierdie boek ’n klompie kere deurlees en dan het jy sommer al halfpad gevorder.

Om hierdie boek te lees, is soos om by ’n Masterchef aan huis te gaan eet. Die kos lyk dalk eenvoudig, maar jy kan die hand van ’n meester nie miskyk nie.

Dr Lourens Bosman is leierleraar van die NG gemeente Lux Mundi in Pretoria en ondervoorsitter van die Oostelike Sinode se Sinodale Diensraad.