Gee die vrou ’n kans

Ds Zachie le Roux van Elspark-Suid skryf:

Mag ek jou voorstel aan Ronel? Dan plaas jy jouself so ’n bietjie in haar skoene.

Ronel het in 2010, na aanleiding van Jesaja 6:8 – waar­aan sy nou nog vashou – op 42 en met ’n man en drie kinders gaan teologie studeer aan Tukkies. Sy het op daardie stadium ’n goeie pos en ’n goeie inkomste ge­had. Destyds, sê sy, was daar “sterre in my oë – het dit nou nog, ek gaan maar net deur storms van hoop en blydskap en teleurstelling”.

Sedert Oktober 2015 doen sy aansoek by gemeentes ter wille van ’n beroep. By 13 gemeentes het sy al ’n “proef­preek” gaan doen nadat sy dit tot op hul kortlyste gemaak het. Drie keer het sy al die lang pad aangedurf Namibië toe saam met haar man vir hierdie rede.

Die afgelope meer as ’n jaar is Ronel betrokke by ’n gemeente aan die Oos-Rand waarheen sy ry, Sondag vir Sondag – vanaf Pretoria waar hulle woon – om daar die erediens te gaan lei en die belydenisklas te behartig. Die gemeente kan/wil haar nie beroep nie, want hulle voel hulle het te min geld daarvoor.

Sy begin nou al dink dat haar vrouwees en haar ou­derdom teen haar tel. Dis vir haar regtig sleg dat sy nie die sakramente mag bedien nie, want sy is nog nooit geor­den nie! Want sy het nog nooit ’n beroep gekry nie.

Ronel rapporteer die volgende emosies: “Verwag­ting, hoop, opgewondenheid, voorreg, blydskap, in­ten­se teleurstelling, magteloosheid, neerslagtigheid – baie trane al gestort.”

Nou wil ek net graag vra: Is dit dan nou billik dat hier­die vrou so moet sukkel? Dis myns insiens ’n bitter lomp sisteem wat mense toelaat om hulleself te gaan bekwaam ter wille van die sisteem en dan verder net mooi niks doen om hul vaardighede te benut nie.

Asseblief! Gee die vrou ’n kans!