Koos laat driedubbeld van hom hoor

Koos van der Merwe is vir baie mense sino­niem met sy onsterflike Houtkruis. Die laas­te paar jaar het hy egter die Cohen- en Dylan-landskap deurkruis, en dit in luisterliedjie-Afrikaans. Nou toer hy deur die land om ’n album van sy eie Afrikaanse liedjies, Droom Martha Droom, bekend te stel.

By dié geleenthede sê hy, so half terloops, dat van sy geestelike musiek van die afgelope 30 jaar nou ook op ’n nuwe dubbel-CD genaamd Vlugplek be­­skik­baar is. Dít is ’n skat wat nie ongemerk verby moet gaan nie.

Afrikaanse geestelike musiek val merendeels in die genre van lofprysing. Daarom word dit ook soms gekritiseer oor die eensydigheid daarin. Daar is net lof. Waar is die klaaglied byvoorbeeld? Waar is die liedere vir Lydenstyd?

In dié opsig lewer Koos van der Merwe ’n waar­devolle bydrae. In een lied sing hy byvoorbeeld hoe die engele in die hemel die Heer se lof besing. Hy wou deel wees van die oomblik, maar kon die he­mel-Heer nêrens kry nie. En toe hoor hy die Gees vir hom sê:
Ek is by gebreekte mense
Ek maak stukkendes weer heel.

Dit is tiperend van Koos se geestelike musiek. Dit is intens bewus van pyn, van krake, van stukkend wees – maar ook van God wat daar is, te midde van die pyn en krake.

Die musiek op Vlugplek is nie musiek vir gemeentesang nie. Dit is, soos die titel aandui, musiek om alleen na te luister, musiek vir daardie tye wat ’n mens voel om weg te vlug. Dis musiek wat menswees verstaan en steeds aan God bly vashou.

Gelyklopend met die musiekalbums, verskyn daar ook ’n nuwe digbundel van Koos van der Merwe, getiteld Nagverse. Dit is op ’n unieke manier geïllu­streer deur Koos se dogter, Claudi. Koos skryf in sy bundel aangrypend oor die liggaam, siel en gees van die mens, waarná in verwondering gedig word oor die “Alom U”.

Al drie – die digbundel, die geestelike album en die luisterliedjies – is vintage-Koos.