Om ’n Christen te wees, is om liefde te bring

Elkeen het sy eie belewenis van wat kerk is. Dit maak minder saak wat die kerk vir jou is, en meer saak dat die kerk iets vir jou is. Vir my is die kerk liefde.

In jou studentejare word jy baie keer gevra: “Hoekom hou jy aan kerk toe gaan?” Wanneer hierdie vraag gevra word, moet jy reg wees om jou oortui­gings aan ander te verduidelik. Hierdie is nie die tyd om ander te oorreed van jou standpunt nie, dis ’n ge­leent­heid om jou storie met ander te deel.

My motivering vir waarom die kerk liefde is, is eintlik baie eenvoudig: Die kerk is die liggaam van God en God is liefde, dus moet die kerk ook liefde wees.

Om hierdie prakties uit te leef is wel moeiliker. Dit behels ’n plek waar jy sorgvry kan wees, waar jy jou moeilikhede met ander kan deel en wysheid kan vra. Dit is ’n plek waar jy kan huil, lag en sorgeloos wees. Dis ’n plek waar jy nie beoordeel of veroordeel word nie. Dit is ’n plek waar jy jouself kan wees.

Die kerk het in baie se gedag­tes sinoniem geword met ’n gebou en, ja, jy ervaar hierdie liefde as jy na die gebou gaan. Maar, die kerk is ’n liggaam wat konstant aan die beweeg en verander is. Die kerk is binne elke Christen en word so deel van die wêreld.

Baie studente het gesê hulle het die kerk ervaar as ’n plek waar daar baie reëls en regulasies gemaak is om vir jou voor te skryf hoe jy moet leef. Daar is net een wet om te gehoorsaam binne die kerk: Wees lief. Wees lief vir jou naaste, jou meerdere en jou mindere. Wees lief vir God.

Om deel van die kerk te wees is om deel van ’n liefdesnetwerk te wees wat regoor die wêreld strek, reg om op verskeie maniere liefde aan die wêreld te bring.

Christene is die lig in die wêreld. In ’n soms donker, hopelose wêreld, is ons die ligpunte wat liefde en hoop aan ander gee. Soms doen ons dit met kos, soms met komberse of geselskap, soms met ’n glimlag.

God en die kerk is liefde. Om ’n Christen te wees is om liefde aan die wêreld te bring op enige manier moontlik.

Esté van Wyngaard is ’n lidmaat van die NG gemeente Piet Retief.