‘Om te gee is regtig lekkerder as om te ontvang’

Die bedrywigheid rondom die NG gemeente Villieria se kerkgebou is dié van enige lekker kerkbasaar.

Daar is ’n tou by die pannekoektafel en mense kuier oor koek by die teetuin. By die worsbroodjiestalletjie sukkel die braaiers om voor te bly. Langsaan is daar kerrie en rys. Daar is hoeveel potjies aan die prut vir middagete. Saam met die witolifanttafel in die saal is daar tafels vol klere. Om die draai is die tweedehandse boeke.

Kinders se gesigte word geverf, hulle baljaar op die springkasteel en gril in die spookhuis.

Die een groot verskil met ’n gewone kermis is dat geen geld hier hande verwissel nie. Op Villieria se gee-basaar is alles verniet. Jesus het mos gesê: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.”

Tafels vol klere by die gee-basaar. Daar sou selfs meer klere gewees het as die gemeente nie onlangs ’n klomp klere Knysna toe gestuur het nie.

Ds Derick du Toit gaan haal die verhaal in 2008 toe die gemeente ’n veertig-dae-oor-liefde gehou het. Dis toe dat die gedagte aan die gee-basaar ontstaan het – as ’n manier om die liefde prakties uit te leef. “Ons kan nie net praat nie, ons moet doen,” het Derick, sy kolle­ga, ds Rehan Rheeder, en van die lidmate vir mekaar gesê.

Sedertdien hou Villieria elke drie jaar ’n gee-basaar. Onlangs was dit hulle vierde een. En by só ’n basaar is almal welkom. Daar word uitnodigings gestuur na instansies soos kinderhuise en ouetehuise en skuilings vir armes. Lidmate nooi hulle huishulpe. Die gemeente adverteer nie die basaar nie, maar die woord versprei.

By die basaar herken De­rick ’n boemelaar wat langs die spruit bly wat deur die buurt vloei. Hy is ook wel­kom. Waar Echo se potte ge­stook word, word ’n bedelaar beduie waar hy kan gaan klere haal, en gesê dat die potjiekos teen 12:00 gereed sal wees. In dié konserwatie­we omgewing in Pretoria se Moot is die bonte mengelmoes van mense by die gee-basaar opsigself iets om jou oor te verwonder.

John Holland-Muter en Letitia Nel agter die koektafel help besoekers aan die gee-basaar.

Elke omgee- of ander groep wat ’n potjie vir midd­ag­­ete maak, maak vir dubbel soveel mense kos as wat hul­le self is. As daar 10 mense in die groep is, maak hul­le vir 20 kos. En as daar kos oor is, word dit gegee aan instansies waar daar nood is.

Die gee-basaar, vertel Derick, het hulle gemeente se kultuur verander. Mense het begin verstaan wat dit beteken om te gee sonder om iets terug te verwag.

Daar het nuwe mense by die gemeente begin aan­sluit. Hulle het gesien hierdie is nie ’n kerk wat net op sy eie behoeftes gerig is nie. Dis nie ’n kerk wie se prio­riteit die instandhouding van sy gebou is nie. Dis ’n kerk wat vir die gemeenskap om hom ’n baken van hoop geword het.

Selfs hulle vergaderings is anders, sê Derick, want hulle kultuur het verander.

Vroeër is die gemeente se visie geformuleer as: “’n Hand van liefde en hoop.” Nou sê hulle dit nederi­ger. Nou sê hulle hulle probéér ’n hand van liefde en hoop wees.

Aanvanklik was daar lidmate wat gewonder het of hulle by die gee-basaar saam mag eet aan al die lekkernye. Vir hulle is daar gesê hulle móét saam eet. As daar arm mense is wat kom kos kry, moet hulle nie arm voel nie. Een van die slagspreuke van die Echo-bediening in die gemeente is immers: “It is not about charity. It is about community.”

Dít sien ’n mens by die gee-basaar: ’n vrolike, brui­sende gemeenskap waar iets waar geword het van die uit­nodiging in Jesaja 55 om te kom koop sonder geld.

En soos Derick sê: “Om te gee is regtig lekkerder as om te ontvang.”