Kerkeenheid en multikulturaliteit

Wit Suid-Afrikaners sal teen 2030 ongeveer 3% van die land se totale bevolking uitmaak. So het prof Flip Smit, bekende de­mo­graaf, al twee jaar gelede voorspel. Hy’t ook gesê die getal witmense in Suid-Afrika neem vanweë ’n ne­ga­tiewe bevolkingsaanwas en emigrasie met onge­veer 40 000 persone per jaar af. Ook in Namibië word die wit bevolking toenemend ’n kleiner minderheid.

Teen hierdie agtergrond kon die Algemene Sinode nie in 2013 ’n beter besluit neem as dat die NG Kerk moet transformeer om ’n missionale kerk te word nie.

Missionaliteit beteken immers dat jy God volg in sy beweging in die wêreld. Dit beteken ook dat jy verstaan dat van die geboorte-uur van die kerk af taalgren­se oorgesteek is (Hand 2) om die evangelie die wêreld in te neem.

Dit beteken ook dat die Heilige Gees se gee van nu­we verbeelding, soos Petrus in Handelinge 2 verduidelik, beteken dat grense tussen mense oorgesteek word. Oud en jonk, man en vrou, ryk en arm word ingeneem in die beweging van die Gees na die wêreld. En die eer­ste verbeelding wat die Gees aan mense gegee het, so ver­tel Handelinge 2, is ’n nuwe soort gemeenskap waar­in die grense tussen ryk en arm ook deurbreek word.

’n Kerk kan met ’n keuse vir enkelkulturaliteit homself uitrangeer uit die groter bewegings van God in die land.

Indien die kerk sou kies om ’n slegs Afrikaanse kerk te wees, is die poel van mense met wie hy die evangelie in Afrikaans kan deel in Suid-Afrika en veral in Namibië natuurlik heelwat groter. Maar ’n besluit tot eentaligheid klop nie met die geboorteverhaal van die kerk nie. Dit klop ook nie met die soort verbeelding wat die Heilige Gees aan mense gee om oor grense te beweeg nie. Dit bly beperkend.

Vir baie jare was die kerk se enigste strategie vir die multikulturaliteit van ons lande om verskillende denominasies tot stand te bring.

Daarna het ons besluit om die kerk te verenig en om as een multikulturele kerk te bestaan met verskil­len­de kulturele gestaltes om die verskeidenheid van tale te akkommodeer. Ons het nou ’n tussenorde wat ons in staat gaan stel om dit reg te kry, ten minste tussen ons en die VG Kerk. Ons gaan aan die begin van volgende jaar baie hard begin werk om dit ’n werklikheid te maak.

Baie mense het oor die jare gesê hulle is ten gunste van kerkeenheid, maar die eenheid moet “van onder af” groei. Hulle het waarskynlik bedoel van die ge­meen­tes en ringe af, terwyl ons nie glo dat dit “onder” is in die kerk nie.

Die feit is egter dat ons nuwe strategie juis nou is om eerstens tussen gemeentes en ringe en sinodale strukture die eenwording van die kerk te sien gebeur.

Maar selfs kerkeenheid kan nie meer ons enigste strategie tot multikulturaliteit wees nie. Daar is reeds heelwat gemeentes wat hulle missionale roeping so ver­staan dat hulle dit moontlik maak vir mense van ander agtergronde en tale om deel te neem aan die aktiwiteite van die gemeente.

Moderne tegnologie maak dit byvoorbeeld moontlik om tolkdienste by eredienste en samekomste te hê. Ander gemeentes hou alternatiewe Engelse dienste. Ander hou dienste in ’n ander amptelike taal van die land. Daar word selfs ruimte gemaak vir die bediening van Chinese mense wat in ons land woon.

Waar ons voorheen ver moes reis om by mense van ander wêrelde te kom, het dié mense van hierdie wêrelde die afgelope jare tussen ons kom woon. Miljoene mense het uit Afrika hierheen geëmigreer. Gemeentes sal goed doen as hulle byvoorbeeld in Swahili of Chichewa bedieninge tot stand kan bring. Ons het regtig nou verbeelding nodig vir die “wêreld” op ons voorstoep.

Nie een van hierdie aksies hoef ons as kerk se ver­bon­denheid aan Afrikaans te bedreig nie. Afrikaans is immers die gebedstaal van die meeste van ons lidmate en dit sou net onregverdig wees om nie in jou eie taal die evangelie te kan hoor en deel nie.

Ons uitdaging is daarom nie om die een vir die ander te verruil nie, maar om die Heilige Gees te volg na waar Hy ons roep. En as dit beteken dat ons op nuwe ver­beeldingryke maniere taal- en kultuurgrense moet oorsteek, dan sal ons dit eenvoudig in gehoorsaamheid moet doen.

Daar is nou moontlikhede om hele gemeentes uit ander bevolkingsgroepe in ons geledere te akkommodeer. Daarom sal ons eenvoudig ook ons kerkorde mooi moet bekyk om seker te maak dat dit die inslui­ting van andersoortige geloofsgemeenskappe as die tradisionele, ondersteun.

’n Missionale kerk is ’n verbeeldingryke kerk. Kom ons bid dat die verbeelding wat die Gees gee ons almal buite die spreekwoordelike boksies waarin ons dink, sal neem sodat die koninkryk op ongekende maniere sal kom in Suider-Afrika.

Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.