Die mooiste Christelike gedigte in die soetste taal

DIE MOOISTE AFRIKAANSE CHRISTELIKE GEDIGTE

Saamgestel deur Cas Vos
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017


Cas Vos skryf in sy voorwoord: “Ons is op reis. Met ’n swart tas (vol gedigte) in die hand. Op ons reis maak ons van tyd tot tyd die swart tas oop. Dan blaai ons deur die gedigte, kyk weer daardeur, begin lees en skep moed. En ons weet: die wêreld is, in Totius se woorde, nie ons woning nie. Ons moet nog deur die diep rivier, die ‘donker stroom’, gaan. (…) Op ons reis is ons nie alleen nie. God is met ons op pad na die nuwe Jerusalem.”

Dis ’n besonderse bundel gedigte dié: van ou, amper vergete digters (DF Malherbe, AG Visser), tot Afri­kaans se grootste digmeesters (NP van Wyk Louw, DJ Opperman, Elisabeth Eybers, Ina Rousseau, TT Cloete), tot ’n jong geslag (Loftus Marais, Ronelda Kamfer, Nathan Trantaal).

Altesaam 86 digters, klein en groot, jonk en oud, Christen en moontlik nie-Christen, se werk kry plek onder die “mooiste Afrikaanse Christelike gedigte”.

Cas Vos het diep gedelf en oor die meeste gedigte wat in die bundel opgeneem is, sal nie gekibbel word nie: dit is van die “mooistes” in ons taal. Daar is wel, onvermydelik, ’n paar van (vir my) die allermooistes waarna ’n mens tevergeefs soek. Soos IL de Villiers se “By ’n sterwende kindjie”, en sy “Hoor jy die Paasfeesklokke?”

Of selfs Eitemal se “Die Begrafnis” en Koos du Ples­sis se “Somerkersfees” (sy pragtige “Gebed” is wel op­geneem).

Ek wonder ook of Cas Uys Krige se aangrypende “Lied van die Fascistiese bomwerpers” oorweeg het. Dit belig juis op digterlike wyse die tragiese keersy van wat ons as “Christelik” sou wou verstaan: die misbruik van die Christelike geloof om gruwelike ideologieë en politieke agendas te pas.

Maar die samesteller het nie klassiek-geworde Chris­telike gedigte misgekyk nie. Soos Totius se “Die Godsbesluit”, WEG Louw se “Opstanding”, Elisabeth Eybers se “Maria”, Sheila Cussons se “Maria”, Adam Small se “Kô, lat ons sing”, DJ Opperman se “Kersliedjie”. En ook Cas Vos se eie “Die Here is nie my herder nie” met die slotreëls: “Al slaan u stilte my stom,/ sal ek na U bly roep,/ ek, u weggooilam”.

Met die verskyning van Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte was daar by ’n paar digters ontstel­te­nis omdat hulle nie hulle werk as “Christelik” getipeer wil hê nie, en die uit­ge­wer se aanvanklike werk­titel vir die bundel, “Die mooiste Afrikaan­se geestelike gedigte”, hul­le meer aan­ge­staan het.

Dalk moes die uitge­wer en samesteller eers weer die dig­ters ge­raad­pleeg het voordat hulle die boek­titel verander het, maar dis jam­mer dat die ver­sky­ning van so ’n mooi bundel versuur word deur sulke klein­­serigheid. As van ’n mens se gedig­te as “Christelik” ge­sien kan word, is dit tog nie te sê jou hele oeuvre word daarmee in ’n keurslyf gedruk nie. Wie sou nou te kenne wil gee dat alles wat DJ Opperman gedig en geskryf het (hy is ook die skrywer van onder meer “Die kuns is boos”) “Christelik” was?

Cas Vos en die uitgewer het goed gedoen deur hier­die bundel saam te stel. Al is dit net om ons in die mooiste Afrikaans daaraan te herinner dat ons nie alleenreisigers onderweg na die Stad van God is nie.