Andrew Murray se pad met siekte, geloof en genesing

Seker die bekendste Suid-Afrikaanse kerk­man van die 19de en vroeë 20ste eeu (soos Desmond Tutu van die 20ste en vroeë 21ste eeu), is Andrew Murray wat van­jaar presies ’n eeu gelede op sy “het lieve Wel­lington” oorlede is. Hy het 89 jaar oud geword.

En wat het hy nie alles in die 89 jaar uitgerig nie! Murray was ’n vêrsiende onder­wysfiguur, vroom sendingman, praktiese strateeg, spiri­tuele mens, evangelis, herle­wingsgesinde, vriend van die jeug …

Hy was ’n begaafde en begeesterde kerkleier en ses keer moderator van die Kaapse Sinode van die NG Kerk. Hy was grondlêer van die sen­delingopleiding op Wellington, stigter van die Hugenote Seminarium (dees­­dae die Hu­ge­note Kollege) en die Hu­ge­note Meisie­skool as­ook ander mei­sie­skole.

Hy het meer as 200 boeke geskryf – baie wat vandag nog hier en in die buiteland her­drukke beleef. Hy was sonder twyfel ’n merkwaardige mens wat 100 jaar later nog sy invloed laat geld.

Hoe betrokke Murray by die destydse “sake van die dag” was, blyk onder meer uit sy brief aan die Britse Parlement kort voordat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het waarin hy “die regeerders en die volk van die grootste Christelike nasie ter wêreld smeek om nie oorlog te maak teen die jongste en kleinste van die vrye state, die Boere­republieke, nie.”

Maar die vroom Andrew Murray het nie skotvry deur die lewe gegaan nie. In 1880 het ’n ramp hom getref toe hy ’n ernstige keelaandoening ontwikkel het en hy twee jaar lank nie kon preek nie.

Dit was vir Murray ’n groot slag, want om te preek was ’n groot deel van sy mondering as predikant. Hy was nie net in sy gemeente (Wellington) bekend as prediker nie, maar oor die hele land. So het hy in 1879 kruis en dwars deur die Karoo getrek om op ’n tiental dorpe “opwekkingsdienste” te hou. Maar na die uitputtende toer is sy mond deur die keelaandoening letterlik gesnoer.

Op aandrang van sy kerkraad het hy in Mei 1882 besluit om na Europa te gaan en daar die beste beskikbare mediese behande­ling te kry. Op die boot het dit vir hom ’n kwelvraag geword of hy by sy plan moet hou om hom in Europa deur die beste me­dici te laat behandel, of hom eer­der moes wend tot die mense wat, soos hulle be­weer, die “gawe van gesondma­king” van die Here ontvang het.

In Londen aangekom, het hy aanvanklik by sy oorspronklike plan gebly en ’n beken­de keel­arts besoek wat medisyne voorge­skryf het en aanbeveel het dat hy ’n tydlank na ’n kouewaterbron digby Londen gaan.

Hy ontmoet toe ’n Switserse predikant, pastor Stockmair, die hoof van ’n inrigting vir geloofsgenesing. In gesprekke met Stock­mair het die Switser beklemtoon dat Jakobus 5:14 duidelik belowe dat die Here gelowiges se gebede sal verhoor en hulle van hulle siektes sal genees.

Murray was hierna daarvan oortuig dat hy sy volle gesondheid deur geloofsgenesing sou terugkry. Hy is daarom na ’n “huis vir geloofs­genesing” by Bethshan, gereed om die Here op sy woord te neem.

In briewe aan sy gemeente vertel hy hoe baie hy by Bethshan geleer het en beklemtoon hy dat geloof en oorgawe die voorvereistes vir geloofsgenesing is. By Bethshan, skryf hy, het hy geleer dat dit in geloofsge­nesing allereers om ’n beter en sterker ge­loof gaan en dat die genesing self eintlik van minder belang is. God wil ons bo alles ge­lowig laat wees en hy gebruik siekte en ge­nesing sodat dit kan gebeur. Hy het ook klem gelê op die verband wat tussen sonde en siekte bestaan.

Vir Andrew Murray het gebeur waarvoor hy gebid het. Hy het gesond geword. Te­rug op Wellington het hy ’n boek uitge­gee – Jezus, de Geneesheer der kranken – wat hy beskryf het as “een persoonlijke ge­tui­genis van mijn geloof”. Hierin is sy eie er­varing die aanknopingspunt van wat die Bybel na sy oortuiging oor geloofs­genesing leer.

Mettertyd het Murray tog al hoe meer be­wus geword van geldige besware teen se­ke­re as­pekte van geloofsgenesing soos hy dit verstaan het. Niks het hom meer onder die indruk hiervan gebring as die siekte van sy aan­ge­troude neef, ds Pieter Hugo van Pear­ston, nie.

Murray en die neef was goeie vriende en die siekte van Hugo, tering, het hom diep ontstel. Hy het egter vas geglo dat Hugo weer gesond sou word – en die vroom en toegewyde Hugo was ook daarvan seker. En omdat hy die begin­sels van geloofsgene­sing soos deur Murray ver­staan, ten volle aanvaar het, het Hugo by voor­baat geglo dat hy genees is en saam met Murray ’n vermoeiende reis deur die midde-Karoo on­der­neem. Hy het die reis blykbaar goed deur­staan, maar is tog kort na sy tuis­koms oorlede.

Hoewel Murray ook hierna en tot aan die einde van sy lewe die basiese beginsels van ge­loofsgenesing gehandhaaf het, het hy toegegee dat dit nie op alle gelowiges van toe­passing is nie. Hy het ook ingesien dat daar dikwels (meest­al!) nie ’n lyn getrek kan word van ’n be­paalde sonde na ’n bepaalde siekte nie.

Self het Murray nooit mediese middels afgewys nie en dit tot by sy dood ook gebruik … al was dit net om sy kinders tevrede te stel, soos hy ’n slag gesê het. Murray het aanvaar dat God van mediese middels gebruik kan maak om ’n sieke te genees, maar dit end-uit beklemtoon dat God dit ook daarsónder kan doen.

Andrew Murray het leer verstaan dat God soms heeltemal anders te werk gaan as wat ook die vroomstes onder ons dit wil hê.     

▶ Dr Frits Gaum is voorsitter van die Andrew Murray-prysfonds.