Maatskaplike dienste vra deelnemende betrokkenheid

Die kerk se professionele maatskaplike dienste wil nader beweeg aan ge­meentes en deel wees van die missionale diakonaat wat uit gemeen­tes gedoen word.

Dit is van die gedagtes wat na vore gekom het tydens ’n konferensie van twee dae wat die Kerklike Maatskaplike Diensteraad (KMDR) gehou het.

Dr Botha van Aarde, uitvoerende beampte van die KMDR, sê die pro­fes­sio­nele maatskaplike dienste – soos die Christelik-Maatskaplike Rade en die pro­fes­sionele dienste in die vorm van tehuise vir bejaardes, kinderhuise en instellings vir gestremdes – het in die middel van die vorige eeu uit die hart van die kerk ont­staan.

Onder die vaandel van die verskillende sinodes se kommissies vir die diens van barmhartigheid het dié dienste lank terselfdertyd gefunksioneer as kom­mis­sies van die kerk én as geregistreerde maatskaplike dienste.

Aan die einde van die vorige eeu het ’n nuwe bedeling aangebreek waarin dié dienste almal moes registreer as nie-winsgewende organisasies. Dit het vir hulle ’n onafhanklikheid gebring van die kerk, maar daarmee saam ook ’n mate van vervreemding. Soms het die gemeentes se maatskaplike dienste en die pro­fes­sionele dienste selfs teenoor mekaar te staan gekom.

Dit is hierdie afstand wat hulle nou wil oorbrug. “Ons wil die gemeente se sop­kombuis en die maatskaplike werker se kinderbeskermingswerk as ele­men­te van ’n geïntegreerde bediening verstaan,” sê Van Aarde.

Daarom het die konferensie ’n agenda vir verandering opgestel waarmee die verteenwoordigers van die verskillende maatskaplike dienste na hulle organi­sasies sal teruggaan om van hulle kant af nader aan die kerk te probeer kom.

Vir gemeentes vra Van Aarde dat hulle die maatskaplike dienste sal sien as deel van die kerk se missionale werk in die wêreld. In praktiese terme beteken dit dat hulle vra dat die gemeentes betrokke moet raak by die dienste. Daarmee vra hulle nie bloot vir finansiële ondersteuning nie, sê Van Aarde. Hulle vra vir deelnemende betrokkenheid.