André neem jou op reis deur die Reformasie

Binnekort verskyn Geloof alleen, ’n boek wat geïnspireer is deur die herden­king van die Reformasie 500 jaar gelede, by die uitgewer Naledi. Dit is ’n versame­ling reisverhale na die plek­ke waar die Reformasie afgespeel het en waar die rimpelinge van dié geskiedenis uitgespoel het. NEELS JACKSON het met die skrywer, André Pretorius, gesels.


André Pretorius (42) se geloofswortels lê in die NG Kerk op Marble Hall, waar hy grootgeword het.

Van Marble Hall af is hy Tukkies toe, waar hy van 1993 tot 1995 die graad BComm (regte) gedoen het. En toe is hy, soos baie Afrikaanse jong mense destyds, Londen toe. Eintlik wou hy ’n jaar lank toer, en om dit te finansier het hy as boekhouer gewerk.

In Londen het hy besluit om ’n graad in regte aan Cambridge te doen. Daarna het hy as prokureur in mededingingsreg begin werk.

Intussen het hy ook vir Theresa, ’n toegewyde Katoliek uit Oos-Londen, in Cambridge ontmoet. Hulle is getroud en het ’n seuntjie, Daniel, wat André se reisgenoot geword het op verskeie van die reise wat hy in Geloof alleen beskryf.

Oor homself sê André dat hy in die NG Kerk grootgeword het en in ’n sekere sin nog daar is. Hy beskryf homself as “privaat gelowig”. Maar hy was ook nuuskierig oor ander maniere van dink en op sy reise het hy die Katolieke Kerk in Spanje en Italië leer ken, en “die aantreklike en die vreemde” daarin gesien.

Dat hy skrywer geword het, het eintlik ook so terloops gekom. Hy het in 1995 vir Beeld ’n artikel geskryf oor die “Nazi-jagter”, Simon Wiesenthal. Later het hy vir By, die bylaag tot die Afrikaanse koerante, begin reisverhale skryf om geld te verdien.

En toe word hy deur ’n uitgewer ge­vra om ’n boek daarvan te maak. Geloof alleen is die vierde boek wat uit sy pen verskyn. Vroeër was daar ook Iets ver en nuut (2010), Eilande en enklaves (2012) en Italiaanse intermezzi (2016).

Vra ’n mens hom, is hy nie seker waar die gedagte aan ’n boek met reisverhale wat verband hou met die Kerkhervorming vandaan kom nie. Hy weet hy wou altyd Wittenberg toe gaan.

Sy liefde vir geskiedenis wat hy as skoolvak en ekstra universiteitsvak geneem het, het sekerlik ’n rol gespeel. Sy huwelik met Theresa, wat meegebring het dat hy op ’n manier aan weerskante leef van die skeids­lyn wat die Hervorming gebring het ook.

Hy was geïnteresseerd in die figuur van Martin Luther. “Luther het gewone mense gevra om fundamenteel anders te dink,” sê hy.

Dit was so twee-en-’n-half jaar gelede dat hy besluit het om die boek te doen. In daardie stadium het hy reeds ’n klomp van die plekke besoek wat belangrik sou wees vir die boek. Toe het hy egter doelbewus begin reis om by al die ander plekke uit te kom.

Van Londen af is dit natuurlik baie makliker as wat dit uit Suid-Afrika sou wees. ’n Mens kan byvoorbeeld vir ’n naweek Wittenberg toe of elders in Europa heen gaan.

Een van die merkwaardige aspekte van die boek, is die wye kyk op gebeure. Dink ’n mens aan die Reformasie, kom plekke soos Wittenberg en Genève dadelik in ’n mens se ge­dagtes op. Dit is tog waar Luther en Cal­vyn geleef en gewerk het.

Maar André kyk baie breër, want die Reformasie het nie net oor kerklike leer gegaan nie. Uiteindelik het dit maniere van lewe gevorm. Die manier waarop mense na die lewe sou kyk, is vir geslagte daarna gestempel deur die verloop van die geskiedenis.

Iets daarvan beleef ’n mens as André jou op reis neem na Leiden in Nederland om die spore van die skilder Rembrandt te gaan naloop. En as hy jou neem na ’n uitstalling van skilderye van, aan die een kant Rembrandt, ’n kind van die Hervorming, en aan die ander kant Caravaggio, uit die Katolieke Italië.

Die leser reis ook mee op die spore van Ignatius van Lojola, die stigter van die Genootskap van Jesus (die Jesuïete) wat die Katolieke teenhervorming sou lei. En André voer jou saam na waar die rimpelings van die geskiedenis van die kerkhervorming later teen verre kuste sou aanspoel: Goa in Indië byvoorbeeld, waar­van­daan Franciskus Xavier, met Jesuïtiese ywer ’n groot sendingveldtog in die Verre Ooste in sou voer; en Boston, Massachusetts, waar die Puriteinse “foun­d­ing fathers” van wat die Verenigde State van Amerika sou word, ’n nuwe gemeenskap gaan vorm het.

Miskien een van die lekkerste episodes in die boek speel af in Genève, waar André by ’n straatkafee ’n Cal­vinus-bier op die spyskaart sien, dit bestel en homself ’n hele gesprek met Calvyn verbeel.

Daarvoor moet hy vir prof Dirkie Smit dankie sê, lag hy. Dié het vir hom ’n boek met verbeelde ge­sprek­ke met Martin Luther aanbeveel. Daar is die saad­jie geplant vir die verbeelde gesprek met Calvyn.

Hy was senuweeagtig oor hoe dié stuk sou werk, sê André, klaarblyklik verlig dat iemand dink dit lees lek­ker.

Uiteindelik, sê André, is Geloof alleen ’n reisboek. Dit is nie ’n geskiedenisboek nie. Dis ook nie ’n teologiese boek nie.

Hoe ook al. Dit is ’n wonderlike aanwins tot die herden­king van ’n ingrypende stuk geskiedenis wat ’n halwe millennium gelede begin ontvou het.