Frits mis die punt

Jean Oosthuizen skryf:

Frits Gaum kla in die jongste Kerkbode my radioprogram Uit ’n ander hoek lê volgens hom nie genoeg klem op die ánder kant nie. Hy vergelyk die program met programme soos Praat Saam, Oop gesprek en soortgelyke besprekingsprogramme. Frits mis die punt en ook die doel van die program. Uit ’n ander hoek se doel was nooit om ’n besprekingsprogram te wees soos Praat Saam of Oop gesprek nie.

Uit ’n ander hoek se doel is nie om twee uiteenlopende standpunte teen mekaar op te weeg nie. Die doel is om standpunte wat gewoonlik buite die godsdienstige hoofstroom en kerklike dogma val onder die luisteraars se aandag te bring sodat almal vanuit ’n ander hoek kan hoor hoe lyk alternatiewe spiritualiteit en self besluit wat hulle daarvan maak of dink.

Standpunte en geloofsoortuigings wat oor die algemeen buite die hoofstroomgodsdiens val word belig en bespreek. Dit sluit in standpunte van naturaliste, agnostici, ateïste, Boeddhiste, Hindoes, Christene en ook ander. Nie elke keer hoe Frits of die kerk daaroor dink nie. Ons wéét hoe hulle dink.

Uit ’n ander hoek is nie ’n Christelike program nie maar ’n sekulêre program waar mense vanuit verskillende hoeke deelneem met die klem juis op daardie standpunte wat normaalweg nie blootstelling kry in die hoofstroomgodsdiens nie.

As Frits na die programme Uit ’n ander hoek geluister het, sou hy geweet het daar was ook verskeie deelnemers uit die Christelike tradisie met hoë aansien wat deelgeneem het.

Wanneer Frits pleit vir balans moet hy miskien by die kerk self begin waar daar dikwels slegs vanuit een hoek gepreek word sonder dat daar ook ’n ander kant gestel word. Of dalk moet hy die SABC vra dat daar na elk van die talle preke en ander godsdiensprogramme ook kans gegee word vir agnostici, ateïste ens om daarop te reageer.

En hoekom sou Frits in elk geval wou hê die kerk moet aan sulke gesprekke deelneem? In sy boek God op soek? skryf hy met verwysing na die Woordfees van 2013 daar kan nie van die kerk verwag word om deel te neem aan ’n gesprek waar geen grense gestel word nie. So ’n wawyd openheid vir nuwe idees sou volgens hom ’n “toegewing” van die kerk se kant wees wat verwagtings skep waaraan die kerk nie kan voldoen nie.

Uit ’n ander hoek voldoen juis aan daardie verwagtings waarvoor die NG Kerk nie kans gesien het nie naamlik gesprek sonder grense.