Reformasie 500

Die kerkhervorming wat 500 jaar gelede by Martin Luther en sy 95 stellinge begin het, bied heelwat rede tot viering.

Ons vier die herontdekking van God se genade. Ons vier die redding deur die geloof wat God aan ons skenk. Ons vier die hernude fokus op die Skrif. En ons vier die insig dat Christus ons enigste Verlosser is. Ons vier dit alles tot eer van God.

Maar die Reformasiefees bied ook geleentheid tot selfondersoek, om te sien of ons werklik nog slegs vir Christus volg en ons slegs deur sy Woord laat lei. Want terwyl ons die hand van God in die Reformasie kan herken, was dit ook ’n deeglik menslike stuk geskiede­nis wat sy skadukante gehad het.

Een van die skadukante was die versplintering van die kerk in die spreekwoordelike 1001 denominasies.

Dít ten spyte daarvan dat Jesus Christus volgens Johannes 17 gebid het dat sy volgelinge een moet wees, “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het”. Dít ten spyte daarvan dat die Skrif – waaroor ons graag sê “Sola Scriptura” – vir ons die koers van eenheid aandui.

Teen dié agtergrond is dit goed dat daar verskeie inisiatiewe op dreef kom om groter eenheid tussen kerke te bewerkstellig: in die NG Kerkfamilie, onder meer deur die tussenorde; met die Hervormde Kerk; met Engelse kerke.

Hierdie ontwikkelings is rede tot dankbaarheid, maar dit bied ook geleenthede wat aangegryp moet word.

Veral nou, met die viering van die Reformasie, word die NG Kerk ook geroep om getrou te wees aan sy erfe­nis, om altyd ooreenkomstig die Skrif te bly reformeer. In praktyk vra dit van die NG Kerk se gemeentes, ringe en sinodes om skouer aan die wiel te sit vir groter kerk­eenheid.