Kuns en skoene bring ryker verstaan van God en mens

“Dis lente, tyd van nuwe dinge. Ook Koninkrykstyd, tyd om in die Koning se ryk te werk; elkeen op sy eie manier met eie gawes.” So sê ds Peet Bester van die NG gemeente Fransch­hoek. Hulle het in September ’n lentefees gevier, met die tema: Lewende Water. ANNALISE WIID het daar gaan drink uit ’n verbeel­dingryke kunsfontein.


Die mooie Franschhoekvallei is self ’n skildery in die lente – pienkbloeiselboorde, witkalk­huise, die vrolike deurskyngroen van die jong wingerde – omraam van berge, goddelik blou. In die hart van dié historiese dorp, die poskaartprentjiekerk: Deure oopgegooi vir die plaaslike gemeenskap, sowel as vir kameraklikkende oorsese toeriste.

Hierdie lentefees was hulle eerste probeerslag. ’n Droom uit gemeentelid Herman du Plessis se hart. Hy is ’n ingenieur. Ook kunstige fotograaf. Veral die Se­der­berge se rotsformasies, die lig, die teksture daar, fas­sineer hom. Hy het gedink: “Kom ons hou ’n uitstalling in die kerk, van plaaslike skilders en beeldhouers. En ons kry sangers – maar nie om te kom konsert hou nie, om met ons te kom gesels oor hulle krea­tiewe reis …”

Die uiteinde was drie agtereenvolgende Sondae se in­siggewende en inspirerende lied-en lewe-gesprekke: Neil Büchner, Lize Beekman, ds Peet Bester, Herman du Plessis, Ingrid Maritz (mede-organiseerder) en die uwe, om ’n lang, eerlike, houttafel. ’n Erediens van spon­tane gesels in ’n ruimte waar mens en God mekaar kan ráák.

Onder: Ingrid Maritz staan by die Dankbaarheid-skoenuitstalling in die konsistorie. Voor haar is ds Peet Bester se stapstewel wat hy gedra het op Communitas se Pelgrimstog van Hoop. Met daar langsaan sy seuntjieskoentjie van toe hy klein was en nog nie geweet het watter groot skoene hy eendag sou vol staan nie.

Die kunstenaars het vertel van hulle eerste bewus-word van hulle talent. Hoe hulle dit verder ontgin het; wie hulle rolmodelle was; watter temas oor die jare in hulle kom nesmaak het. En van vormende lewenservarings – waarvan sommige besonder moeilik was, maar wat kreatiwiteit betref, uiters vrugbaar. Lidmate het die gesprekke as “warm, ontspanne, intiem, persoonlik, gemaklik en hartlik” ervaar.

“Die ‘rustic’ tafel se eenvoud en ook onafgewerktheid was vir my ’n mooi metafoor vir die geleentheid,” sê Neil Büchner. “Alles is nie altyd perfek nie; jy deel wat jy het; jy lê jou broosheid neer; jy kuier saam en dra by tot ’n gesprek; en almal het iets om na die tafel toe te bring (nie net die genooide kunstenaar nie).”

Óm die gesprek, het die kerkruim vol gehang van kwilte, foto’s, sketse, akriel-, water- en olieverfskil­de­rye, beeldhouwerke. ’n Ruimte vol waagstukke: mense wat hulle binnestes voor ander blootlê. “Wat is die doel, die funksie van kuns?” vra ds Peet daardie eerste Sondag. Iewers het ek gelees: “The main function of art is to make you feel.”

Peet sê: “Die kerkgebou is ’n plek van inspirasie. En die droom was/is om dit op ’n vars manier te beklemtoon. My rol was om die drie Sondae se kunstenaars te kry en die erediens ook in die tema in te trek. Die idee met die besoekende kunstenaars was: Ons wil hul gawes en talente gebruik om hopelik mense hulle eie waarde te laat besef en om kreatiwiteit aan te moedig en te waardeer. Daarom het ons gekies vir gesprek. Dit was waarlik ’n ervaring dat ons sý stem in die kunste­naars gehoor het.”

Herman vertel: “Die ervarings was in elke opsig so diep en so anders as wat ek kon droom. Tydens die aanloop tot die lentefees, het voorbehoude oor die tipe kuns en kunstenaars wat mag inkom, tot diep ge­sprekke gelei, waar ek soveel van myself en God se ko­ninkryk geleer het: ’n Mens is mos geneig om alle eende wat nie van ons dam is nie, as ‘verkeerd’ te sien. Ook by ons is hierdie stryd tog te lekker aan die gang. Dié wat met mag en mening aan die ou tradisies klou, glo dié wat vernuwing aanpak is op ’n onheilige pad. Die individualiste en avonturiers sien op hulle beurt die tradisionaliste as ’n ergenis.

Met hierdie gehawende kinderskoentjie loof ’n ma die Here vir haar twee kinders, aan die hand van Ingrid se vertelling dat mense in die Ou-Testamentiese tyd dít wat vir hulle kosbaar was op hulle skoensole gegraveer het.

“Maar eintlik is God se koninkryk ’n reusenetwerk van paaie wat al hierdie verskille oorbrug – dit is ’n koninkryk van méér as verdraagsaamheid; van ‘wees lief vir mekaar!’ Liefde beteken dat ek ook uit jou kultuur, jou standpunt, uit jou manier van glo sal leer en ook daarin God se hart sal sien.

“Kritiek het as slypskool gedien. Soms moes ek net ’n bietjie stil staan, reflekteer, en besef: ‘It is not about me!’ Die kerk is juis daar vir mense wat om een of ander rede ’n seer of ’n onsekerheid ronddra.

“Dat ek heeltemal uit my gemaksone was, is ’n reuse understatement! Die avontuur was groter as die mens – en dit is hoe dit hoort. Die terugvoer was oorweldi­gend positief. Ek is baie dankbaar vir wat dit vir ander beteken het.”

Franschhoek se lentefees het lidmate inderdaad geïnspireer om hulle eie menswees met meer waag­moed te verken. Soos Michael Card sing: “Life is a song we must sing with our days / so look in the mirror and pray for the grace / to tear off the mask, see the art of your face …”

In ander se skoene

Dit was nie net Franschhoek se kerkruim wat kuns­lokaal geword het nie. Ook die konsistorie is omskep tot ’n belewenis. Een met die gevoel van ‘trek uit jou skoene, die grond hier is heilig …’

Op lang houttafels, staan hulle uitgestal: Mense se stories in die vorm van ’n verskeidenheid skoene. Stap­stewels en somersandale. Balletskoene. Spesiale 5-toon-oefenskoene. ’n Dogtertjie se houtklompe. Trou-, werk-, dans- en kerkskoene. Bedsokkies – hand­gebrei, van sagte pienk wol. Hoë hakke, nerf-af neuse, gevlekte leer. Army boots – wat nooit ’n landmyn afgetrap het nie. Sommige van die skoene het net hier ter plaatse geloop. Ander het canyons en kontinente deurkruis.

By elke skoen is ’n mens se naam: Andries Hugo, Tienie Fourie, Johan Viljoen, Adrienne Bester, mevrou Malherbe, anoniem. ’n Sendingverpleegster, ’n diplomaat, ’n Two Oceans- en Comrades-atleet … Mense, regte mense se regte, waardevolle, wonderlike, vrees­aanjaende stories. Party het hulle stories binne-in die skoen geskryf. Ander s’n lê langsaan. In ’n trouskoen lê nog ’n bietjie van toekatyd se bont konfetti.

’n Mens glimlag oor Sanet Badenhorst se beskrywing van haar sandale: “naked plastic cubic zirconia fake gold”! ’n Swart seuntjie-skoentjie lê op ’n helder­kleurige Kuifie-boek. Met die deurstap hoor jou verbeelding vet kleutervoetjies tip-tip-tip in ’n gang af hardloop; jong soldate ritmies marsjeer, in gehoorsame gelid: knars, knars, knars. Klassieke musiek vul ’n ouditorium: ’n ballerina draai en val. Die uitstalling laat jou mense se onuitwisbare hartsoomblikke beleef. “Treasures found and lost …” skryf een langs sy skoen.

Dit ruk my terug na die Yad Vashem Holocaust Museum in Jerusalem waar ’n mens – nadat jy jou reeds verstom het aan die toenemende vervolging van ’n volksgroep – opeens oor ’n glasblad loop. En onder jou voetehonderde skoene. Sommer net op ’n hoop gegooi. Gesmyt. Skoene van leer. Of lap. Afgeleef, ópgedra. Elke skoen die stom getuie van ’n mens met ’n storie. Mans, vroue, begaafdes, verliefdes, geleerdes – wat in die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp gesterf het. Argeloos eenkant toe gegooi, afgemaak as onbe­langrik. Gaskamer-onbenullig.

Franschhoek se skoenuitstalling is die teenpool: Dit wil juis mense se waarde onderstreep en vier. Ingrid Maritz het kunsgeskiedenis, kommunikasie en drama studeer. Later radio- en televisiewerk gedoen. Sy vertel: “Hierdie fees was vir my regtig ’n heerlike verrassende ervaring, en deurgaans ’n bo verwagting opbouende, verrykende ondervinding gewees. Dit het my ook gehelp om weer my eie kreatiewe voete te vind.

“Die idee van ’n skoenuitstalling het ontspring na aanleiding van ’n preek van ds Jan van Zyl oor Moses en die brandende bos waar hy sy skoene moes uittrek. Daar het ek gehoor dat in die Ou-Testamentiese tye dit ’n gebruik was om jou besittings aan die binnekant van jou sool uit te graveer. Tipe van ’n inventaris. Jou skoene was dus ’n baie belangrike simbool van jou identiteit. En status.

Herman du Plessis, oorstelp van blydskap dat sy droom, om ’n lentefees met kuns in die kerk te hou, so wonderlik waar geword het. Agter hom is een van die foto’s wat hy in die Sederberge geneem het, uitgestal bokant die agterste kerkbanke.

“Dit het my verbeelding aangegryp. Ds Van Zyl het vir my ’n nommer gegee van ’n afgetrede professor in Antieke studies, prof Henriette van Winsen. En met haar het ek ’n twee uur lange gesprek gehad. Daar is ’n vrou wat verstommende kennis het!

“Ná ons gesprek was ek oortuig om voort te gaan met die dankbaarheid-skoene projek. Op daardie stadium het ek nie geweet hoe om dit aan te pak nie, maar ek het gewéét ek moet net voortgaan … dinge sal wel in plek val.

“Omdat ons lentefees se tema gebaseer is op dankbaarheid en ons ons stories met mekaar wil deel, het ek gevra dat elkeen ’n skoen moet kies wat ’n gedagte van dankbaarheid opdiep. Dit kon enige skoen wees, draf, werk, stewel … En wat ’n verrassing was dit om al die skoene te kry. En die kosbare stories!

“Dit was regtig so ’n verdiepende belewenis om hier­die skoene te sien, uit te stal en daarmee te werk, en nog meer van ’n verrassing hoeveel aandag dit geniet het. Mense, toeriste het gestop en gekyk en was elk op ’n manier aangeraak deur die skoene. En die feit dat mens die skoene kon optel en hanteer …

“Almal kan identifiseer met skoene. Herinneringe van liefde, swaarkry, die sweet van drafskoene, die angs van oorlog. Almal het dit begryp en ek het dít nie voorsien nie. Mense het spontaan gesels en gedeel. Dit was die seën waarop ons gehoop het”, sê Ingrid dankbaar.

Idiome soos “sy hart sink in sy skoene” en “om die stoute skoene aan te trek” trap dae ná die uitstalling nog spore in my kop. Ek bedink ook weer die ou waarheid, dat om in iemand anders se skoene te staan of eers ’n ent daarin te loop, begrip en waardering bevor­der. Dit laat jou met ander, oper oë, kyk. Sodat jy nie blindelings oordeel nie. Maar met groter empatie leef en laat leef.