Om gereformeerd te wees, vra waagmoed

Aan die bopunt van Hugenotelaan in Fransch­hoek staan die Hugenote-monument. Dit is in die laat veertigerjare van die vorige eeu opgerig om ons te herinner aan die 180 Franse Hugenote wat in 1688 na Suid-Afrika gekom het.

Die drie imponerende gewels van die monument sim­boliseer die Drie-eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees. Bokant die gewels – die son van geregtigheid en bo­kant die son – die kruis as simbool van die Christeli­ke geloof wat vir die Hugenote ononderhandelbaar was.

Die fokuspunt van die monument is ’n vroulike fi­guur, ontwerp deur Coert Steynberg, wat godsdiensvry­heid uitbeeld. In haar een hand hou sy ’n Bybel en in die ander hand ’n gebreekte ketting. Sy gooi die kleed van onderdrukking van haar skouers af terwyl haar posisie op die aardbol geestelike vryheid simboliseer. Die fleur de lis op haar kleed dui op haar edel karakter.

Sy staan met haar voete op die suidpunt van Afrika en kyk afwagtend die toekoms in. By haar voete is vier simbole: die Bybel wat op geloof dui, ’n harp wat kuns en kultuur simboliseer, ’n koringaar en ’n druiwetros wat landbou simboliseer en ’n spinwiel wat nywerheid en industrie versinnebeeld.

Die watervywer voor die monument met die weer­kaatsing van die suilegang voor die monument simboliseer ongestoorde gemoedsrus en sielevrede na ’n tyd van stryd en woeling.

Wat sou dit alles beteken in die jaar waarin ons 500 jaar van gereformeerd-wees herdenk?

Miskien vertel die simboliek van die monument aan ons dat gereformeerd-wees waagmoed vra, dat gereformeerd wees nie ’n krampagtige vasklou aan ou leerstellings en dogmas is nie maar dat dit waagmoed vra om nuwe horisonne te verken soos wat die Hugenote gedoen het.

Miskien daag die simboliek van die monument ons uit om seker te maak dat die Woord sentraal is in ons kerkwees. Dat dit ons vrymaak van ons eie voor­keure en vooroordele sodat ons met oorgawe kan sê: Sola Scriptura en Solus Christus.

Miskien daag die simboliek van die monument ons uit om met waagmoed te gaan kerk wees waar kuns en kul­tuur beoefen word, in die landbou en waar daar in ny­werhede gewerk word – om met waagmoed onver­skrok­ke gestuurdes te wees wat die evangelie verkondig in ’n land wat swaar gebuk gaan onder misdaad en korrup­sie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.