’n Kerk wat niks dien nie, dien tot niks

In die NG Kerk verskil ons soms op baie maniere van mekaar. Tog is daar een ding waaroor ons van die kleinste gemeente op die platteland, deur die grootste gemeente in die stad, tot by die strukture van die Algemene Sinode, saamstem: die tyd en konteks waarin ons leef vra dat ons ’n nuwe manier van kerkwees sal moet oorweeg. Nie dat ons ou maniere van kerkwees geheel en al nie meer werk nie – daaroor vier ons Refo 500! Maar die ou manie­re werk net nie meer oral ewe goed nie.

Om weer te reformeer, hierdie keer na ’n missionale kerk, is een van die maniere waarop ons op ’n nuwe manier kerk kan wees in die tyd en konteks van ons dag.

’n Nuwe (of is dit die ou, regte) manier van kerkwees vra natuurlik nuwe taal! Daarom verwys ons na die nuwe (ou, regte) manier van kerkwees as missionaliteit en praat ons van die nuwe (ou, regte) manier van betrokkenheid in die wêreld as missio­nale diakonaat.

Missionale diakonaat is om in jou eie omgewing by die nood van mense betrokke te wees. Die Neder­landse teoloog, Sake Stoppels, sê dit gaan oor die handelinge vanuit die kerk … wat gerig is op die voorkoming, opheffing, vermindering van sosiaal-maatskaplike nood van individue en groepe (gemeenskappe), sowel as die skep van reg­verdige verhoudings.

En Willie van der Merwe vat dit saam deur te sê dit gaan in alles oor die herstel van God se koninkryk!

Wat beteken dit alles?

Dit gaan hier oor individuele lidmate en projekte/programme vanuit die kerk. Ons roeping om deel te neem aan God se ingryping in die wêreld, dryf ons! As ons vertrekpunt, gemeentelik en individueel, nie die hoogtepunt van God se sending in die wêreld – die kruis van Jesus – is nie, is dit nie missionale diakonaat nie.

Voorkom sosiaal-maatskaplike nood. Begin sommer by die kategese. Om nood op te hef of ten minste te verminder, moet ons die oorsake daarvan verstaan. En soms is lyding nie op te hef nie, maar laat ons mense ook nie in die steek nie. Dan is dit hand-vashou en uithou met die nood en lyding van mense in ons omgewing.

Sosiaal-maatskaplike nood sluit natuurlik die volle spektrum van nood in. Dit gaan inderdaad oor die eksistensiële lewensbestaan van individue en groepe of gemeenskappe. Dit gaan dus oor enigiets wat mense se bestaan as geskape beeld van God bedreig. Daarom gaan dit ook oor die omgewing waarin ons leef!

En ons weet dat die diepste oorsake van alle sosiaal-maatskaplike nood in gebreekte verhoudings lê. Daarom verwys Sake Stoppels na die skep van regverdige verhoudings. Dit gaan dus oor die genesing van ons samelewing en die sosiaal-maatskaplike sisteme waarin ons leef. En daarom sê Willie van der Merwe dit gaan alles uiteindelik oor die herstel van die koninkryk van God.

Ons is almal diakens omdat ons almal geroep is. Dié woord beteken dat ons almal diensknegte (Jesus se houding), bemiddelaars (bemiddel ’n beter be­staan) en verteenwoordigers (God se ambassadeurs) is. Missionale diakonaat is nie ’n skyfie in die kerklike lemoen nie, maar die sap wat smaak daar­aan gee. ’n Kerk wat niks dien nie, dien tot niks.

Dr Botha van Aarde is die uitvoerende beampte van die Kerklike Maatskaplike Diensteraad.