Die geskenk van gemeenskap

“Gays moet hulle eie kerk stig.”

Hierdie standpunt is meermale laat hoor in die gesprek oor selfdegeslagverhoudings. Tog laat dit ernstige vrae oor kerkbegrip ont­staan, veral wanneer dit aangebied word as ’n soort oplossing tot onderlinge meningsverskil binne die kerk. Word kerkwees dan deur seksuele oriëntasie bepaal? Of gender? Of ras? Kultuur? Taal? Dalk politieke affiliasie? Werk? Geld? Opvoeding? Rugbyspan?

Daar is báie maniere waarop die kerk onderling verdeel sou kón word. Daar is uiteraard ook baie ma­niere waarop die kerk oor die eeue heen, en oor die wê­reld heen, verdeel ís. ’n Gebrek aan verdelings, gebrokenheid, en geskeurdheid is daar beslis nie – verál nie in gereformeerde kerke in Suid-Afrika nie. Méér voorstelle vir hoe ons onsself van mekaar kan weghou is werklik onnodig.

Sulke voorstelle is ook onverantwoordelik. Kato­lie­ke sou ons rondom vanjaar se Reformasievieringe daar­aan herinner dat die Reformasie juis nie ’n bron van feesviering behoort te wees nie, want daarmee het die kerk geskeur en sedertdien nie ophou skeur nie. Jesus bid immers sy dissipels “volkome eenheid” toe – nie ter wille van hulle eie voorkeure nie, maar “sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het” (Joh 17).

’n Paar weke gelede het die Anglikaans-Gereformeerde Dialoog – ’n amptelike bilaterale dialoog tussen die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke en die Anglikaanse Gemeenskap – in Suid-Afrika ontmoet. Die gesprek, wat teoloë van regoor die wêreld be­trek, het gehandel oor die aard van ons gemeenskap­likheid (communio). Wat bind ons aan mekaar? Wat maak van ons een, heilige, algemene, Christelike kerk? En hoe sou so iets moontlik kon lyk?

’n Kernoortuiging wat by hierdie vergadering verwoord is, is dat communio ’n geskenk is. Ons samekoms is geanker in die belydenis dat ons eenheid ’n gawe van die drie-enige God is. Die Belharbelydenis herinner ons daaraan dat ons één God en Vader het; dat ons van één Gees deurdrenk is; dat ons van één brood eet en één beker drink; dat ons met één doop gedoop is; dat ons één Naam bely; dat ons aan één Heer gehoorsaam is.

En “niemand het die reg om hom daarvan af te skei nie”, waarsku die Nederlandse Geloofsbelydenis, want dit is deur geloof alléén wat ons deel wórd en deel blý van die kerk.

Dit behels ’n aantal implikasies vir hoe ons dink oor die kerk as gemeenskap.

Eerstens, ons skep nie gemeenskap nie. Ons ís een, al wil ons dit ook nie altyd wees nie, omdat Gód een is. Hier­die geskenk bevry ons van ons eindelose po­gings om die kerk bymekaar te probeer hou; want Christus alléén regeer oor die kerk deur Woord en Gees.

Tweedens, ons besit nie die geskenk van gemeenskap nie. Ons álmal ontvang hierdie geskenk, uit ge­na­de alléén, van God. Hierdie geskenk leer ons om mekaar te omarm; want die kerk behoort nie aan ons nie. Ons behoort aan Christus. Ons is die liggaam van Chris­tus.

Derdens, ons het nie alleenreg op die geskenk van gemeenskap nie. Ons déél hierdie geskenk met ander. Hierdie geskenk nooi ons na die nagmaalstafel, waarheen Christus alle mense uitnooi. Dit is ons nie be­sko­re om mense weg te wys nie, want dit is Christus se tafel.

Terselfdertyd moet ons vra na watter soort gemeenskaplikheid in ons kerke teenwoordig is. Is ons verbondenheid versmorend, of etiketterend, of diskriminerend? Gee dit lewe, of ontken dit lewe? Ons kan im­mers vir bose, sondige, en verwronge redes óók by­eenkom. Eenheid is opsigself geen waarborg van ons Christelikheid nie. Ons kán ook verenig wees in ons vrees, in ons haat, in ons angs. En ons sóú kon te­rug­trek “in nouer verbande van bloed en groep” (Her­vor­mingsdaggetuienis 2017). Dink maar aan Char­lottes­ville. Of Nashville.

Die kerk ontvang gemeenskap egter as ’n gawe én ’n opdrag. Ons behoort daarom diep na te dink oor wát ons aan mekaar bind en hóé ons daaraan uitdrukking gee. As ons verbondenheid, of gemeenskaplikheid, of samekoms met mekaar en met ander kerke ’n genadegawe van God is – is dit moontlik om ékstra grense rond­om die kerk op te trek? Kan enigiets búiten ge­na­de ons inlyf in die gemeenskap van heiliges?

“Die grense van die kerk word deur niks anders gevorm as die genade van God nie,” argumenteer Willie Jonker alreeds in sy proefskrif (1955). As sulks is nóg ons ras, nóg ons gender, nóg ons seksualiteit, gronde vir ons gemeenskaplikheid. Die kerk is nié die gemeenskap van heteroseksueles nie. Die kerk is die gemeenskap van begenadigdes.

“Gays moet hulle eie kerk stig.” Mag hierdie woorde nóóit weer oor ons lippe kom nie.

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.