So word Jesus se liefde ’n werklikheid

Bibberend van die koue sit sy onder haar snoe­si­ge kombersie. “Môre juffrou, môre maats,” sê hulle almal met ’n tikkie geborgenheid saam. 

Sy sit langs ’n seuntjie met ’n ander velkleur as sy, maar vir haar is hy net nog ’n klasmaat. Sy loer na hom aan haar linkerkant en hoor sy tande onwillekeu­rig houtkappertjie speel. Sonder om twee keer te dink lig sy die punt van haar kombersie en trek dit ook oor sy beentjies. Sy glimlag gemaklik met die situa­sie. Hy glimlag.

Ek glimlag met ’n traan in my oog. ’n Traan vol hoop vir ’n nuwe Suid-Afrika. ’n Suid-Afrika wat iets laat deurskemer van die wonderlike lig van die koninkryk van God.

Ek staan daar as verteenwoordiger van Echo Kids reg om die kinders van Jesus te leer. Tog staan ek daar met woorde wat in my keel vas­steek. Ewe skielik voel al my fyn voorbereide woorde leeg. Die woor­de voel tingerig en dun in die teenwoordigheid van hierdie pragtige gebaar van liefde. Daar is niks meer oor om te sê nie. Niks om by te voeg om Jesus se liefde bietjie duideliker in te kleur nie. 

Ek stap na ’n halfuur uit die klas diep bewus van die feit dat ek by die voete van Gamaliël gesit het. Jesus het in die klas ’n beurt gekry om te praat. Nie deur hoë woorde en slim praatjies nie maar deur die opregte uitleef van Jesus se liefde. Ja, Jesus het met my gepraat. 

Sy het nie ’n woord gebruik nie. Sy het nie oor haar skouer geloer om te kyk wie sien nie. Sy het nie haar hand opgesteek om ’n slim antwoord te gee nie. Sy het bloot Jesus se liefde op ’n eenvoudige, opregte manier uitgeleef. 

Nou skryf ek hierdie rubriek slegs met woorde, sinne en idees tot my beskikking.

Dit is amper soos om vir my hond te sê ek is lief vir haar. Sy verstaan nie daardie taal nie. Sy verstaan wel die kos wat elke oggend in haar bak lê. Sy verstaan die baldadige speel in die tuin. Sy verstaan die knus lê teen aan my lyf.

Jesus se liefde is te kragtig, te wonderlik, te kosbaar om met woorde reg daaraan te laat geskied. Eenvoudige liefdesdade soos dié van die dogtertjie met haar “bersie” laat Jesus se liefde weer tasbaar en werklik word.

Ds Madelein Strydom is verbonde aan die NG gemeente Villieria en Echo Jeugontwikkeling.