Alles kom tot niks

Die Kerkhervorming van die sestiende eeu het nie net verreikende gevolge op die teologiese en intel­lek­tuele ontwikkeling van die Wes­terse sa­me­lewing gehad nie, maar het ook ’n groot in­­vloed op die ontwikkeling van die kunste gehad.

Hierdie invloed hou basies verband met die Refor­ma­sie as ’n reaksiebeweging teen die uitwasse en ver­gry­pe van die laat-Mid­del­eeuse Katolieke Kerk. Voormalige Katolieke kerkgeboue en katedrale is gestroop van die oordadige kunswerke waarmee dit versier was, en in die proses is heelwat waar­devolle kunsskatte be­ska­dig of vernie­tig. Teenoor die oordaad van vroeër is die binneruimtes van kerke sober en eenvoudig inge­rig met ’n fokus op die kansel as die plek waarvandaan die Woordverkondiging plaasgevind het. Waar daar wel van kuns­werke gebruik gemaak is, is dit tot die mi­ni­mum beperk en was die maatstaf wat aan­gelê is, of dit bydra tot die verkondiging van die evangelie.

Die oortuiging wat deur verskeie van die Hervor­mers gehuldig is dat godsdienstige uitbeeldings kan aanleiding gee tot afgodery in die vorm van beelde­diens, het meegebring dat daar oor die algemeen in Pro­testantse gebiede ’n afname in religieuse kuns was, en veral in die uitbeelding van tonele wat verband hou met die lewe en dood van Jesus. Dit was tot ’n groter mate die geval in gebiede waar die Gereformeerdes die botoon gevoer het, as in die Lutherse en Anglikaanse invloedsfeer.

Cornelis Norbertus Gijsbrechts se Vanitas, ook uit die sewentiende eeu. Hy voeg die koringare by as simbool van die nagmaalbrood en daarmee die nuwe verlos­singslewe in Christus.

Kunswerke wat geskep is, was oor die algemeen op ’n kleiner skaal en in eenvoudiger stylvorms. Daar was ’n besondere voorliefde vir etse, houtsneedrukwerk, por­­tretstudies en alledaagse tonele uit die lewe van gewone mense.

Een van die genres wat in hierdie tyd ontwikkel het, was die sogenaamde Vanitas-stillewes wat veral in Pro­testantse Ne­derland in die sestiende en sewentien­de eeu besonderse gewildheid verwerf het. Die naam van hierdie genre is afgelei van die frase “Vanitas vanitatis” wat die Latynse weergawe is van die woorde in Pre­diker 1:2 wat in Afrikaans vertaal word as: “Alles kom tot niks.” Hierdie stillewes is dan ook bedoel as alle­goriese uitbeeldings van die ver­ganklikheid en sinloosheid van die mens en sy/haar aardse strewes.

As allegorie word hierdie stillewes saam­gestel uit ’n reeks objekte wat deur hulle simboliese betekenis gesamentlik ’n bepaalde boodskap oor­dra. In hierdie stillewes het elk­een van die objekte wat uitgebeeld word, ’n eie be­te­kenis wat verband hou met die sentrale tema van die verganklikheid en beperktheid van die aardse lewe.

’n Treffende voorbeeld van hierdie genre is die skildery van die Neder­land­se kuns­tenaar Harmen van Steen­wyck (1612-1656) wat hiernaas af­gedruk word. In hierdie werk word die volgende objekte saam met die sen­trale simbool van die skedel as simbole van verganklikheid aange­wend: boeke as simbool van menslike kennis, mu­siek­in­stru­mente (’n blokfluit, ’n hobo en ’n luit) as simbool van sintuiglike genot, eksotiese ver­samelaarsitems (’n Japannese swaard, kos­bare sydoeke en ’n fyn afgewerkte skulp) as simbool van rykdom, ’n tydmeter as simbool van beperktheid van tyd, ’n erdekruik en ’n feitlik uitgedoofde geelkoperlamp as simbole van weerloosheid en breekbaarheid, en ’n ske­del as simbool van die onafwendbaarheid van die dood. Die ongeordende pla­sing van al hierdie objekte be­vestig die boodskap dat die aardse lewe uiteindelik betekenisloos is in die lig van die dood.

’n Moderne Vanitas wat protesteer teen die verbruikerskultuur.

In sommige Vanitas-stillewes word daar teenoor hier­die eensydige klem op die verganklikheid en sinloosheid van die aardse lewe ook van simbole van die opstanding en die ewige lewe gebruik gemaak. ’n Voor­beeld hiervan is die skildery van Cornelis Norbertus Gijsbrechts wat ook hiernaas afgedruk is. In hierdie werk waarin daar ook verskeie simbole van aard­se verganklikheid voorkom (’n bierbeker, ’n uurglas wat omgeval het, ’n viool en ’n kers wat byna uitge­brand het), is daar ook ’n paar koringare wat dien as simbool van die nagmaalbrood en as sulks verwys na die nuwe verlos­singslewe in Christus wat as sinryke teenvoeter dien vir die leegheid en beperktheid van al die menslike pogings om betekenis aan die lewe te gee.

Dit is opvallend dat daar ook ’n resente tendens is om die Vanitas-genre aan te wend as proteskuns teen die oordadigheid en die oppervlakkigheid van die verbrui­kerskultuur van ons tyd. In die derde kuns­werk (van ’n onbekende kunstenaar) wat hierby afgedruk word, vind hierdie protes uitdrukking in die uitbeel­dings van eietydse simbole soos kitskos, kitskoffie, gaskoel­drank en bier wat kitsbevrediging verskaf, en sigarette wat byna uitgebrand het.

’n Mens sou hierdie tendens kon sien as ’n herbenutting van ’n motief uit die tyd van die Reformasie om opnuut te wys op die leegheid wat kenmerkend is van soveel van die dinge wat deur mense nagejaag word in ’n poging om sin aan die vervlietende lewe te gee. ’n Eietydse manier om te sê: reformata reformanda est – dit wat eenmaal hervorm is, moet altyd weer nuut hervorm word.