Hoe gaan die kerk van 2037 lyk?

Hoe lyk die toekoms van die Afrikaanse kerke, en hoe kan die toekoms lyk? Dit is die vrae waarmee dr Barry Tolmay, moderator van die NG Kerk in Kwa­Zulu-Natal, gewerk het en waarmee hy onlangs sy tweede doktorsgraad verwerf het. NEELS JACKSON het met hom gesels.


Gemeentes is in die praktyk vasgevang in ’n eng spiritualiteit waarvan hulle nie ontslae kan raak nie, sê Tolmay. Hy praat van ’n “vreemde konserwatisme en gereformeerdheid” wat hy tydens konsultasie en fasilitering by gemeentes aangetref het.

Om die groter prentjie te verstaan en om ’n weg uit dié impasse te verkry, skets Tolmay drie verskillende paradigmas van kerklike denke. Die eerste beskryf die kerk van die 1970’s, die tweede beskryf die skuif wat na die politieke oorgang van die vroeë 1990’s gekom het, en in die derde kyk hy vooruit na die kerk van 2037, twee dekades van nou af.

In die 1970’s, sê Tolmay, is Afrikaners se kerklike lewe gekenmerk deur die neo-Calvinisme. Daar was ’n burgerlike godsdiens weens die vermenging van Chris­telikheid en nasionalisme. Kerke is gekenmerk deur orde en prosedure. Die tug is deeglik toegepas en dit is dikwels as liefdeloos ervaar.

Gemeentes is gekontroleer deur eenvormige stan­daar­de en beginsels was belangriker as verhoudings. Eredienste het ’n vaste liturgie gehad en kerkraadslede – dit was destyds net mans – het swart pakke en wit dasse gedra. Vroue se plek was in die vrouediens.

Sendingwerk is deur sinodes gedoen en vriendskap­pe oor die kleurgrens heen het in die slag gebly.

Met die politieke oorgang van 1994 in Suid-Afrika, het daar ’n verskuiwing gekom van ’n Christelik-­Nasionale en neo-Calivinistiese benadering na ’n libe­rale demokrasie, maar dít, sê Tolmay, het tot ’n oor­bluft­heid gely.

Baie Afrikaners het nie verstaan wat ’n liberale demokrasie is nie. Die skok was vir hulle te veel. Daar was ’n verlamming wat tot 2004 geduur het. In die pro­ses is ’n klomp goeie lidmate weg uit Suid-Afrika.

Die nuwe paradigma was gegrond op vryheid, gelykheid en menswaardigheid, maar baie Afrikaanse lidmate kon hulle nie met dié paradigma vereenselwig nie. “Ons het vasgeval in die dongas van verandering,” sê Tolmay.

Gemeentes het ook gesukkel om die verandering te hanteer, en in baie gevalle het die kerk gemeentes toegemaak.

Ander elemente van die skuif wat gekom het, was ’n oorgang van modernisme na post-modernisme, van linkerbreindenke na regterbreindenke.

Daarby het die Westerse individualisme ’n teelaarde gebied vir sekularisasie. Mense het persoonlike vryheid gekry en party het die keuse na sekulariteit toe gemaak. Mense het meer privaat en selfstandig geword.

Veral te midde van die verarming van die blanke middelklas, het daar ’n strewe na persoonlike welvaart ontwaak. Geld het belangriker geword, mense het harder begin werk en daar was minder tyd in hul le­we oor vir geloof.

Met dié dat die regulerende Calvi­nisme plek gemaak het vir ’n oop samele­wing, kon mense begin keuses maak.

Dit werk soos ’n uitpakslaai, verduidelik Tolmay. ’n Klomp mense skep van dieselfde slaai, maar een kies die olywe, die feta en die tamaties. ’n Ander skep kom­kom­mer, pynappel en tamaties en ’n der­de kies slaaiblare, pynappel en feta.

So het mense ook kerklike keuses begin maak. Daarom dat jy kon kry dat iemand ’n erediens bywoon by die NG Kerk, inskakel by ’n kleingroep van Doxa Deo en op ’n uitreik gaan saam met die Bikers’ Church.

Dat mense kerk toe kom wanneer dit hulle pas, maak die kerklike strukture seer. Kerkbywoning het geval. Mense het begin kies vir geloofskombinasies wat hul­le pas, maar dis nie hoe die strukture gewerk het nie. Die struktuur is afhanklik van bydraes, maar as kerkbywoning val, dan val bydraes ook.

Die gevolg is dat kerklike strukture al meer wankelrig geword het. Daar is meer onsekerheid en, sê Tolmay, dit gaan nog meer so word.

Wat nou van die toekoms?

As die NG Kerk op die ou patroon voortgaan, dan is die waarskynlike toekoms dat die kerk al kleiner gaan word, dat baie gemeentes gaan toemaak en dat fi­nansiële nood die kerk gaan uitput, sê Tolmay.

Maar daar is ’n ander moontlikheid, ’n verkieslike toekoms. Om daar uit te kom moet die kerk ’n visie stel en stappe ontwerp om daar uit te kom.

Tolmay skets ’n prentjie van ’n aanpasbare kerk waar liefde en deernis in die sentrum staan. Dis ’n prentjie waarin Afrikaners nie wit eilande vorm nie, maar waar gemeentes magnete word wat mense in ’n gebroke wêreld aantrek.

Die uitpakslaai wat hy voorsien, is een waar die kerk vir mense met verskillende spiritualiteite voorsiening maak: ’n spiritualiteit wat veral fokus op die Bybel as Woord van God, een waarin mense deur die gawes van die Gees aangetrek word, ’n stil spiritualiteit en ’n spiritualiteit waarin mense hulle geloof in sosiale aksies uitleef.

Al vier hierdie spiritualiteite dring mense na die liefde toe, sê Tolmay.

Hoe kan die kerk daarby uitkom?

Tolmay sê missionale kerkwees is die roete. Gemeentes moet betrokke raak by armoede. Aanpasbaar­heid is belangrik. Blote tegniese veranderinge gaan nie genoeg wees nie.