“Wees vrugbaar en vermeerder” – opdrag of keuse?

“Wees vrugbaar en vermeerder” – met dié oorgelewerde volgorde van ons Ou Testament soos ons dit het, is dit die eerste woorde wat God tot die mens rig (Gen 1:28). Deur die eeue heen is hierdie opdrag deur godsdiens­tige gemeenskappe as ’n Godgegewe opdrag om voort te plant beskou, terwyl kinderloosheid as buite die “normale” beoordeel is.

Die getroude staat word deur gemeenskappe oor geloofs- en kultuurgrense heen as ideale staat beskou. Die gevolg is dat bitter min mense hulleself die vraag afvra of hulle moet trou. Eweneens vra bitter min getroude paartjies hulleself of hulle noodwendig móét kin­­ders hê. Vandag nog frons mense oor diegene wat kies om nie te trou nie, terwyl voortplanting selfs in die sogenaamde gay-debat dikwels ter sprake kom. Pare wat bewustelik ’n keuse maak om nie kinders te hê nie, se keuse word ten beste as vreemd beskou, maar meermale as ongehoorsaamheid aan God se wil.

Indien ’n mens dié opdrag en soortgelyke opdragte in Ou-Testamentiese tekste binne hulle konteks lees, is die beskouing dat Genesis 1:28 ’n ewig en altyd geldende opdrag aan alle mense is, nie so voor die hand­liggend nie. Beide Noag en Jakob hoor byvoorbeeld dat hulle vrugbaar moet wees en vermeerder, maar dit nadat hulle reeds ’n nageslag verwek het.

Daarbenewens word hierdie seën slegs gegee aan individue wat aan die begin van ’n betekenisvolle ge­slags­register staan – die eerste mens, Noag, Abraham en Jakob. Na die geboorte van Jakob se kinders ont­vang niemand weer die opdrag om “vrugbaar” te wees, en te “vermeerder” nie.

Daar is talle karakters en dan in besonder vroue van wie daar nie gesê word dat hulle ooit ’n nageslag gehad het nie. Dink byvoorbeeld aan Dina, Miriam en Debora. Hulle word nêrens veroordeel vir hulle oënskynlike kinderloosheid nie. Selfs in van die bekende gevalle in die Ou Testament waar ons lees dat vroue (aanvanklik) onvrugbaar was (Sara, Rebekka, Ragel en Hanna) lees ons nêrens dat dit verband gehou het met die een of ander vorm van straf of oordeel nie. Hulle is eenvoudig onvrugbaar.

Daar is geen twyfel dat die Ou Testament oor die algemeen vrugbaarheid as seën beskou nie, maar ’n verabsolutering van Genesis 1:28 as Goddelike opdrag het daartoe gelei dat kinderlose mense soms as randfigure hanteer word, en in bepaalde gevalle benadeel word.

’n Kritiese (ondersoekende) lees van Ou-Testamentiese gegewens dui daarop dat geloofsgemeenskappe ’n oorvereenvoudigde beskouing van voortplanting het en dat alle Ou-Testamentiese gegewens nie genoegsaam in gesprekke oor voortplanting en kinderloosheid aan die orde kom nie.

Dr Fanie Cronjé is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.