Bieg is ’n ‘vergete genademiddel’

Dr Rassie van Niekerk is ’n emeritusleraar van Pretoria wat ’n groot deel van sy bediening aan die pastoraat gewy het. Teen die agtergrond van die Reformasie van 500 jaar gelede, pleit hy dat die kerk opnuut moet kyk na die bieg. Neels Jackson berig.


Die bieg, die volksnaam vir die “sakrament van boetvaardigheid”, is een van die sewe sakramente van die Katolieke Kerk. Met die Reformasie van die sestiende en sewentiende eeu het die Protestante weggedoen met vyf daarvan en net twee, die doop en die nagmaal, behou.

Wanneer dr Rassie van Niekerk pleit dat die bieg weer deel van Protestantse gelowiges se lewe moet word, vra hy nie dat kerke soos die NG Kerk nou ruimte moet maak vir ’n derde sakrament nie. Nee, hy vra bloot dat ’n vergete pastorale instrument weer afgestof en gebruik moet word.

Die kerkhervormer Martin Luther self wou nie afstand doen van die bieg nie, sê Van Niekerk. Hy verwys na Luther se “Invokavitpredigten“. Dit was ’n reeks preke wat Luther in die Lydenstyd van 1522 in Wittenberg gelewer het. Luther self het die vorige maande in Wartburg geskuil en in sy afwesigheid was daar leiers wat na Luther se gevoel die hervorming te vinnig en te ver gedruk het. In dié reeks preke bring hy perspektief.

In die laaste van die agt preke praat Luther oor verskillende vorme van skuldbelydenis: dié teenoor ’n medemens, dié direk teenoor God, en dan die bieg. Luther het dit daarteen dat die pous hierdie soort skuldbelydenis as ’n verpligting op mense afgedwing het. Nogtans, sê hy, sal hy niemand toelaat om die bieg van hom af weg te neem nie. Hy sal dit nie vir al die skatte in die wêreld prysgee nie. As die bieg hom nie staande gehou het nie, sou die duiwel hom lankal ondergekry het, verklaar Luther.

Van Niekerk verwys ook na die Duitse teoloog ­Dietrich Bonhoeffer wat in sy boek Gemeinsame Leben (Engels: Living together) uitvoerig skryf oor hoe dit die gemeenskap van gelowiges dien as gelowiges hul sondes in ’n medegelowige se teenwoordigheid hard­op bely.

Maar soos dit ’n goeie Protestant betaam, beroep Van Niekerk hom op die Skrif. Hy verwys na voorbeel­de waar Jesus mense se sonde vergewe het en hoe Hy in sy afskeidswoorde in Johannes 20:21 aan sy dissi­pels sê: “Soos my Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Meer nog. In die volgende verse sê Jesus: “Ont­vang die Heilige Gees! As julle vir mense hulle sondes vergewe, word hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Daardeur, sê Van Niekerk, is ’n bediening aan gelo­wiges opgedra wat in Protestantse kringe agterweë bly.

Hy sien die gevolge daarvan dat die bieg nie in Pro­testantse kringe benut word nie: “Mense verwyt hulle­self hul lewe lank oor dinge wat hulle gedoen het.”

Van Niekerk sê ook hy het syfers gesien wat toon dat daar meer gevalle van selfdood onder Protestante is as onder Katolieke. Katolieke, sê hy, beleef bevryding as ’n priester hulle namens God vryspreek. Sonder die bieg sit Protestante dikwels opgeskeep met hulle skuld.

Hy vertel hoe hy jare gelede een Maandagoggend in ’n hospitaalsaal ses of sewe jongmense van tussen 18 en 22 gekry het wat elkeen afsonderlik die vorige middag hulle eie lewe probeer beëindig het. Dit het gegaan oor skuldgevoelens.

Die bieg, sê Van Niekerk, is nie ’n dwang of ver­plig­ting nie. Dis nie ’n moet nie. Maar dit is ’n pastorale moont­likheid. In die woorde van ’n Sweedse biskop: “’n vergete genademiddel”.

Dit hoef nie ’n predikant of priester te wees teenoor wie ’n gelowige bieg nie. Dit kán ’n predikant wees, maar dit kan ook ’n gewone medegelowige wees. Van Niekerk dink wel dit is goed as ’n man teenoor ’n ander man en ’n vrou teenoor ’n ander vrou bieg.

Belangrik, onverhandelbaar, ’n sine qua non vir die bieg, is egter absolute vertroue. Die persoon wat sy of haar sonde bely, moet weet dat die persoon in wie se teenwoordigheid hy of sy dit doen, nooit met iemand anders daaroor sal praat nie.

Daarby is daar stilte nodig. Daar moenie telefone lui of troeteldiere wees wat pla nie. ’n Kapel of gebeds­kamer is ’n geskikte ruimte. Die twee persone moet ook nie vir mekaar kyk nie, maar kan saam op byvoorbeeld ’n kruis fokus.

Van Niekerk stel ’n kort liturgie voor waarin die “biegvader” die biegtende verwelkom en sê dat daar in die hemel vreugde is oor elke sondaar wat sy of haar sonde bely. Dan bid hy en daarna bespreek hulle kortliks die skuld wat die biegtende belas. In dié stadium kan die twee saam ’n boetepsalm soos Psalm 52 bid. Dan kniel die twee en die biegvader nooi die ander persoon om voor God te sê watter skuld hy of sy wil bely. As die persoon die skuld bely het en om vergifnis gevra het, spreek die biegvader namens God vergifnis en vryspraak uit en vra of die ander persoon glo dat dit God se vergifnis is. Met ’n kort woord van bemoedi­ging en aanmoediging om te getuig, is die proses afgehandel.

Van Niekerk sê hy het in sy bediening ’n aantal mense so gehelp – en dit het werklik ’n verskil gemaak. Dit was nie baie nie, dalk 10, maar hy sê Luther en Bonhoeffer was van mening dat dit baie meer dikwels behoort te gebeur.